Daar’s ‘n paar goed op hierdie aarde wat eenvoudig vir mekaar gemaak is – ek en Merlot, sjokolade en lemoen, tamaties en basiliekruid – en natuurlik bokmelkkaas en beet. Ek’s hoeka moeg vir die twee saam sien in slaai . Móég’s die ideale teelaarde vir een van my ‘wat as’ kombuisoomblikke. Wat as ek die kaas in ‘n neutekorsie sit en in die oond bak totdat dit ‘n warm, loperige wonderlikheid is? ‘n Kaasfondue in die kleine. En wat as ek dit bedien met beetskyfies, melba en ‘n paar baba slaaiblare? Toe probeer ek hom en dit werk. Hier’s hy, ‘n elegante knabbelding wat selfs jou skoonma sal laat dink jy’t styl.

Al wat jy nodig het is…

1 bokmelk camembert kaas (Fairview doen een) of ‘n camembert met
‘n bietjie blou by (Dalewood se Wineland Blue is uitstekend)
4E sesamsaad
2E koekmeel
1 eier, geklits
1 klein bossie beet
sonneblomolie vir diepbraai
ciabatta of baguette (dagoud is beter as vars)
handvol baba slaaiblare
1t elk heuning, rooiwynasyn en olyfolie, gemeng

Voorverhit jou oond to 150°C . Om die melba te maak, sny die ciabatta dun en sit die snye op ‘n bakplaat in jou oond om uit te droog. Dit vat net so 10-15 minute, hou dit maar dop dat jy dit nie brand nie. Goudbruin is goed.

Om die beetskyfies te maak, skil die rou beet, sny dit papierdun en braai dit in so 4cm sonneblomolie (bietjies op ‘n slag, anders word jou olie te koud). Dreineer die skyfies en sit eenkant om af te koel. Soos dit koud word, sal dit bros word.

Om die gebakte kaas te maak, rooster die sesamsaad in ‘n pan (sonder olie) tot lig goudbruin en gooi in ‘n plat bord. Rol die kaas in koekmeel, doop dit in die eier en rol dit dan in die sesamsaad. Sit die kaas op bakpapier op ‘n bakplaat en bak vir 10 minute. Jy wil die kaas net-net smelt, nie kook nie want dan val die spul uitmekaar. Bedien op ‘n groot bord sodat almal kan inklim en hulle eie kan saamflans. ‘n Stukkie melba, ‘n paar blare skrikgemaak met heuningvinaigrette, ‘n rojale smeersel warm kaas en uiteindelik ‘n beetskyfie bo-op. Perfek.

bedien

4

vooraf

30 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

Dis nie lui nie, dis slim

As jy nou nie lus het vir sukkel met ‘n ding diepbraai nie, koop sommer beetskyfies. Peerskyfies werk ook. Of los die beet en slaai heeltemal uit en bedien net die melba en die kaas – dis vir my ekstra lekker met ‘n sweempie heuning!

lekker saam met

Daar’s is ‘n hele paar wyne wat sal werk. ‘n Vrugtige Sauvignon Blanc kan doen. Riesling of Gewürtztraminer ook, maar hulle kos ‘n plaas se prys. Chenin is ook goed en hier in Suid-Afrika het ons hope.

‘n Goedkoop Chenin is maklik ‘n lelike gedierte wat swem in die oorryp pynappel geure. False Bay se Chenin Blanc is redelik kompleks met hope appel, appelkoos en tropiese vrugte – goeie waarde onder R60.

Monis Pale Dry

scroll-main

Ook beskikbaar in: English