My eerste kennismaking met sjerrie was op universiteit. Dis steeds vars in my geheue – vir al die verkeerde redes. As broekskeur student was ‘goedkoop en baie’ basies my enigste vereistes, vir so te sê enigiets. Dat dinge lelik sou raak met so houding was seker onvermydelik en sjerrie het sommer vinnig op my nooit-as-te-nimmer-weer-nie lysie beland, neffens kerrie-afval en polonie. Ek het darem na so tien jaar weer die lig gesien met sjerrie. En dis ’n goeie ding, want ons maak wonderlikes. (Kerrie-afval en polonie sit ek steeds my mond nie aan nie.)

Natuurlik mag ons nou al vir ’n hele ruk lank nie meer die term ‘sjerrie’ gebruik nie. Die Europeërs is erger oor dié naam as ’n Jack Russell oor ’n T-been. Net sjerrie wat van die Jerez-streek in Spanje kom mag sjerrie genoem word.

So hoe dan nou gemaak? Dis maklik, ons doop hom Pale Dry, Medium Cream en Full Cream. Jip, as jy een van hierdie terme op ’n bottel sien, is dit ’n ‘sjerrie’-styl wyn. Laas Donderdagaand los ek maar die Wêreldbeker openingseremonie (ek verstaan ek’t nie veel gemis nie) en vat die pad na Society Bistro in Tuine, Kaapstad vir ’n aand saam met KWV se ‘sjerrie’ mense. Eerste om te proe: KWV se Cape Pale Dry (soos sy naam sê, hy’s droog). By dit kry ons vis met ’n klapper korsie en ertjie-puree. Te genotlik. Volgende aan die beurt ’n gorgonzola-soufflé met chorizo-wors. By dit die effe soeter KWV Medium Cream. Liplek lekker. En toe dun snye Wagyu-bees bresaola. KWV se soet Full Cream is die perfekte antwoord vir die souterige, rokerige vleis. En dis nou die ding van hierdie wyne… Hulle mag ’n knersie iets bykry om hulle ’n alkoholvlak van so 17.5% te gee (teenoor die 12-14% van meeste wyne), maar dis steeds wyn, wat hulle perfek maak by kos.

Wat wou ou tannies wat na viooltjies ruik. As jy aan hierdie wyne dink, dink ’n soel somernag in Madrid. Dink ’n oulike Señor/Señorita wat sag Spaans in jou oor prewel en jou tapas voer. Seksie verby.

Met dit in gedagte maak ek ’n paar dae later ’n bottel KWV Cape Pale Dry oop. Ek gebruik daarvan om ’n vinnige maar heerlike garnaal-en-chorizo tapas dis aanmekaar te slaan. Ek was dit af met ’n slukkie of wat van die Pale Dry en droom van Javier Bardem.

Groete tot volgende keer
Lizet

Al wat jy nodig het is…

goeie olyfolie
200g chorizo-wors, in diagonale skywe gesny
2E fyngekapte uie
1 groot knoffelhuisie (so 1½E), fyngekap – en ek bedoel fyn!
½t gewone paprika
¼t soet gerookte Spaanse paprika (Woolies het)
klein knippie rissievlokkies (opsioneel)
300g garnale, skoongemaak maar met die stertjie steeds aan
70ml Pale Dry (i.e. droeë ‘sjerrie’)
Italiaanse pietersielie

Voor ons begin, eers ’n klein sedeprekie: Dis altyd ’n goeie idee om met goeie bestanddele te werk. Maar as ’n resep so min bestanddele het as hierdie een, is dit so belangrik as om jou bankbalans te balanseer. So koop die beste garnale en chorizo wat jy kan! Kom ons kook…

Verhit 4E olyfolie en braai die chorizo-wors oor ’n lae hitte vir twee minute. Verwyder en hou eenkant. Gooi die uie in die pan en braai oor ’n lae hitte tot die uie sag is. Voeg die knoffel by en braai vir ’n minuut. Voeg die paprika en rissie (as jy dit gebruik) by. Baie resepte voeg die paprika vroeër by, maar vir my brand dit maar maklik en dan’s dit bitter. Draai die hitte hoeër en voeg die garnale en chorizo by. Braai tot die garnale gaar is. (Hulle sal pienk en ferm wees, dit vat net ’n paar minute so wees versigtig dat jy hulle nie pap kook nie.) Voeg die sjerrie by en kook oor ’n hoë hitte vir 30 sekondes.

Gee hom nog ’n skootjie olyfolie, ’n stewige skoot gekapte pietersielie (so twee eetlepels) en bedien in klein bakkies vir mense om aan te peusel. Hierdie is nie bedoel om ’n maaltyd te wees nie. Dis ’n Spaanse-styl knabbelding en sal vier bedien. Bedien dit met klein bakkies groen olywe, my soetrissies, en geroosterde ciabatta natgemaak met olyfolie.

bedien

4

vooraf

10 min

kook

15 min

scroll-main

goed om te weet

Nog ‘n vinnige tapas idee met sjerrie

Braai een fyngekapte ui in olyflie tot sag. Voeg een huisie fyngekapte knoffel en ‘n teelepel vars tiemie by en braai vir twee minute. Verhoog die hitte en braai ‘n bakkie hoenderlewertjies in dieselfde pan. Jy wil hom bruin buite en nog effe pienk binne hê. Gooi nou ‘n kwart koppie ‘sjerrie’-styl wyn by (ek dink die Medium Cream is perfek hiervoor) en kook vir ‘n minuut.

Tuimel die hoenderlewertjies oor ‘n interessante mengsel klein slaaiblare, sprinkel geroosterde grofgekapte haselneute oor en bedien dadelik.

lekker saam met

Wat drink ek hierby? Natuurlik KWV se Pale Dry. Dis droog en propvol appelkoos, neute en heuning geure. Jy kan hom teen kamertemperatuur of koud bedien. Ek verkies hom koud.

As ‘sjerrie’-styl wyne vir jou ‘n nuwe ervaring is en jy verkies ietsie soeter om jou tone nat te maak, kies KWV se Medium Cream.

KWV Pale Dry

scroll-main

Also available in: English