Sondagmiddag se roosterhoender – dis eenvoudig een van die beste dinge in die wêreld – mits jy dit reg doen. Kyk dis maklik om ’n hoender op te foeter, maar volg jy die reëls is dit net so maklik om dit reg te kry. Die reëls is eenvoudig, daar’s net twee: 1) Gebruik die beste, maar béste hoender waarop jy jou hande kan lê en 2) Moenie peuter aan die ding nie.

Met die ‘beste’ hoender bedoel ek dies wat vrylik rondloop en slakke uit die tuin krap, sonder enige sorge oor môre – wat die winkels ‘free range’ noem. Dis die enigste hoender wat ek ooit koop want hoewel ek nooit vegetaries gaan wees nie, het ek groot ‘issues’ oor die lewe wat diere gehad het voor hulle op my bord beland. As jy nie dieselfde sensitiwiteite het nie moedig ek jou steeds aan om hierdie roete te gaan. Hoekom? Eenvoudig – jy kan dit proe. Gelukkige hoenders is net meer ‘hoenderig’. Daar is ook trappe van gelukkig wees, want supermarkte se ‘free range’ hoenders is nou maar een maal nie naastenby so goed soos ’n properse plaashoender nie. As jy dus ’n vriendelike boer of twee ken of ’n ordentlike boeremark naby jou het is dit die eerste prys vir hoender koop. Met my sedeprekie uit die weg, laat ons praat oor wat jy met ’n hoender doen. Die antwoord? So min as moontlik. Meestal gee ek hom net ’n leksel olyfolie of smeertjie botter, hope seesout en swartpeper en gooi die knaap op ’n bed uie of preie en wortels in ’n warm oond.

Hoender met vulsel stop is nie bo aan my lys van gunsteling goed om met ’n hoender te doen nie. Nie oor dit ’n beginselsaak is nie verstaan. Dis oor ek meestal teleurgesteld is. My een uitsondering is die klassieke Franse ouma manier met ’n hoender – ’n vulsel van hoenderlewer, spek en salie. Die Franse noem dit poulet grand-mere. Ek noem dit ’n gawe idee.

Al wat ek hierby wil hê is ’n baguette met ongesond baie plaasbotter gesmeer en ’n paar kraakvars groen blare gekus met ’n parmantige Dijon-vinaigrette. Dít en natuurlik ’n goeie glas Sauvignon of twee – iets soos Groote Post se Seasalter Sauvignon Blanc wat onlangs aan my deur kom klop het. Soos meestal die geval met SA Sauvignons is daar lieflike vrugte te bespeur op hierdie wyn, maar oor dit alles lê ’n laag mineraliteit, so tipies van wyne van die Darling Hills area. Hierdie is nie ’n bring-en-braai, kom-ons-eet-tjops tipe wyn nie. Helfte van die wyn is immers in Franse hout verouder met die ander helfte wat op die moer in staaltenke gerus het. Dis elegant, kompleks en subtiel. Nes ek as ek my lyf Frans hou in die kombuis…

Al wat jy nodig het is…

groot 1,7kg plaashoender
3E gesoute botter, teen kamertemperatuur
¾ koppie sjalotte, so fyn moontlik gekap
halwe pakkie (125g) goeie spek, fyn gekap
2 opgehoopte eetlepels gesoute botter
250g hoenderlewer, rof gekap
2 koppies vars broodkrummels (Droog deug nie! Om jou eie vars krummels te maak, verwyder die korsies van vier snye witbrood en blits hulle in jou voedselverweker.)
groot handvol Italiaanse pietersielie, fyn gekap
5 salieblare, fyn gekap
2 uie, in kwarte gesny (of preie)
4 wortels, in groterige stukke gesny
¾ koppie water
1 Woolworths hoender-geur Liquid Stock Concentrate Stick
½ koppie vars room
seesout (ek gebruik Maldon)
growwe swartpeper

Voorverhit oond tot 210 grade Celsius. Smeer die hoender met die sagte botter en geur met sout en growwe swartpeper. Sit hoender eenkant. Braai die sjalotte en spek in twee hoogvol eetlepels botter tot sag en bruin. Voeg die hoenderlewer by en braai vir ’n verdere twee minute. Verwyder van die hitte en voeg die broodkrummels en kruie by. Geur met ’n stewige knip sout en so ses draaie swartpeper en roer om alles goed te kombineer.

Skep die vulsel in die hoender in en gebruik ’n stukkie katoentou om die hoender se enkels saam te bind – dit help dat die vulsel binne bly met die rooster. Sit die uie of preie asook die wortels in ’n oondskottel, gooi die water oor en plaas die hoender op die groente. Rooster tot goudbruin en deurgaar – 65-75 minute. (Hoe lank hy nodig het hang af van hoe groot hy is, toets na 60 minute deur die vetste deel van die dy te steek. As die vloeistof helder is, is hy gaar. ’n Sweempie pienk en nog ’n paar minute is nodig.)

Verwyder hoender en sit eenkant. Plaas skottel op die stoof (mits gepas daarvoor, of gebruik ’n pan). Voeg nog water by indien nodig – jy het so ¾ koppie vloeistof nodig in die skottel. Roer die hoenderekstrak by en verhit tot kookpunt. Verwyder die groente, voeg room by vloeistof in die skottel en proe vir sout en peper.

bedien

6

vooraf

15 min

rooster

65+ min

scroll-main

Also available in: English