Chilli con carne – as jy Wikipedia kan glo (en dis ’n groot AS), kan jy die oorsprong van hierdie dis loop uitgrawe al die pad terug in die Texas van 1850. So gewild is chilli con carne in dié suidelike staat dat hulle wetgewer blykbaar in 1977 dit Texas se amptelike dis verklaar het. Ek kan my nie indink dat politici hulle belangrike tyd met rissievleis sal opneem nie. Maar hierdie is Amerika mense, en as ek so aan hulle presidensiële kandidate se manewales die afgelope paar weke dink (veral die blonde knaap met die dooie muishond op sy kop) is enigiets seker moontlik.

Waar of nie, chilli con carne is ’n wenner in my boek. Op sy mees basiese is dit net rissie en vleis (carne). Een trappie op sit hulle tamatie by. Puriste stem nie saam hieroor nie, maar ek dink dis ’n moet. Nog ’n trappie op kry hy bone ook by. Dis vir my heerlik met of sonder. Bees of volstruis maalvleis is die natuurlike keuse vir ’n chilli con carne. Maar self lekkerder vir my is die goedkoper beessnitte wat jy lank en stadig kook tot dit van die been afval. Dis kos vir die massas hierdie en kos vir besige weeksaande. Maak die resep sommer dubbel hierdie naweek en vries in porsies. Hier teen Woensdag as jou gô uit is gooi jy dit net in die mikro.

Al wat jy nodig het is…

1kg beesskenkel (shin), been in
2 koppies fyngekapte uie
1 koppie fyngekapte wortels
½ koppie fyngekapte seldery
1 hoogvol eetlepel fyngekapte knoffel
1t gewone paprika
1t gerookte paprika (Woolies hou dit aan)
2t fyn komyn (cumin)
1t rooipeper (cayenne)
2E tamatiepasta
1 blokkie beesaftreksel
2 groot fyngekapte tamaties
1 lourierblaar
2 opgehoopte eetlepels vars oreganum (of 1 gelykvol eetlepel droog)
gewone kookolie, vir braai
sout na smaak
VIR BEDIEN
gladde laevet maaskaas (ek’t die nuwe een van Parmalat gebruik, dis lieflik)
sagte tortillas/wraps
blaarslaai, rofweg gekap
koljanderblare
Tabasco, vir die brawe geeste

Verhit ’n dikbodempan goed en voeg ’n paar eetlepels olie by. Sout die vleis goed en braai die stukke tot alkant bruin. Hierdie’s pure geur, so wees geduldig en karameliseer die vleis ordentlik. (Wenk: Braai die vleis in 2-3 sarsies, smyt jy alles op een slag in sweet die spul net.)

Verwyder die vleis en hou eenkant. Voeg die uie by die pan saam met nog ’n leksel olie. (Wenk: Ek’s lief vir my broodbord en mes, maar hierdie’s baie gekappery, dus vat ek kortpad en sit die uie, wortels, seldery en tamaties liefs in my voedselverwerker. Natuurlik apart, nie alles op een slag nie!) Braai die uie vir 5 minute, voeg die wortels en seldery by en braai vir nog 5 minute. Voeg die knoffel en tamatiepasta by en braai vir ’n verdere 2 minute. Sit die vleis in saam met enige vloeistof wat uitgekom het gedurende die rus, asook die blokkie aftreksel, die kruie, gekapte tamaties en een koppie water.

Bedek die pan, draai die hitte so laag moontlik en prut vir 2-3 ure tot die vleis van die bene wil afval. As die temperatuur laag genoeg en die deksel dig genoeg is, behoort hierdie genoeg water te wees, maar loer so af en toe. As die vleis gekook is, lig dit uit en gebruik twee vurke om dit te vlok. Sit terug in die pan en kook met die deksel af tot die chilli con carne dik is. Bedien met die tortillas, koljander, maaskaas en blaarslaai en laat elkeen sy eie perfekte aandete bou. Daar is sommer tonne wat jy met hierdie resep kan doen, so loer na GOED OM TE WEET hier onder vir meer idees.

bedien

6-8

vooraf

20 min

prut

2-3 ure

scroll-main

goed om te weet

Nog planne met hierdie chilli

1) Sit ’n blikkie rooi bone by .

2) Wees stout en vervang die maaskaas met suurroom en gerasperde cheddar.

3) Mini tortillas in plaas van groot maak dit ’n perfekte skemerkelk happie.

4) Pak tortilla skyfies op ’n groot oondvaste opdienbord, skep die chilli con carne oor en bedek met gerasperde mozzarella. Bak in ’n warm oond tot die kaas gesmelt is. Skep rooiui-en-tamatie salsa oor, ’n paar takkies koljanderblare en guacamole en lê weg. Perfek vir Vrydagaand voor die TV met wyn, jou kat en jou liefie.

scroll

Nog kookopsies

Jy kan hierdie chilli con carne sommer woerts-warts in jou drukkoker ook maak. Of doen dit super stadig in jou ‘slow cooker’.

lekker saam met

Diep, ryk, komplekse rooiwyn (m.a.w. duur) is ‘n groot bederf. Maar enige so ‘n wyn sal flop saam met hierdie chilli con carne. Nee, vir die rissiebyt soek jy iets sags met net ‘n titsel-titsel soetigheid in die agtergrond. Perdeberg se Soft Smooth Red is so knaap. Op die neus is daar spesery, rooi- en swartbessies. Op die tong parmantige vrugte. Hierdie’s die tipe rooiwyn vir banksit in jou sweetpakbroek.

As rooiwyn vir jou te ernstig is, maar jy’s tog lus om jou tone nat te maak, begin by hierdie wyn. Dis net R39 per bottel van die landgoed en nie veel duurder in winkels nie. Perfek vir die massas rissiekos voer en perfek vir die braai.

Perderberg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English