Dinge werk nie altyd uit soos beplan nie. Vat laas naweek. Ek dink nou al hoeka aan pastei maak – sagte bees lank gekook in donker Guinness-bier tot dit smelt in die mond, knus weggesteek onder ’n pasteikors sondig van die botter. Die bottel Guinness lê al vir meer as ’n maand in my yskas en ek besluit kyk hiérdie naweek doen ek iets daaraan.

Saterdag kom… en die kwik styg tot 25 grade Celsius. Sondag wip hy op tot 28 grade. En dit in die middel van die winter, in die Kaap. Ek gryp my enigste paar ‘sjorts’ en laat my tone en bene lig sien vir die eerste keer in drie maande (iets om te aanskou, vir al die verkeerde redes). Ek huppel deur die tuin en teug aan pienk borrels. Die laaste ding waarvoor ek lus is, is ryk pastei. Maar die bees is ontvries, die Guinness wink en ’n Boer maak ’n plan. Blitsvinnig verander die pasteivulsel in ’n bredie, en in plaas van ’n ryk kors maak ek veerligte kruie-kluitjies wat proe soos lente.

Al wat jy nodig het is…

Vir die bredie
800g stowe beesvleis, in blokkies gesny
olyfolie, vir braai
2 bruin of wit uie, fyngekap
1 huisie knoffel, fyngekap
2 hoogvol eetlepels koekmeel
1t tamatie-pasta
300ml Guinness-bier
200ml water
1 lourierblaar
1 blokkie beesaftreksel
stewige knip growwe swartpeper
6 takkies vars tiemie
250g wortels, geskil en in stukke gesny of heel as hulle klein is

Vir die kluitjies
125g bruismeel
50g botter (ek verkies 25g varkvet en 25g botter)
¼t sout
1t vars tiemie, gekap
2E pietersielie, gekap
3-4E water

Braai die beesvleis in 3 eetlepels olyfolie tot goed bruin. (Moenie al die vleis op een slag insit nie, want dit sal stowe in plaas van bruin word.) Verwyder die vleis en sit die gekapte uie in dieselfde pan met nog ’n eetlepel olyfolie indien nodig. Roerbraai vir 5 minute oor ’n lae hitte. Voeg dan die knoffel by en braai vir ’n minuut. Roer die meel by en braai vir 20 sekondes. Voeg die tamatie-pasta by en braai vir nog 20 sekondes. Sit die vleis terug in die pot saam met enige van die vloeistof wat uitgekom het terwyl die vleis gestaan het. Voeg die water en Guinness by en roer sodat al die wonderlike bruin stukkies op die bodem van die pan loskom. Voeg die res van die bredie bestanddele by, sit ’n deksel op en kook oor ’n lae hitte tot die vleis sag is (so uur en ’n half tot twee ure, afhangend van die snit vleis).

Sodra die vleis sag is, kan die kluitjies in die pot kom. Om die kluitjies te maak, sit die meel, botter en sout in ’n voedselverwerker en blits saam tot die mengsel krummelrig is. Voeg die kruie en 3-4 eetlepels water by en blits tot dit ’n stywe deegbal vorm. Dit vat net ’n paar sekondes. Jy kan dit alles met die hand doen as jy nie ’n voedselverwerker het nie. Verdeel die deeg in agt en rol balletjies. (As dit klou, sit eenvoudig bietjie meel op jou hande.) Skep balletjies bo-op die bredie, sit die deksel op en kook vir 25-30 minute op ’n medium hitte. Sit dadelik voor saam met ertjies.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

2 ure

scroll-main

goed om te weet

Nog idees

Om hierdie resep in ‘n pastei te verander, laat die kluitjies uit en gebruik Woolworths se ‘all butter puff pastry’ vir ‘n kors. Laat eenvoudig die vleis mengsel effe afkoel en skep dit in ‘n vlakkerige oondvaste bak. Sit die deeg op, seël die kante, sny ‘n paar kepe in die deeg vir die stoom om te ontsnap en gooi hom in ‘n 180 grade Celsius oond vir 30 minute.

Ek dink hierdie bredie sal ook uitstekend wees saam met kapokaartappels gemaak van oranje soetpatats.

lekker saam met

Ek’t nie Homer Simpson se ding oor bier nie. Wys my ‘n glas wyn en ek’s gelukkig. Tog is bier vir my die ideale pasmaat by hierdie bredie. Guinness is woes bitter. Die bitter kook uit in die bredie en dis wonderlik, maar ek kan dit nie net so drink nie. So my keuse hierby is ‘n soeter ‘blonde’ bier. Probeer vir ‘n slag iets anders as jou gewone Saterdagmiddag-by-die-rugby Castle.

Miskien iets van Cape Brewing Company, Darling Brew of Jack Black. League of Beers verkoop allerhande interessante Suid-Afrikaanse en internasionale biere op hulle oulike webwerf.

Beer

scroll-main

Also available in: English