Ek kan nie hierdie juis ’n resep noem nie want dis net te eenvoudig. Wat ek dit wél kan noem is bitter lekker. Ons is almal bekend met ‘devils on horseback’ – pruimedante gerol in spek en gebak tot bros. Tog te lekker.

So paar dae terug sien ek spek met ’n swartpeper buitelagie by Woolies en dit gee vir my ’n idee. Langs die spek wink hulle varkworsies met kruie vir my en ek gryp hulle ook. Terug by die huis maak ek ‘duiwels’, maar in plaas van pruimedante gebruik ek vars dadels. Ek druk die worsievulsel uit en rol piepklein frikkadelletjies. Die lot kom op stokkies met heel salieblare en dan’s dit tyd vir die braai. ’n Bottel goeie borrels hierby en ek’s bitter gelukkig. Warm Kerswense vir almal. Ons praat weer in die nuwe jaar.

Al wat jy nodig het is…

vars dadels, pitte verwyder
spek (of pancetta as die Kersbonus koevert dik was)
varkworsies
salieblare
kookolie

Sny elke reep spek in die helfte met die lengte langs. Draai om dadels. Maak jou hande effe nat en rol klein frikkadelle met die varkworsievleis. Steek op stokkies met salieblare tussenin en verf lig met olie. (NB: as jy houtstokkies gebruik week hulle eers in water vir 30 minute anders brand hulle.) Plaas onder ’n rooster of op die braai en draai gereeld tot alkant goudbruin en gaar.

bedien

baie

vooraf

20 min

braai

15-20 min

scroll-main

Also available in: English