As ’n vrou bedruk raak is daar net een genade – inkopies. In my geval, meestal vir skoene. Maar aangesien ek A) reeds so net duskant die veertig pare het B) omtrent net vyf gereeld dra en C) sal moet trek as ek nog net een paar koop, het ek wyslik besluit om op te hou. Nie sjôp nie, verstaan. Net sjôp vir skoene.

Deesdae vind ek my behaaglikheid in kos koop. Dis amper net so duur soos ontwerperskoene, so hoekom sal dit my nou nie dieselfde ‘thrill’ gee nie? Ek verkies die klein-outjie oulike goeters soos ’n boeremark, maar ’n supermark sal doen as ek in die knyp is. Soos nou die dag, toe ek desperaat by Checkers ingestorm het asof dit Jimmy Choo is.

Sien ek’t so pas nóg van my hard-verdiende geldjies vir Jan Taks loop gee. Verduiwelse oudit. Maar ek moet seker nou nie lelik wees nie. Ander het my geld baie meer nodig as ek. Ek’t gehoor Nommer Een het ’n tennisbaan nodig om te pas by die swembad en hoenderhok by Plekkie Nommer Een.

Mompelend is ek deur die winkel, aan’t lek aan my wonde en op soek na kosinspirasie. Toe sien ek die knaap – my kos ekwivalent van Ryan Reynolds… gemmerstukke die kleur van amber, in dik gemmerstroop. En ek vat hom huis toe. Die gemmer natuurlik, nie Ryan nie.

Hoe gemaak? Ek gryp nuwe-seisoen pere, skep sommer baie van die gemmerstroop oor en rooster hulle tot hulle die soete-verleiding stadium bereik (dis ’n erkende kookterm verstaan, soos posjeer en sous vide).  Ek bedien hulle met die gemmerstukke, souterige Gorgonzola-kaas en dukkah-beskuitjies. Meer as elegant genoeg om jou baas/skoonma/Ryan te beïndruk aan die einde van ’n wonderlike ete.   

Al wat jy nodig het is…

3 ferm pere (die met die geel/rooi skil, nie die groen skil nie)
bottel gemmerstukke in stroop (ek het illovo s’n gebruik)
1 suurlemoen
een vel skilferkorsdeeg (koop die een gemaak met regte botter – ‘Woolworths butter puff pastry’ – die goedkoop een proe soos saagsels en gaan nie hierdie resep enige gunste doen nie)
dukkah (hierdie aromatiese speserymengsel is so veelsydig en is te koop by meeste groot supermarkte en spesialis delis. Ek het Melissa’s s’n gebruik)
Gorgonzola-kaas

Sny die deeg in stroke van so 7cm wyd. Bedek die hele strook met ’n laag dukkah (soos jy met pannekoek en kaneelsuiker sal maak). Rol die deeg op (soos ‘n pannekoek) en sit dit in die vrieskas vir ’n paar minute om ferm te word. Sny dit nou in smal skywe (van so 3mm), plaas die skywe op ’n kleefvrye bakplaat en bak tot bros en goud in kleur. (Sien die verpakking vir die temperatuur.)

Jy kan die pere terselfdertyd rooster. Was hulle eenvoudig, sny in kwarte, bedruip met suurlemoen en dan met die gemmerstroop. Rooster tot hulle sag en gekarameliseer is. Hoe lank dit vat hang af van hoe ferm hulle is, maar 15-20 minute is meer as genoeg. Jy wil hom nou nie pap kook nie. Bedien die pere met nog van die stroop, gemmerstukke, dukkah-beskuitjies en Gorgonzola-kaas. Jy kan ook ’n sagte Camembert of Brie gebruik. Of bedien dit met Mascarpone-kaas vir ’n dis wat meer na die poeding kant as kaas kant toe neig. Hierdie is die perfekte resep vir onthaal. Jy kan alles vooraf maak en saamslaan net voor jy bedien.

bedien

6

vooraf

15 min

kook

20 min

scroll-main

goed om te weet

Wat is Edel Laatoes (Noble Late Harvest)?

Ek kan vir ure aangaan oor hierdie wonderlike knaap, maar ek wil jou nou nie verveel nie. Basies is dit ’n wyn gemaak van druiwe wat met ’n spesiale soort fungus (Botrytis Cinerea) bedek is. Dis nie die een wat jy tussen jou tone kry as jy nie plakkies in die gim se storte dra nie.

Nee, hierdie is ‘n spesiale fungus, ‘n edele knaap wat die druiwe uitdroog en suikervlakke verhoog. ‘n Stroopsoete, intens aromatiese wonderlikheid is die gevolg – vloeibare goud in ‘n glas.

lekker saam met

Bedien saam met ‘n yskoue Edel Laatoes (Noble Late Harvest – sien Goed Om Te Weet langsaan). Nederburg s’n is ’n groot gunsteling. Dis nie goedkoop nie, maar jy’s veronderstel om min te skink soos jy sal maak met Port.

As jy oorsee (of ryk) is, probeer ‘n Franse Sauternes, Duitse Beerenauslese, of Tokaji van Hongarye.

Nederburg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English