Pienk krullers onder elke bed. Wit, wollerige pyp-skoonmakers in elke hoek. Tafeltennis balle onder elke bank… Dis hoe dit gaan as jy ’n katkind het want speel moet hulle. Die vloere’s hout, die lawaai indrukwekkend, die opgewondenheid buitensporig.

Ek verstaan sulke baldadigheid. Ek voel ook so. Natuurlik nie oor krullers nie, dit sal weird wees. Oor kos. Gee my bestanddele om mee te speel en ek raak skoon kat-kens. Soos onlangs toe Spekko my ’n mandjie van hulle rys gee. Basmati, jasmyn, saman wit, bruin… Eindelose moontlikhede.

Ek maak die bruin een my eerste speelding, dink aan ’n soort-van tabbouleh propvol kruie en tamatie. Nee, te voorspelbaar. Die kruie het potensiaal, hulle kan bly. In plaas van die tamatie gooi ek feta by, rou beet en granate ook. ’n Suurlemoen-vinaigrette met rissiebyt kom oor. En vir die mooi, eetbare blomme. Dis so fraai, ek voel ek moet hoed opsit vir die aansit.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie Spekko bruin rys
½t sout
2 koppies water
koppie vars ment blare (20g)
Hoogvol koppie Italiaanse pietersielie (35g) – net die blare, nie die stingels nie
1 medium-hitte rooi rissie, pitte verwyder en fyn gekap
6E goeie olyfolie
3E vars suurlemoensap
1 knoffelhuisie, fyn gekap
twee stukke feta (100g)
halwe Engelse komkommer, in die lengte gesny
1-1.5 koppies rou beet, in julienne repies gesny (Woolworths verkoop dit, klaar gesny, in handige klein pakkies)
3 vye, in kwarte gesny (opsioneel)
¼ koppie granaatpitte
eetbare blommetjies (opsioneel)

Kook die rys met ’n halwe teelepel sout in twee koppies water tot gaar en laat dit afkoel tot kamertemperatuur. (Oorskiet rys is ideaal vir hierdie resep!) Kap die kruie rofweg en voeg by die afgekoelde rys. Klits die olyfolie, suurlemoen, knoffel en rissie saam. Gooi die helfte daarvan oor die rys en roer deur.

Tuimel die rys op ’n mooi groot bord. Voeg die beet by, krummel die feta oor in groterige stukke en roer liggies deur. Gebruik ’n groenteskiller en sny linte komkommer met die lengte langs. Rangskik komkommer langs die rys. Tuimel vye en granaatpitte oor en bedruip die lot met die res van die slaaisous. Voeg laastens die blommetjies by.

bedien

4-6

vooraf

20 min

kook

25 min

scroll-main

goed om te weet

Nog resep opsies

* Voeg pistasieneute by.
* Laat die rissie uit as jy nie hou van ‘n effense byt nie.

scroll

lekker saam met

My keuse hierby is De Krans se nuwe Pinotage Rosé. Dis gemaak van 100% Pinotage druiwe van die de Krans landgoed. Die druiwe word vroeg gepluk vir varsheid en ‘n laer alkohol inhoud van net 12.5%. Op die neus is daar hope bessie – aarbei, framboos en kersie – met net ‘n titsel waatlemoen in die agtergrond.

Op die tong is dit droog, vars en verfrissend. Dit verkoop hier by die R59 merk. Waarlik wonderlike waarde vir geld.

De Krans

scroll-main

Ook beskikbaar in: English