Sjampanje-smaak en ’n bier-begroting… Dis my grootste kombuis-penarie. Vat nou maar gerookte salm. Ag jetejie, ek vrek daaroor. Eet ek dit? Haikôna. Dis sjampanje-begroting kos daai. Ek moet tevrede wees met die gerookte salm ‘off-cuts’. Daai stukkies wat oor is as hulle die grênd gerookte salm klaar verpak het. Maar ek kla nie. Salm is salm en die oorskiet is die helfte van die prys.

’n Blerts room, bietjie dille, ’n sopie vodka of wat en jy’t ’n blitsvinnige grênd pastasous vir as jou skoonma kom. In ’n ommelet saam met sprietuie en romerige feta-kaas is dit ’n staatmaker besige weeksnag ete. En dan’s daar natuurlik gerookte salm patee, die beste smeersel vir ’n sny ordentlike bruinbrood soos ouma hom gebak het.

Jy kan winkel salm patee koop ja, maar dié is ook ’n sjampanje-begroting storie. Nie net is tuisgemaak goedkoper nie, dit vat net 10 minute. Dis lekkerder ook. Die winkel-knaap is vir my maar meestal bra bleeksiel. Neewat, maak eerder self en gee jou gerookte salm patee behoorlik skop met uie, grasuie, hope suurlemoen vir die vars en ’n delikate swartpeper byt. Om hierdie gerookte salm patee super luuks te maak, bedien ek dit met kappertjie-bessies en pekel-radyse.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie (150g) gerookte salm ‘off-cuts’, fyn gekap
twee-derdes koppie roomkaas
1 opgehoopte eetlepel rooi ui, so fyn gekap as jy kan
2E gewone joghurt
2E mayonnaise
skil van een suurlemoen, fyn gerasper
sap van ’n halwe suurlemoen
1 opgehoopte eetlepel grasuie, baie fyn gesny (wenk: gebruik ’n skêr)
¼t grofgemaalde swartpepper
vir bedien:
kappertjie-bessies of klein non-pareilles kappertjies (Woolies se non-pareilles kappertjies is lieflik)
pekel-radyse (sien goed om te weet laer af vir hoe om blitsig jou eie te maak)

Plaas salm in jou voedselverwerker en blits tot dit fyn is. Voeg die roomkaas en rooi uie by en blits tot gemeng. (Ek verkies ’n growwer tekstuur vir my patee. As jy dit fyner verkies, blits eenvoudig langer. En as jy dit gourmet-styl fluweel wil hê, stoot die spulletjie deur ’n fyn sif.)

Voeg die joghurt, mayonnaise, suurlemoenskil en suurlemoensap by en blits om deur te meng. Voeg die grasuie en swartpeper by en blits net tot deurgemeng. Proe vir sout en voeg by indien nodig. As jy die patee effe skerper verkies, voeg nog suurlemoensap by. Vir meer parmantige byt, gee dit nog ’n draai of wat swartpeper. Skep in ’n opdienbakkie, bedek met plastiek en plaas in die yskas tot jy dit gebruik. Hierdie patee verbeter met die staan, so gee die geure ten minste ’n uur of wat om behoorlik kennis te maak.

bedien

4

berei

10 min

verkoel

1 uur

scroll-main

goed om te weet

Hoe om radyse te pekel

By hierdie resep soek ek niks te dominant nie, dus pekel ek die radyse net liggies. Dit kan nie makliker wees nie. Sny eenvoudig die radyse so dun moontlik en week hulle net vir ‘n minuut of wat in witwyn-asyn. Vir dinge wat ek langer pekel sal ek aromatiese dinge soos mosterdsade en dille asook sout, water en suiker bysit. Maar hierdie vinnige pekel het dit nie nodig nie.

scroll

Nog opsies vir hierdie resep

1) Vervang die grasuie met vars dille.
2) In plaas van 50/50 joghurt en mayonnaise, gebruik net joghurt of net mayonnaise om die patee te verdun. Vir my is 4E mayonnaise bietjie dominant, maar as mayo jou ding is, doen so.
3) Vervang die gerookte salm met gerookte snoek. Dis goedkoper en steeds ‘n wenner.

lekker saam met

Met die dat jy nou so lekker geld gespaar het met die goedkoper salm stukkies, spandeer daai ekstra sente op ‘n wonderlike wyn. My keuse hierby is Shannon Vineyards se 2016 Sanctuary Peak Sauvignon Blanc.

James and Stuart Downes woeker op hulle plaas in die koue Elgin vallei met premium kultivars in goeie terroir. Sedert die eerste Sauvignon Blanc oes in 2008 het hierdie wyn al goeie naam vir homself gemaak, maar James is veral in sy noppies met die 2016 oes. Hierdie is ‘n elegante wyn met die kraakvarsheid so tipies van Sauvignon Blanc goed aangevul deur 10% Semillon wat ‘n titsel hout gesien het.

Dit gee die wyn ‘n dieper, ryker profiel en help om die wyn nie net nou toegankliker te maak nie, maar te verseker dat hy ook vir ‘n goeie paar jaar sal kan lê. Op die neus is daar lieflike sitrus, witperske en peer. Op die tong is dit kompleks en intens.

Hierdie is ‘n premium SB – teen tyd van publikasie verhandel dit tussen R115-R125 per bottel. ‘n Regte bederf Sauvignon Blanc en die geld werd.

Shannon

scroll-main

Also available in: English