Ek’s nou al vir ’n hele ruk lank in sak en as – basies vandat ek uitgevind het dat ek nie op 2 Januarie my spierwit spookvelletjie rooi gaan brand nie. Sien, dís die dag wat die tradisionele Nuwejaars-krieketwedstryd by Nuweland gewoonlik begin.

Kapenaars ruk in hulle duisende op, met hulle Colemans, twee-liter Cokes en klein sakkies verbode harde hout, weggesteek op plekke waaraan ek liefs nie wil dink nie. Ek smokkel nie myne in nie, ek koop dit daar – bier in halwe-liter plastiekglase. Dis hoe ek wéét ek het ‘klaas’.

Ons gil, lag, klap, doen wat voel soos ’n duisend ‘Mexican waves’ en braai heeldag lank in die skroeiende son. Ek geniet my gate uit. As die outjies in hulle wit pakkies vir middagete van die veld afstap, tref die skare Nuweland se wegneemete hokkies soos ’n vloedgolf.

Ek verorber ’n ‘footlong’ warmbrak met al die ‘trimmings’ – gebraaide uie, mosterd én tamatiesous.  Ek’s nie seker presies hoe lank ’n voet nou eintlik is nie, maar dit klink wonderlik uitspattig. Knuppeldik en baie gelukkig, dis hoe ek voel na een van dié.

Maar nie hierdie Nuwejaar nie. Haikôna. Want sien, die hoof van Krieket Suid-Afrika, Haroon Lorgat, het blykbaar die Indiese krieketadministrateurs so effe onstig (dis nou as jy die koerant kan glo). My ma het my geleer godsdiens, seks en politiek is onderwerpe wat dames liefs moet vermy, so ek gaan my nou nie uitlaat oor die intriges van internasionale krieket nie. Al wat ek weet, is dat daar op 2 Januarie 2014 níks op Nuweland gaan roer nie – en ek en duisende ander gaan maar ’n ander plan moet maak vir ons Nuwejaar vermaak.

Wat ek ook al doen, ’n worsrol móét ek eet. Aangesien ek in beheer is, gaan ek hom ’n bietjie fênsie maak met ’n pikante soet en suur koolslaai en ’n knoffel-mosterd mayonnaise. Dis nou nie ’n Nuweland ‘footlong’ nie, maar dis darem iets. Ek dink ek gaan dit die Haroon Lorgat noem.

Al wat jy nodig het is…

Halwe koppie romerige winkel-mayonnaise
2E Dijon-mosterd (ek verkies Maille)
1 huisie vars knoffel, fyngedruk
1E geel mosterdsaad
1t vinkelsaad
3E goeie olyfolie
2E rooiwynasyn
2t heuning
sout
twee koppies kool (‘n mengsel van groen en rooi vir die mooi)
1 rooi ui
1 groot wortel
4 broodrolletjies
Duitse wors (Knackwurst of Bockwurst)

Maak eerste die mosterd-mayonnaise deur eenvoudig die mayonnaise, knoffel en Dijon-mosterd te meng. Sit dit opsy sodat die geure kan kennis maak.

Die soet-suur vinaigrette is volgende aan die beurt. Rooster die mosterd- en vinkelsaad in ’n medium-warm pan vir ’n minuut. (Jy wil dit net ’n effense kleurtjie te gee en die geur wakker klap, wees versigtig dat jy dit nie brand nie.) Verwyder en voeg die saad by die olyfolie, asyn, heuning en ’n stewige knip sout. Klits goed met ’n vurk.

Sny die kool, ui en wortel papierdun (ek gebruik ’n mandolien) en meng die vinaigrette deur die groente. Kook die wors soos jy verkies (in water, in ’n pan met olyfolie of op die braai) en bedien saam met die groente en mosterd-mayonnaise op enige broodrol van jou keuse.

bedien

4

vooraf

15 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

Nog idees vir vulsels

Ek’s mal oor vinkel by vark, so jy kan ook ‘n vinkelbol fynkerf en by die koolslaai voeg. Dille en radyse by die kool is nog ‘n opsie.

As jy bietjie meer byt verkies, voeg eenvoudig meer Dijon-mosterd by die mayonnaise. Of sit ‘n teelepel of wat sterker Engelse mosterd by

lekker saam met

Hierdie gourmet worsrol verdien ‘n ekstra spesiale bier. My keuse is Cape Brewing Company se Amber Weiss. Dit het onlangs die “Beste Bier” prys gewen by die Kaapstad Bierfees (die grootste bierfees in die Suidelike Halfrond.)

Volgende keer as jy bier koop, los maar die SAB een op die rak, hulle’s meer as ryk genoeg. Ondersteun vir ‘n verandering die kleiner,
onafhanklike outjies.

CBC beer

scroll-main

Ook beskikbaar in: English