’n Paar letters is al wat jy nodig het om met iemand se kop te sukkel. Vat byvoorbeeld handsakke. Sê ‘Vuitton’ en dis genoeg om menige vrou flou van begeerte te maak. Maar as jy daaraan dink, is dit eintlik net ’n sak. Iets om jou selfoon en lipstif in te dra en, in my geval, ’n begraafplaas vir daai harde ‘after-dinner mints’ wat restaurante vir jou bring met die rekening. Asof dit die pyn nou soeter gaan maak.

Dis dieselfde met kos. Die Italianers noem hierdie ’n crostata. Klink sommer baie indrukwekkend. Die Franse noem dit galette. Selfs beter – hulle’t tog so ’n oulike manier met woorde daai Franse. Maar eintlik is dit alles net ’n fênsie manier om te sê ‘die-maklikste-tert-ooit’.

As jy so bang is vir deeg soos my kat vir die veearts, dan’s hierdie resep vir jou. Daar’s niks gesukkel met tertbakke en ’n blindbakkery nie. Nee, jy rol net uit, stop hom vol vrugte, vou die kante toe (hoe slordiger amper hoe beter) en gooi hom in die oond. Veertig minute later het jy ’n sagte, soete vrugtige verleiding in ’n bros, smelt-in-die-mond botterdeeg kombers.

Jy kan amper enige vrugte gebruik. Ek’t hierdie een gemaak met Granny Smith appels, braambessies en amandels. Ek bedien dit met ’n sitrus Crème Chantilly. Dit beteken eintlik maar net soet geklopte room met lemoenskil en ’n skoot brandewyn daarby.  Maar sê jy ‘Chantilly’ eet mense lekkerder.  Dis woorde vir jou.

Al wat jy nodig het is…

Vir die galette
2 koppies koekmeel (230g)
175g koue botter, in klein blokkies gesny
½ t sout
8E yswater
1½ koppies gevriesde of vars braambessies (blackberries)
3 Granny Smith appels
halwe suurlemoen
derde koppie ligte bruinsuiker
¼t fyn pypkaneel
klein knippie naeltjies
2E koekmeel
2E ligte bruinsuiker
1 eiergeel, geklits met 2E melk
¼ koppie amandels, in ’n pan gerooster en gekap

Vir die Créme Chantilly
1 koppie (250ml) koue vars room
2E versiersuiker
1E brandewyn
skil van een lemoen, fyn gerasper

Voorverhit die oond tot 200 grade Celsius. Sit 2 kopies meel, die sout en die botter in ’n voedselverwerker en pols tot die botter so groot soos ertjies is. Voeg die yswater ’n lepel op ’n slag by en pols tussenin. Moenie te veel pols nie want die botter moenie te fyn raak nie en die deeg moet soos groot growwe krummels lyk. Keer die krummels uit op kleefplastiek en gebruik jou hande om die deeg saggies saam te druk net tot dit ’n  bol vorm. Draai die deegbol toe in die kleefplastiek en sit in die yskas vir 20 minute.

Skil intussen die appels and sny hulle in blokkies so groot soos die bessies. Druk die suurlemoen oor die appels uit en meng deur om te verseker al die appel het ’n lekkie suurlemoen. Net voor jy jou deeg uitrol, voeg die helfte van die suiker, een eetlepel meel en die kaneel by die appels en meng deur. In ’n aparte bak, voeg die ander helfte van die suiker en die ander eetlepel meel by die bessies saam met ’n piepklein klippie naeltjies en meng deur.

Jy kan die deeg net so op jou werksoppervlak uitrol, maar ek vind as dit eers die vulsel in het, is dit swaar en moeilik om op te tel sonder dat die storie uitmekaar val. Ek los die probleem op deur die deeg op ’n  groot stuk bakpapier uit te rol. Sit die deegbol in die middel van die bakpapier en druk dit eers effe plat met jou hande. Gebruik dan ’n koekroller om dit verder uit te rol tot dit ’n groot deegsirkel van so 5mm dik is. (As die deeg klou aan die koekroller, gee die roller eenvoudig ’n veetjie meel.)

Tuimel die appels en bessies op die deeg en los ’n rand van 5cm reg rondom. Vou nou die deegrand oor die vrugte vulsel. Lig die lot net so bakpapier en al en plaas op ’n bakplaat. Verf die deegrand met die eier en sprinkel dan die 2E ligte bruinsuiker oor die deeg.  Bak vir 35-45 minute totdat die appels sag en die deeg goudbruin is. Verwyder en plaas op ’n rak om af te koel. Probeer die galette van die bakpapeir af te gly sodat die onderkant van die galette in direkte kontak met lug is terwyl dit afkoel. Sprinkel die neute oor net voor jy bedien. Ek hou van galette net so effens louwarm, maar kamertemperatuur deug ook.

Om die Crème Chantilly te maak, klits die room met die versiersuiker tot styf. Voeg hier aan die einde van die klits die lemoenskil en brandewyn by.

bedien

8

verkoel

20 min

bak

45 min

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir galette vulsels
  1. Appels met pekanneute en rosyne
  2. Appelkose, met ‘n leksel appelkooskonfyt vir die ekstra lekker
  3. Pruime
  4. Vye
  5. Aarbeie

lekker saam met

Brandewyn in kos is soos wyn in kos, jy kan nie nonsens insit en dink jy gaan dit nie proe nie. Maar jy wil ook nou nie ‘n plaas se prys betaal nie.

My keuse vir kook? KWV se 3- of 5-jaar oue brandewyn. En as skoon knertsie hierby bederf jouself met die 15-jaar een.

KWV

scroll-main

Also available in: English