Braaidag was bietjie van ’n flop in my geweste. Triestige wolke en wind met ’n geniepsige byt is nie my idee van ideale braaiweer nie. ’n Vuur het ek weliswaar gemaak ja – in my kaggel in die sitkamer. Teen die tweede glas rooiwyn het ek nie meer soveel omgegee nie. Gelukkig lê ’n hele somer voor, met hope kans vir goeters op die kole gooi.

Braaibroodjie is altyd ’n moet. Ek hou van hom eenvoudig, met sagte wit winkelbrood, tamatie en ui. Sout en witpeper is al wat hy vra. Maar ek hou ook van hom grênd. Soos hierdie braaibroodjie met suurdeegbrood oftewel ‘sourdough’ en mozzarella.

Mozzarella is ’n bra vaal Japie. Sy gesmelte tekstuur is miskien hemels, maar hy het hulp nodig met die smaak. In hierdie geval hulp in die vorm van ’n parmantige botter gepak met pietersielie, knoffel en suurlemoen. Jy kan enige ferm brood gebruik om hierdie braaibroodjie te maak, maar ek dink die effense suur van ’n goeie suurdeegbrood is die perfekte pasmaat vir die sitrus in die botter.

Al wat jy nodig het is…

4E gesoute botter, teen kamertemperatuur
2E fyngekapte pietersielie
1 groot fyngekapte knoffelhuisie
2t fyngekapte suurlemoenskil
1E suurlemoensap
2 koppies gerasperde mozzarella (3 koppies as jy gulsig voel!)
8 snye dagoue suurdeegbrood
olyfolie

Gebruik ’n vurk om die botter, pietersielie, knoffel, skil en sap saam te room. Smeer op die brood, maar slegs aan een kant. Sit kaas op die gebotterde kant en bedek met nog ’n sny, botter kant na onder. Verf die buitekant van die toebroodjie liggies met olyfolie en plaas op die braai. Flip hom oor sodra hy bruin is. As hy krakerig bruin is aan albei kante en die kaas is gesmelt is hierdie knaap reg vir smul. Bedien dadelik. (Wenk: As jy nie lus is vir vuur maak nie, gooi hierdie braaibroodjie in ’n riffelpan op jou stoof.)

bedien

4

vooraf

10 min

braai

5-7 min

scroll-main

Also available in: English