Ek het ‘n hengse ding oor seisoenaal eet. Die hele groei wat jy weet/ gee om vir die wêreld/ omhels hasies storie werk nogal vir my. Maar jene, hier twee derdes deur die winter, kan ek nie meer met al die appels en pere nie. As ek dan aarbeie op die rak sien en die prys is nie te sleg nie, vlieg al my vrome aardmoeder voornemens by die deur uit en ek kóóp. Aarbeie en room is ‘n gunsteling – as ek in my bikini (jy wil dit nie sien nie) langs die swembad sit en dis 30°C, níé in Augustus nie. Dan soek ek nog so ietsie warms. Hoe dan gemaak? ‘n Warm krummelbolaag is die antwoord. Koue, sagte vars aarbeie met hulle belofte van somer om die draai, die kontrasterende knars van warm gemmerkrummels en dik, dik room, ekstra spesiaal gemaak met vanielje.

Al wat jy nodig het is…

500g vars aarbeie
250ml ekstra dik vars room (Woolies het dit)
3E strooisuiker
1 vanieljepeul
80g yskoue botter, in klein blokkies gesny
60g hawer (rolled oats)
60g koekmeel
25g bruinsuiker
25g witsuiker
¼t gemme

Voorverhit jou oond to 170°C. Was en sny die aarbei in kwarte. Sit in ‘n groot bak en strooi 2 eetlepels strooisuiker oor. Sit opsy. Sit die botter, hawer, koekmeel, bruinsuiker, witsuiker en gemmer in ‘n groot bak. Vryf die botter deur die mengsel met die punte van jou vingers totdat die mengsel soos groot krummels lyk. (As jy ‘n voedselverwerker het, blits die lot sommer daarin, dis soveel vinniger.) Skep nou die krummels op ‘n vlak bakplaat gevoer met bakpapier. Ek hou daarvan om sulke hompies in my hand saam te druk sodat ek groter krummels het. Bak dit vir sowat 20-25 minute tot goudbruin. Meng intussen jou room met 1 eetlepel strooisuiker. Sny die vanieljepeul in die lengte oop, skraap die piepklein swart saadjies uit en voeg hulle ook by die room. Bedien die aarbeie met room en ‘n stewige skep warm gemmerkrummels.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

25 min

scroll-main

goed om te weet

Tuisgemaakte vanieljesuiker

As jy eers die saadjies uitgeskraap het, het ‘n vanieljepeul steeds ‘n nut. Ek sit myne in ‘n bottel met strooisuiker of suiker. Die peul geur mettertyd die suiker. Deesdae verkoop so te sê enige groot supermark vanieljepeule. As jy nie kan kry nie, kan jy Nomu se Vanilla Paste gebruik vir hierdie resep. Moet net nie goedkoop vanielje-essens gebruik nie. Dis so na aan regte vanielje as wat ek aan ‘n supermodel is. Hou dan maar liefs verby.

lekker saam met

Aarbeie sê vir my net een ding, sjampanje! Ons mag natuurlik nie ons s’n sjampanje noem nie. Die Franse sal freak.

MCC (Méthode Cap Classique) is ons weergawe van hierdie wonderborrels en ons maak uitstekendes.

Probeer Simonsig se Kaapse Vonkel Rosé met sy delikate aarbe i op die tong en roos op die neus.

Simonsig Kaapse Vonkel Rosé

scroll-main

Ook beskikbaar in: English