Drie boon slaai. Ek hou sommer baie daarvan. Die een in die Werda plastiekpakkie binne die kartonboksie is sommer heel gaaf. Ek koop en gebruik dit. Op safari. In Botswana. As die naaste groentewinkel 12-ure-se-sloeg-deur-die dik-sand-van-Chobe ver is. By die huis voel ek half sleg oor sulke luiheid en maak maar my eie.

Tradisionele drie boon slaai is natuurlik nie ’n mooi ding nie. Maar hy kan wees. Vir my drie boon slaai gebruik ek dieprooi en wit bone, en elegante dun groenbone wat ek net-net skrikmaak met stoom. Vir die vars sit ek sprietuie en radyse (een van 2015 se ‘in’ bestanddele) by. En ek tuimel die lot effe ‘deconstructed’ kunstig op ’n bord. ’n Soetsuur sousie met ’n kus kerrie en hy’s reg.

Al wat jy nodig het is…

1E sonneblomolie
2E rooiuie, so fyn as moontlik gekap
1 klein knoffelhuisie, fyngekap
2t medium kerriepoeier (Rajah is perfek)
¼t sout
5E witwynasyn
3E bruinsuiker
1 blikkie rooi bone (kidney beans), afgespoel en gedreineer
1 blikkie wit bone (cannellini beans), afgespoel en gedreineer
klein pakkie fyn groenbone
3 sprietuie (met die groen stingels aan)
6 radyse

Stoom of kook die groenbone vir ’n minuut of wat – dit moet net-net begin buig en steeds baie knars hê. Dreineer en dompel dadelik in yswater tot die bone koud is. Dreineer en sit eenkant. Braai die uie in die olie oor ’n lae hitte tot sag (nie bruin nie). Voeg die knoffel en kerriepoeier by en braai vir ’n paar sekondes. Voeg die asyn, sout en suiker by en kook vir ’n halwe minuut – roer deurentyd sodat die suiker oplos. Verwyder van die hitte. Voeg een derde by die rooi bone, ’n derde by die wit bone en ’n derde by die groenbone. Marineer in die yskas vir ’n uur. Sny die sprietuie in dun repe met die lengte langs of diagonaal. Sny die radyse (ek gebruik ’n mandolien om hulle super dun te kry). Tuimel alles op ’n groot bord. Sit voor by ’n braai of op sy eie as ’n ligte middagete.

bedien

4-6

vooraf

10 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

Idees vir jou wynbottels

Die Protea reek wyne se bottels met hulle fraai patrone kan jy eenvoudig nie weggooi nie. Sit ‘n stopper in ‘n leë bottel en gebruik dit vir gegeurde olyfolies en asyn – dis so mooi jy sit dit op die tafel. Gebruik dit vir kerse. Kry iemand om hulle in die helfte te sny en gebruik vir kruieplantjies of blomme, vir potlode, as waterglase en as kershouers. Loer hier om te sien wat jy alles kan doen met hierdie prag bottels.

lekker saam met

Hierdie is braai bykos op sy beste. By ‘n braai soek elkeen mos sy eie wyngunsteling. Of jy nou van rooi, wit of pienk hou, my gunsteling ontdekking van hierdie somer is beslis die Protea reeks wyne van Anthonij Rupert Wyne. Aanvanklik net beskikbaar oorsee, het hulle gelukkig besluit om dit nou met ons ook te deel. In die wit is daar Chardonnay, Chenin Blanc en Sauvignon Blanc – almal met ‘n kelderprys van net R50. So ook die rosé. In die rooi is daar Merlot, Cabernet Sauvignon en Shiraz, almal met ‘n kelderprys van net R60. Dis uitstekende waarde want hierdie is wonderlike wyne teen hierdie pryse.

Ek hou van hulle almal, maar was veral beïndruk met die Sauvignon Blanc wat bestaan uit ‘n vermenging van warm-klimaat druiwe (vir tipiese vrugtigheid) en koue-klimaat druiwe (vir vars groen ondertone). Dis perfek gebalanseer – ‘n regte sakpas kwaliteit somerwyn.

Beste van als? Die fraaie bottels wat met patrone geïnspireer deur proteas versier is. Loer langsaan vir idees met hierdie bottels.

Protea

scroll-main

Ook beskikbaar in: English