Chakalaka. Dit rol uitbundig op die tong, soveel pret om te sê as om te eet. Ek het nie grootgeword met chakalaka nie. Haikôna, daarvoor was ons hopeloos te kos-konserwatief. In ons huis het braaipap ’n gewone tamatie-en-uie sous gekry. En dis hoe jy aan chakalaka kan dink – ’n braaipap tamatie-en-uie sous met tonne houding.

Want sien hierdie parmant kry ook groenpeper, én kerrie, én rissieskop. As jy hom eenkeer geëet het sit jy jou lippe nie weer aan plein braaipap sous nie. Jy kan natuurlik chakalaka in ’n blikkie koop. Al wat ek kan sê is, moenie. Is jy vannie Kaap en pap is vir jou ’n onding, bedien hierdie chakalaka saam met ciabatta by jou braai.

Al wat jy nodig het is…

2 koppies fyngekapte uie
4E sonneblomolie
1 rooi rissie, ontpit en fyn gekap
2 vet huisies knoffel, fyn gekap
1E Robertsons Steak and Chops Spice
3E medium-hitte Rajah kerriepoeier
1 x 70g blikkie tamatiepasta
1 koppie groenpeper blokkies
2 koppies gerasperde wortel
2E donker bruinsuiker
1E rooiwynasyn
4 groot ryprooi tamaties, geskil en in blokkies gesny
½t sout
1 blikkie bone in tamatiesous
vars koljanderblare (opsioneel)

Braai die uie tot goudbruin in die olie. Voeg die rissie, knoffel, Robertson Steak & Chops Spice, kerriepoeier en tamatiepasta by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die wortel en groenpeper by en braai vir ’n verdere minuut. Voeg laaste die suiker, asyn, tamaties en sout by. Bedek, draai die hitte laag en kook vir 15-20 minute. Voeg die boontjies by en meng deur. Laat dit afkoel tot kamertemperatuur voor jy dit bedien met ’n paar takkies koljander. Hierdie chakalaka hou wonderlik in die yskas vir 2-3 dae. Om die waarheid te sê verbeter die geur met die staan.

bedien

6-8

vooraf

10 min

kook

20 min

scroll-main

goed om te weet

Nog chakalaka resep opsies

1) Laat die bone heeltemal uit vir ‘n lae-koolhidraat chakalaka.
2) Sit bietjie gerasperde vars gemmer in.
3) Voeg fyngekapte groenkool by of vervang die bone met die kool.

scroll

lekker saam met

Vier nog ‘n Suid-Afrikaanse ikoon by jou volgende braai – onse eie kultivar, Pinotage. Mooiplaas is bekend vir goeie Pinotage wat nie ‘n gat in jou sak sal skeur nie.

Hulle 2013 is sappig en sag, met wonderlike vrugtekoek op die neus en vrugtigheid op die tong. Dis beskikbaar aanlyn op hulle webwerf teen R102.

Mooiplaas

scroll-main

Ook beskikbaar in: English