Ek’t ’n paar dae terug my resep vir ’n karamelsous gedeel. Nou’s dit tyd vir sy boetie – ’n botterkaramelsous. Beide ’n karamelsous en botterkaramelsous gebruik suiker, botter en room. Maar waar jy ’n karamelsous begin deur die suiker te smelt om ’n karamel te vorm, is botterkaramel die lui boetie – jy gooi die lot op een slag in ’n pot, kook dit vir ’n paar minute en jy’s klaar. Kleingoed is mal oor die soete eenvoud van ’n botterkaramelsous. Maar dis juis daai eenvoud wat vir my die probleem is, want die kompleksiteit wat die karamel makery aan ’n karamelsous verleen is afwesig in ’n botterkaramelsous. Toe besluit ek om effe met die lui boetie te woeker. In plaas van wit suiker gebruik ek muscovado bruin suiker vir ’n effense karamelnoot. En in plaas van room gebruik ek ingedampte melk. Ingedampte melk is effe soos afval – dit verdeel mense in twee kampe: die wat vrek daaroor en die haters.

My liefde daarvoor spruit uit kinderdae. Ouma se Ideal-melk roomys op haar agterstoep (as ons vir ons gedra het) onthou ek soos gister. Dít en haar eenvoudige sponspoeding wat ons verdrink het in tuisgemaakte vla of ingedampte melk. As jy hierdie botterkaramelsous nog meer interessant wil maak is ’n skoot rum of brandewyn daarby glad nie ’n slegte idee nie. Soek jy hom blonder, gebruik wit suiker in plaas van die bruin. En as jy in die haat-kamp vir ingedampte melk jou tent opgeslaan het, gebruik eenvoudig eerder dieselfde hoeveelheid room.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie Muscovado-suiker (of enige ander donker bruin suiker soos demerara)
1 koppie ingedampte melk
knippie sout
druppel of twee vanielje-ekstrak
¼ koppie koue botter, in blokkies gesny

Plaas al die bestanddele in ’n medium-groot diep, dikbodem kastrol en plaas op medium-hoë hitte. Roer totdat die suiker gesmelt is en kook dan vir vyf minute. Daar’s hy, jy’s klaar. Bedien hierdie botterkaramelsous op pannekoek, wafels, appeltert of piesangbrood, oor roomys, by gebraaide pynappel of gebraaide piesangs!

bedien

4-6

vooraf

0 min

kook

5 min

scroll-main

Also available in: English