Ek hou nogal van ’n uitdaging, amper soveel as wat ek hou van ’n verrassing. Gooi die twee bymekaar en jy’t my aandag. Toe die mense van ZZ2 my dus kontak en vra of ek deel sal wees van hulle Mouthwatering Box veldtog, sê ek vanselfsprekend dadelik ja. Wie is ZZ2? Jy’t hulle produkte waarskynlik al in jou plaaslike supermark gesien sonder om dit te besef. ZZ2 is ’n konglomeraat van boere in Limpopo, die Weskaap en die Ooskaap. Grootskaals organies is hulle ding en hulle groei uie, knoffel, appels, pere, avokado en tonne tamaties – ’n allemintige 160 000 ton per jaar om presies te wees. Maar dis nie al nie, hulle boer ook met beeste. Wat was my uitdaging? Hulle sou my ’n ‘surprise’ boks stuur gevul met wonderlike produkte. Al wat ek hoef te doen is met ’n resep vorendag kom wat ten minste twee van my boks bestanddele bevat.

Met die dat hulle met beeste boer, het ek nogal gehoop ’n koei of twee kom my kan toe. Daar was seker logistieke probleme met die pas, want die boks wat aan my voordeur kom klop het, het nie ‘gemoo’ nie. Ek was egter nie teleurgesteld nie, want binne my boks ontdek ek knoffel, uie, avokado en ten minste vyf soorte tamaties. Plompe rooi en geel nommers met eksotiese name soos Bacio, Flavio en Rigoletto. Dis om van opera te sing.

Dat tamaties my een ster moes wees, was sommer wors. Maar wat sou my ander een wees? Ek kon nie anders as om die knoffel te kies nie. Soos knoffel móét wees, was hulle lekker dik om die middel en sappig. Ek besluit net daar dat ’n bietjie olyfolie en so 30 minute se liefde in my oond hulle sal omtower in ’n soete hemelse knoffel puree.

Toe doen ek dit. Na die tyd druk ek die puree uit hulle huisies in ’n pan met olyfolie. By dit kom ’n knerts droë rissie en ’n paar ansjovis filette. Nou voor jy sê ‘jiggie’, wag eers bietjie. Want sien, ansjovis is ’n wonderlike ding – dit smelt weg soos jy dit kook en los jou met ’n intense, diep umami smaak. Volgende tuimel ek sommer baie tamaties in, plus ’n onmoontike groot handvol pietersielie, bietjie origanum en basilikruid. Ek tuimel die lot oor pasta. Omdat dit winter is en ek kleur nodig het om my op te beur, gebruik ek beet-pasta. So hier’s hy: Geroosterde-Knoffel-en-Vars-Tamatie Pasta. ’n Bietjie somer hier in die middel van die winter.

Baie belangrike naskrif: Jy kan ’n boks ZZ2 produkte en ’n R1 000 Checkers koepon wen! Hoe gemaak? Besoek eenvoudig ZZ2 se Facebook blad en vertel hulle wat jy sal kook met twee of meer van die volgende bestanddele: knoffel, uie, vars tamaties, songedroogde tamaties, avokadopere.

Nog ‘n belangrike ietsie: Ek weet ek het ingestem om net een dis te maak, maar ek het nog tamatie gehad, toe kook ek sommer ’n tweede. Hierdie keer met vléis. Dit sal môre op my webwerf wees, kom kuier dus dan weer.

Al wat jy nodig het is…

1 groot heel knoffelbol
350g tamaties (ek’t ’n mengsel van klein geel en rooietjies gebruik)
4 ansjovis-filette
12E goeie olyfolie (extra virgin), plus bietjie ekstra
knippie rooirissie vlokkies (ek hou van brand, dus is myne meer van ’n KNIP)
baie groot handvol vars Italiaanse pietersielie, rof gekap
1E vars origanum
handvol vars basiliekruid, geskeur
growwe seesout (ek gebruik Maldon)
growwe swartpeper
gekookte pasta van jou keuse
vars parmesaan, vir bedien

Sny die boonste 0.5-1cm van die knoffelbol af sodat die knoffelhuisies oop is. Gooi bietjie olyfolie oor die huisies, maak toe in foelie en rooster in ’n 200 grade Celsius oond vir sowat 30 minute, tot die knoffel ’n sagte puree is.

Berei intussen die tamaties. Sny hulle in die helfte of in kwarte, sit hulle in ’n vergitis en sprinkel een teelepel growwe seesout oor. Laat staan vir 20 minute. (Dis nie streng gesproke nodig nie maar, deur die tamaties met sout te laat staan, verwyder jy van die water. Die gevolg? ’n Tamatie wat meer intens tamatie proe. NB: MOENIE die tamaties afspoel na die tyd nie, dan loop sit jy net al die water weer terug. Moet jou ook nie bekommer oor die sout nie, meeste daarvan loop af saam met die water.)

Verhit 12 eetlepels olyfolie in ’n pan en druk die knoffelpuree uit die knoffelhuisies uit. Voeg die knoffel in die pan saam met die ansjovis en rissie. Kook vir net ’n minuut of twee tot die ansjovis gesmelt het. Voeg nou die pietersielie, origanum en tamaties by en skud die pan tot die tamaties net-net deurgewarm is. Jy wil hulle nie kook nie. Voeg die pasta by en meng deur. Proe vir sout en peper. Verwyder van die hitte en bedien onmiddelik met die basiliekruid oor en vars parmesaan-kaas vir die ekstra lekkerte.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

35 min

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir hierdie resep

As jy nie veel van ansjovis hou nie, laat dit uit, dit werk steeds. Jy kan swart Kalamata olywe ontpit en bygooi. Jy kan ingelegde artisjokke bygooi (Woolies s’n is net hemels). Jy kan ook hierdie resep gebruik as basis vir ‘n koue pasta slaai.

lekker saam met

Tamaties, veral rou tamaties soos in hierdie dis, het hope suur en jy’t ‘n wyn nodig met ‘n soortgelyke suurinhoud om dinge te balanseer. Sauvignon Blanc is die antwoord. Een van my sakpas gunstelinge is KWV se Classic Collection Sauvignon Blanc.

Dis vars, lig en droog met lieflike sitrus, pitvrugte en net ‘n titsel blom. Koop dit aanlyn by KWV vir net R40.

KWV

scroll-main

Ook beskikbaar in: English