So af en toe is ek gelukkig genoeg om hier kort voor vyf die middag my rekenaar te kan afskakel en die pad te vat vir ’n wandeling met my denkbeeldige hond. (Merlot sal nie ’n regte een duld nie, verstaan.)

As ek so stap, trek heelwat goed my aandag. My buurvrou se pronkertjies steek kop uit. Die mense skuins agter het geverf, ’n mooierige grysblou. En die ‘Mavericks’ vliegtuig maak weer sy spitstyd draai oor die Kaap se suidelike voorstede. Dan wonder ek.

Ek wonder oor die vrouens wat daar werk en wat hulle van hulle klante (of is dit kliënte?) dink. Ek wonder hoe effektief die wapperende banier nou eintlik is. Vliegtuigpetrol kannie goedkoop wees nie. Sien knape wat in die spitsverkeer sit en stoom die gedoente en reken “ja, Mavericks is ’n blink plan vir vanaand”?

Ek dink dis hulle radio-advertensie wat lui “a gentleman knows”. En ek wonder, wát is dit wat ’n jintelmin dan nou kastig weet?

My Oxford Complete Wordfinder beskryf ‘maverick’ as “an unorthodox or independent-minded person”. Die gemiddelde getroude ou moet baie ‘independent-minded’ wees om op daai wapperende vlaggie te reageer…

’n ‘Maverick’ in die kombuis, nou dáár’s ’n idee. Een van my gunsteling pastadisse is properse Amerikaanse ‘spaghetti & meat balls’. Ek gee myne ’n trots Suid-Afrikaanse baadjie – met frikkadelle gemaak van boerewors. Onortodoks genoeg?

Al wat jy nodig het is…

500g boerewors
1 rooi ui, fyngekap
2 knoffelhuisies, fyngedruk
1t gerookte paprika
½t rissie vlokkies (opsioneel, of gebruik minder as jy sensitief is)
1 blik tamaties, gekap
¼t sout
1t bruinsuiker
2 vars lourierblare
1t vars origanum (of ½t droog)
3E water
6E olyfolie
growwe swartpeper na smaak
Italiaanse pietersielie, gekap – vir bedien
parmesaankaas of pecorino – vir bedien

Braai die ui in 3E olyfolie tot sag. Voeg die knoffel, paprika en rissie by en braai vir twee minute.

Voeg die tamatie, suiker, sout, water, origanum en lourierblare by, sit ’n deksel op en kook vir 20 minute op ’n lae hitte. Loer af en toe en as dit droogkook, gooi nog ’n eetlepel of wat water by. (Moet dit net nie oordoen nie, hierdie is ’n dikkerige sous.)

Terwyl die tamatiesous kook, druk die worsvulsel uit en vorm eweredige klein bolletjies daarmee. Braai die frikkadelle in 3E olyfolie tot hulle alkant mooi bruin is.

Voeg die frikkadelle by die sous, proe vir sout, gooi ’n skooitjie swartpeper by en verwyder die lourierblare.  Bedien met jou gunsteling pasta (ek het penne gebruik, maar ek’s ook dol daaroor met spaghetti). Strooi Italiaanse pietersielie oor en wees mildelik met die parmesaan of pecorino.

bedien

4

vooraf

5 min

kook

25 min

scroll-main

goed om te weet

As jy in verre lande sit…

…en boerewors is buite jou bereik, gebruik enige ander goeie-kwaliteit wors soos ‘n Toulouse.

As jy verkies om jou eie frikkadelle te maak, probeer ‘n mengsel van 50% bees en 50% vark maalvleis in plaas van net bees.

Hoe jy dit ook al geur, rasper ‘n stewige skoot pecorino of parmesaankaas by die maalvleis vir ekstra sappigheid en smaak.

lekker saam met

Pasta met ‘n tamatiebasis sê vir my rooiwyn. Jy kan ‘n Italiaanse Sangiovese kies. Dit het ‘n gesonde suurbasis wat die suur van tamatie komplimenteer.

Splattered Toad se 2012 Shiraz/Cabernet Sauvignon vermenging is ‘n goeie keuse as jy iets minder vreemd verkies.

Dis onder R50, sag en toeganklik met wonderlike rooibessie op die neus. Elke teug doen ook goed, want R1 van elke bottel word gegee om ‘n bedreigde inheemse padda te red.

Splattered Toad

scroll-main

Ook beskikbaar in: English