Ek dink bobotie’s bietjie soos opera – mense het sterk gevoelens daaroor. Hulle lief dit of hulle haat dit, met niks plek tussenin vir ’n onseker draadsittery nie. Ek’s in die ‘lief vir’ kamp – vir bobotie én vir opera.

As kind was bobotie ’n regte okkasie kos – bedien op verjaarsdae, Sondae en (bitter eienaardig as jy my vra) begrafnisse. Dis seker ’n boere ding.

Wat wou spesiale okkasies. Bobotie is die ideale dis om te maak op besige weeksaande. Week ’n sny of wat witbrood in melk. Meng dit met fyn ui, ’n paar flou speserye, maalvleis, rosyne en amandels. Skep ’n eier-en-melk vla kombersie bo-op, steek suurlemoen- en lourierblare in, gooi die lot in die oond en loop weg vir ’n uur. Wat kan dan nou makliker wees? Dis lui-kok hemel en, bedien met geelrys en ’n stewige skep appelkoos-blatjang, is dit vir my ’n fees.

Maar ek verstaan daar’s die wat oortuiging nodig het. Soos stout aapstertjies vir wie jy groente wegsteek deur dit fyn te kap, verbloem ek dus die bobotie wonderlikheid in ’n bros samoosa-degie. En bedien dit met ’n soet-en-suur appelkoos-doopsous met ’n knerts rissie en gekapte amandels.

Al wat jy nodig het is…

Vir die bobotie-vulsel
2E gewone kookolie
1 groot ui, baie fyngekap
1t medium-sterk kerriepoeier (ek het Rajah gebruik)
½t borrie
500g bees maalvleis
1 lourierblaar
½t sout
¼t swartpeper
1E suurlemoensap
1E blatjang (ek’t Mrs Ball’s gebruik, my gunsteling)
2E rosyntjies
1t suurlemoenskil, gekap
1 koppie water
samoosa-deeg velle
1 eierwit, geklits
kookolie vir diepbraai

Vir die appelkoos-doopsous
3E gladde appelkooskonfyt
2½E rooiwynasyn
5E water
knippie sout
¼t gedroogde ris

Vir die bobotie: Braai uie in 2E olie tot sag. (Jy wil hulle nie bruin hê nie, so hou die hitte medium-laag.) Voeg kerriepoeier en borrie by en braai vir 30 sekondes. Voeg maalvleis by (en nog ’n titsel olie indien nodig) en braai maalvleis tot dit krummelrig en mooi bruin is. Voeg die res van die bobotie bestanddele by saam met die koppie water, bedek en kook oor ’n lae hitte vir 30 minute. Roer dan en wan en voeg nog water by indien nodig, maar min op ’n slag want die mengsel moet droog wees as hy gaar is. Laat die maalvleis afkoel tot kamertemperatuur.

Vat een reghoekige (5cm x 15cm) vel samoosa-deeg en verf die kant wat na bo wys met eierwit. Plaas een eetlepel bobotie mengsel neffens een hoek. Vou die hoek van die deeg oor die maalvleis om ’n driehoek te vorm. Hou aan om te vou tot die deeg op is en jy ’n perfekte driehoek het. (Sien GOED OM TE WEET hieronder vir nog deeg- en vouwenke.)

Braai ’n paar op ’n slag in medium-warm olie van ten minste 4cm diep tot goudbruin aan albei kante. Dreineer op kombuispapier en bedien dadelik saam met die appelkoos-doopsous.

Vir die appelkoos-doopsous: Rooster amandels in ’n droeë pan tot goudbruin. Verwyder en kap fyn. Hou eenkant. Smelt die konfyt saam met die water, sout, asyn en rissie en kook vir 20 sekondes. Vou die amandels by en giet in ’n klein doopbakkie. Bedien warm.

maak

15-20

vooraf

10 min

kook

45 min

scroll-main

goed om te weet

Nog deeg- en vouwenke

As jy nie samoosa-deeg kan kry nie, gebruik ‘spring roll’ deeg of filodeeg. Watter deeg jy ook al gebruik, onthou net om dit aan die kant wat na bo wys met eierwit te verf sodat die deeg goed seël as jy dit vou.

As die driehoekie affêre te veel vir jou senuwees of vingers is, maak sommer ‘n sigaar-vorm. Sny eenvoudig ‘n vierkant deeg van 8 x 8cm. Plaas ‘n strokie maalvleis van 4cm lank so een derde van die kant af in. Vou die deeg oor die smal ente van die vleisstrook (soos jy ‘n present sal toedraai) en rol hom dan op. Daar’s hy, ‘n perfekte bobotie ‘sigaar’ wat fraai lyk en maklik optel vir die doop.

lekker saam met

Met die effense kerrie-geurtjie van bobotie soek ek ‘n wyn wat tonne vrugte op die neus en tong het. My keuse hierby is ‘n Chenin Blanc. Probeer Mulderbosch se 2012 Steen op Hout. ‘Steen’ is nie een of ander snaakse klipperige ding in die wyn nie, dis eenvoudig die ou Kaapse naam vir Chenin. Die ‘op hout’ deel is omdat 20% van die wyn vir 6 maande in hout was.

Lieflike groen appelgeure maak plek vir ryper tropiese pynappel. Mulderbosch het nie hulle pryse op hulle webwerf nie (ag nee man), of miskien’s ek net blind.

By my plaaslike wynwinkel betaal ek hier neffens R70 en dis goeie waarde vir wat jy kry.

Mulderbosch

scroll-main

Ook beskikbaar in: English