Ek’t iets met kaas in gedagte gehad vir hierdie week, maar toe bel die vrinlike mense van SABC3 se Expresso oggendprogram my en vra ek moet seblief iets soets kom bak.
Regstreekse uitsendings kan nogal neuk met die senuwees, soveel te meer as mens net ’n paar minute het om iets op te tower wat heerlik is. Hmmmm. Hoe gemaak? Kits appel stroedel is die antwoord. Dis een van daai geheime arsenaal resepte – buite verhouding indrukwekkend vir die minder as 10 minute se werk wat dit vat.
Dis net blaardeeg (of filodeeg), appels, rosyne, suiker en kaneel. Rol die lot op en gooi dit in die oond. Wat kan dan nou makliker wees? Ek vat gewoonlik die lui-kok uitweg en bedien dit met soet geklopte room waarby ek ’n knerts brandewyn of Calvados roer (dis nou as daar nie kinders om die tafel is nie). Maar dit voel darem na té min moeite vir teevee. Toe slaan ek ’n soutkaramel sousie ding ook aanmekaar. Bedien dit met vanielje-roomys en almal sal dink jy’t ure gesloeg. As jy slim is, sê jy niks. Glimlag net liefies en aanvaar die komplimente.
Al wat jy nodig het is…
Vir die soutkaramel
75g witsuiker
75g ligte bruinsuiker
50g ongesoute botter, in blokkies gesny
200ml room
halwe teelepel fleur de sel sout (ek het Maldon gebruik)
Vir die stroedel
vierkant of reghoek kwaliteit blaardeeg (ek het Woolies se Butter Puff Pastry gebruik, dis rêrig die beste)
een blik tertappels, goed gedreineer en in kleiner stukkies gekap
groot handvol pekanneute, groterig gekap
groot handvol pitlose rosyne
ligte bruinsuiker
kaneel
1 eier, geklits
Vanielje-roomys, vir bedien
Sit die wit- en bruinsuiker in ’n dieperige pot op ’n warm plaat en laat dit smelt (moenie roer nie). As die suiker alles gesmelt is en ’n mooi goue karamel kleur is, verwyder van die hitte en klits die botter in. (Dit sal gevaarlik borrel. Moenie skrik nie, dis normaal – hou net aan klits.) Klits dan die room by asook die sout. Sit opsy.
Bedek die blaardeeg eweredig met die appel. Strooi die neute en rosyne oor, dan die suiker en ’n stewige skoot kaneel. Hoeveel suiker jy gebruik hang af van hoe soet jou tand is, maar ek sou sê ten minste twee eetlepels. Rol die deeg op in ’n rol (soos ’n ‘Swiss roll’), verf met die eier en plaas op ’n gesmeerde kleefvrye bakplaat. Bak teen 190 grade Celsius vir 30-35 minute tot die deeg deurgebak en goudkleurig is. Sprinkel versiersuiker oor vir die mooi en bedien dadelik saam met die karamelsous en roomys.
bedien
6-8
vooraf
10 min
kook
30 min
goed om te weet
Veelsydige soutkaramel…
Die soutkaramel sal vir twee weke in die yskas hou. Hier’s ‘n paar idees daarmee:
- Bedien dit warm of teen kamertemperatuur met roomys.
- Blits dit saam met melk en vanielje-roomys vir ‘n soutkaramel melkskommel.
- Smeer dit (koud) op ‘n Marie of Tennis koekie, sit nog een bo-op en smul.
- Verhit dit en bedruip plaatkoekies daarmee. ‘n Blerts room en hy’s reg.
lekker saam met
Jy kan iets soets kies soos ‘n edel laatoes. Nederburg s’n stel nooit teleur nie.
Of speel met appel en bedien piepklein glasies Calvados (appel brandewyn) hierby.
Was vanmiddag opsoek na braai resep vir silverside roast,moet nog gaan oplees wat dit is in Afrikaans,toe ek op jou blog afkom.Watte ervaring,regtig oulik,en maak my sommer lus om kos te maak.Dankie vir jou harde werk sodat ons ander dit ook kan geniet!Kook voort!!!!
Bly jy geniet dit Thealette. Lekker kook! Groete, Lizet