Ons het miskien laas week die warmste dag in ’n honderd jaar hier in die Kaap gehad, maar somer is definitief oppad uit. Die oggende hier begin nou ’n vars byt kry, wat my laat snuffel vir ’n ‘jersey’.

Ek het hoeka my oog op warm trooskos – osstert, melkkos, souskluitjies, pastei… Daar is darem iets om te sê vir herfs en winter. Een van my gunsteling trooskos blitsdisse, is my alles-in-een groente-en-wors oondgebak. Vinkel, rooiuie en wortels gekus met olyfolie en ’n skoot esdoringstroop – en varkworsies barstensvol saliegeur. Dis herfs op ’n bord. Tuimel die lot op ’n bakplaat, gooi dit in die oond en loop weg. Kannie makliker nie.

Al wat jy nodig het is…

8 varkworsies, of hoender- of beesworsies (ek’s versot op Woolies se Herbed Pork Sausages)
1 groot vinkelbol (Woolies het gewoonlik)
2 groot rooiuie
6 medium wortels, of 8 kleintjies
2E olyfolie
1E esdoringstroop (maple syrup)
seesout (ek gebruik Maldon, dis wonderlik)
knippie rissievlokkies (ek sê dis opsioneel, maar ek bedoel dit nie rêrig nie!)
8 salieblare
2E botter
korrelmosterd, vir bedien
bruinbotter-soetpatats, vir bedien (opsioneel, sien resep hier)

Voorverhit die oond tot 220 grade Celsius. Sit ’n groot kleefvrye bakplaat in die oond om warm te word. Was en sny die vinkelbol in 6-8 groot stukke. Skil en sny die uie in kwarte. Skil en sny die wortels in kwarte (of hou hulle heel as hulle baie klein is). Sit die groente in ’n groot mengbak en gooi die olyfolie, esdoringstroop, ’n stewige knip sout en knippie rissievlokkies oor. Meng goed deur. Tuimel die groente op helte van die bakplaat en plaas in die oond. Draai die oond af na 180 grade Celsius en rooster die groente vir tien minute.

Steek intussen ’n paar gate in elke worsie (doen jy dit nie, bars hulle in die oond). Skud die worsies in dieselfde bak as waarin jy die groente gehad het. Enige orige olie en spesery in die bak sal die worsies ’n ekstra klap geur gee. Verwyder die groente na tien minute, roer en voeg die worsies by op die ander helfte van die bakplaat. Sit dit in die oond vir nog 30 minute (roer een keer sodat die worsies alkant bruin bak). Sodra die groente sag en die worsies gaar is, verwyder en bedien dadelik met salieblare wat ’n paar sekondes in 2E botter gebraai is tot bros. Ek sê hierdie resep bedien vier, maar dis vier vrouens wat pik en figuurbewus is. As jy tienerseuns en ‘n ses-voet-vier man het, verdubbel die resep! In dié geval sal jy twee bakplate moet gebruik, want sit jy te veel op een bakplaat, stoom die lotjie in plaas van rooster. Jy kan hom ook rek met my bruinbotter-soetpatats.

bedien

4

vooraf

10 min

kook

40 min

scroll-main

goed om te weet

Keer vir die opwas

Bakplate neuk om skoon te kom as mens groente en vleis op hulle rooster. Selfs die kastige kleefvryes. My geheim? Ek voer hulle met bakpapier. Rol die lot op, gooi weg en die bakplaat is so te sê silwerskoon.

lekker saam met

My keuse hierby is Waterford se Pecan Stream Chenin Blanc 2014.

Dis 88% Chenin en 12% Viognier. Die gevolg? ‘n Vars wyn met diep geure van appelkoos en perskepit danksy die Chenin en lieflike blomnote danksy die Viognier. Hierdie is ‘n uitstekende elke-dag kopie met ‘n kelderprys van net R55 per bottel!

Glenelly

scroll-main

Ook beskikbaar in: English