Affogato. Dissie ’n vloekwoord (soos in, ‘ag affogato jou ook man’) nie. Nee, dis Italiaans vir ‘verdrink’ en verwys na een van die heerlikste 2-minuut poedings wat jy kan kry. Dis net vanielje-roomys ‘verdrink’ in sterk, warm espresso-koffie. Sommige mense gooi bietjie haselneut-likeur soos Frangelico ook by. En hoekom dan nou nie. So eenvoudig, maar tog te lekker.

Onlangs sit ek oor ’n bak affogato en tob oor Kersdag. As kind was die Kersdag maal in my familie altyd ’n ‘klaasie’ storie. Tjops op die braai, drieboon-slaai, aartappelslaai, koekstruif en ’n 5L bak vanielje-roomys met vrugteslaai gemaak van geblikte perskes en koejawels. Jip, sommer baie klaasie.

En dit sit my toe aan die dink. Hoe kan ek roomys en vrugte omtower in iets uitspattigs vir Kersdag? Toe meng ek roomys en espresso, en skep dit in individuele sjokolade vorms. En ek doop ryprooi kersies in eetbare silwer stof. En ek strooi ‘glitter’ oor, en silwer balletjies, en sommer versiersuiker ook. Uitspattig verby en net reg vir Kersfees langs die swembad

Al wat jy nodig het is…

melksjokolade of donker sjokolade, gesmelt
goeie vanielje-roomys
sterk espresso-koffie, afgekoel
vars kersies
eetbare silwer stof en ‘glitter’
eetbare silwer balletjies
versiersuiker

Gebruik ’n kwassie om sjokolade vormpies met die gesmelte sjokolade te verf. (Loer hier vir my wenk om sjokolade sonder moeite te smelt.) Sit in die vrieskas om hard te word en herhaal. Laat die roomys net sag genoeg word om dit te kan roer en meng ’n paar eetlepels van die espresso by. (Proe hoeveel van ’n koffiesmaak jy verkies en sit meer by indien verlang). Skep die roomys in die sjokolade vormpies in en skep laastens nog sjokolade oor om die roomys te seël. Vries tot benodig. Was en droog die kersies af en dip hulle liggies in die silwer stof. Sit die lot op ’n lieflike groot silwer of wit bord en strooi silwer ‘glitter’, silwer balletjies en versiersuiker oor. Tog te fraai. Geseënde Kersfees!

vooraf

20 min

kook

2 min

vries

1 uur

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir hierdie resep
  1. Laat die koffie uit en meng gekapte pekanneute en ‘n bietjie kaneel by die roomys. Vervang die kersies met perskes en appelkose.
  2. Laat die koffie uit en meng gekapte groenamandel (‘pistachio’ neute) by en bedien dit met ryp vye en bloubessies.

Die sleutel met ‘n vrugtebord wat elegant is, is om die kleurskema eenvoudig te hou en nie meer as twee kleure op die bord te hê nie – dink rooi en geel, of rooi en blou, of geel en groen.

lekker saam met

Ons is bitter gelukkig om in ‘n land te bly waar fantastiese borrels goedkoop is. Ons mag ons s’n natuurlik nie sjampanje noem nie, want die Franse gee om. Ons weergawe, Méthode Cap Classique, is egter enige dag so goed as die beste wat Frankryk het. Ek het onlangs die geleentheid gehad om op eend aand al drie die MCC vonkelwyne wat Laborie maak te proe, en wat ‘n fees is hulle nie. Daar’s ‘n Brut Rosé MCC (R98 aanlyn), ‘n Brut MCC (R85 aanlyn) en ‘n 100% Chardonnay Blanc de Blanc MCC.

Al drie is wonderlik en fantastiese waarde vir geld. Maar my keuse by my affogato roomyskoekies is Laborie se pryswenner Blanc de Blanc.

Dis kompleks en elegant, romerig en rond met lieflike haselneut en ‘n sweempie lemmetjie. ‘n Absolute wenner teen R100.

Laborie

scroll-main

Ook beskikbaar in: English