Die Kaap het weer vir ons wintertande gewys hierdie afgelope naweek, met droewige, bewolkte koue reënweer. Ek kyk met verlangende oë na die 28 grade van Pretoria op die weervoorspelling en steek maar ’n kaggel aan. En ek hark ’n paar van ouma se ou kookboeke nader op soek na inspirasie. Daar’s sommer ’n hele paar bitter eienaardige resepte in haar spinnekop-krabbel handskriffie. Goed soos gestolde wortelslaai.

Kyk die dag wat ek gelatien by gerasperde wortels neuk en dit slaai noem het nog nie aangebreek nie. Gaan ook nie. Maar so tussen die kopkrap 1970s resepte is daar ook juwele – soos hierdie appel botterkoek. Dis nie ’n veerligte sponskoek hierdie nie, hy het ietwat meer om die lyf – dis klam, krummelrig en pure appel en botter. Hierdie botterkoek is beslis beste op die dag wat jy hom bak. Bedien dit nog effe louwarm sodat daai klam botterigheid kan skitter. As jy dit vir tee voorsit, is soet geklopte room met ’n skeut brandwyn by ’n goeie idee. En as jy dit vir nagereg bedien is warm vla waarvoor hy vra.

Al wat jy nodig het is…

2½ koppies koekmeel
4t bakpoeier
klein knippie sout
½ koppie suiker
250g yskoue gesoute botter (Lurpak, of Kerrygold of Woolies s’n – niks anders is goed genoeg nie)
½ koppie melk
2 jumbo-groote eiers
1½t vanielje essens
3 Granny Smith appels
derde koppie suiker, effens opgehoop
1 teelepel kaneel, effens opgehoop

Voorverhit jou oond tot 200 grade Celsius. Sif die meel, sout en bakpoeier saam in ’n groot mengbak. Voeg die halwe koppie suiker by. Sny 50g van die botter af en hou dit eenkant. Vat dan die orige 200g botter (ek weet dit klink eienaardig, maar dit werk!) en rasper dit by die meel in. (Wenk: as die botter te warm raak en moeilik rasper, plaas dit in die vrieskas vir ’n paar minute.)
Gebruik ’n vurk om die gerasperde botter by die meelmengsel in te roer.

Klits die eier, melk en vanielje saam en voeg dit by die meel en botter mengsel. Gebruik ’n vurk om dit te meng. Dit sal aanvanklik baie klonterig wees maar die lotjie kom tog op die einde bymekaar. Sproei ’n 20cm losbodem koekpan met Spray ’n Cook en skep die deeg in – dis ’n redelike stywe deeg. Skil en halveer die appels, sny die stronk uit en sny appel in dun skywe. Bedek die deeg met die appels.

Smelt die orige 50g botter en roer die derde koppie suiker en kaneel by dit in. Sprinkel dié mengsel oor die appels. Bak vir 30-40 minute. Toets die botterkoek met ’n sosatiestokkie. Kom hy skoon uit is die koek gaar, klou daar deeg aan het die knaap nog ’n paar minute nodig. Bedien hierdie botterkoek effe louwarm met geklopte soet room of warm vla.

serves

8-10

prep

15 min

bake

30-40 min

scroll-main

Ook beskikbaar in: English