Met honderde wynplase so te sê op ons voorstoepe is Kaapse mense bederf verby. Ek voel half sleg dat een van die naastes aan my, die Durbanville wynstreek, so vreeslik agterspeen suig. Dis slegs 20km van die stad af en dis ’n streek wat uitsonderlike wyne maak, soos ek laasweek weereens besef het toe die mense van Groot Phesantekraal my nooi om te kom kuier.

Ek huiwer voor ek die woord ‘terroir’ gebruik, want ek wil nie hê mense moet dink ek’s een van daai wynsnobs nie. Maar daar is iets besonders aan die Durbanville wynstreek, waar die son se warm strale afgekoel word deur die fris luggie van die nabye Atlantiese oseaan. Die resultaat? Intense vruggedrewe wyne wat kraakvars is.

Groot Phesantekraal bestaan al oor die 300 jaar. Die begin van sy storie is 1698, toe Goeweneur Simon van der Stel die grond aan Olof Bergh bemaak het – die einste knaap wie se naam op daai brandewynbottel staan. In 1759 is dit aan die Louw familie verkoop en daarna aan Arend Brink in 1897. Vandag se eienaar, Andre Brink, is die vierde geslag Brink op die plaas. Dis ’n properse werkende plaas met graan, skape, eende en ander plaasdinge. Andre en sy lieflike vrou, Ronelle, het besluit daar kort wyn ook, en 50 hektaar van die 840 hektaar plaas met druiwe beplant. Die eerste Cabernet and Shiraz het in 2005 die lig gesien en onder die wakende oog van wynmaker, Etienne Louw, het hulle vinnig hulle stem dik gemaak in die Durbanville vallei.

scroll-main

Die Groot Phesantekraal span: Eienaars Andre en Ronelle Brink en wynmaker Etienne Louw (regs).

scroll-main

Dit was my eerste besoek aan Groot Phesantekraal en ek het opgewonde die N1 noord uit Kaapstad gepak. Dinge het so te sê dadelik skeefgeloop danksy my GPS, wat besluit het ek moet soontoe via Budapest. Toe ek na in ’n uur uiteindelik in ’n veld erens noord opeindig sê my foon ek moet die laaste 5km te voet deur die modder aanpak.

My hare was ‘gefrizz’ en my senuwees ook toe ek uiteindelik laat daar aankom. As jy Groot Phesantekraal toe ry moenie soos ek maak nie, maak soos Ronelle sê: Vat die Okavango afrit van die N1 af, draai links en ry verby die Cape Gate inkopiesentrum. Bly op hierdie pad tot dit doodloop in die R302. Draai links, ry ’n paar meter en Groot Phesantekraal wag vir jou. So eenvoudig. My les vir die dag? Google weet nie álles nie.

Ek’s nie bekend daarvoor dat ek maklik oortreffende-trap tipe woorde rondgooi nie. Hierdie is een van daai tye, want Groot Phesantekraal is eenvoudig absoluut pragtig. Die sensitiewe restorasie van die 1767 muilestal is ’n meesterklas in die huwelik van nuut gekombineer met oud. Groot glasmure maak die proe-area lig en verwelkomend. Diep banke met reuse kussings oorgetrek in linne nooi jou uit om neer te plons.

In die somer is wynproe in die tuin met sy praguitsig oor die sagte Durbanville heuwels net die ding om te doen. Op ’n lente-oggend met ’n byt in die lug bly ons eerder binne – in die hoenderhok. Regtig, dis ’n ding. Die historiese kamer waar hoenders in 1767 in halfmaan hokkies nes geskop en eiers gelê het is steeds daar – genadiglik minus die hoenders.

Eerste om te proe om die blink lang tafel was Groot Phesantekraal se 2019 Sauvignon Blanc (die 2018 het beide Michelangelo en Veritas silwer gekry). Tropiese vrugte dartel op die tong saam my gunsteling op ’n Sauvignon, hope groenvye en net so titsel gras. Dis alles wat ek soek in ’n Sauvignon en goeie waarde teen R85 per bottel.

Volgende proe ons die Chenin (die 2018 het ’n Michelangelo dubbele goud gekry). Dis ongehout en vars met steenvrugte, pynappel, kweper en subtiele spesery. Chenin groei soos onkruid en in die hande van ’n traak-my-nie soort wynmaker is dit ’n gevaarlike knaap. Behandel jy hom reg is Chenin ’n pure plesier, soos hierdie een, fantastiese waarde teen slegs R60 per bottel.

Dit was interessant om hulle premium R140 Chenin, die gehoute Anna de Koning, daarna te proe. Dis groot en kompleks, by uitstek ’n koswyn met hope appelkoospit, marmalade en heuning te bespeur.

Toe was dit tyd vir rooi. Hulle 2017 Cabernet Sauvignon (die 2015 is vereer met Veritas goud in 2018) het daai tipiese Durbanville stowerigheid en kruie, plus hope rooi- en swartvrugte. Dit drink klaar sag, maar met so 3-5 jaar gaan dit werklik skitter. Teen net R120 is hierdie ’n goeie keuse vir ’n bederf-bottel rooiwyn.

Die laaste wyn in die vlug was hulle premium Pinotage, die Berliet. Hy kry sy naam van die Brinks se uiters rare antieke Franse Berliet kar, so mens sê nie ‘Berliet’ soos jy sal sê ‘Paarliet’ nie. Dis kommin. Nee, wys jy’t klas en doen dit reg – sê ‘Bêr-lie-ay’. Die 2017 het Michelangelo goud gekry en ek verstaan hoekom. Hou hom vir 8-10 jaar as jy kan (ek kan nooit) en sien hoe tyd hierdie wyn net beter maak.

Na al die wynproe was dit tyd vir Groot Phesantekraal se restaurant in die ou muilestal waar sjef Juan van Deventer en sy vrou Maret koning kraai. Soos met die res van hierdie gebou het die Brinks hulle bes gedoen om die historiese te bewaar. Die oorspronklike steenvloer is steeds daar, blink gepoets met ’n lagie moderne harpuis om te keer teen die 21ste eeu se hoë hakke. Die houtkuipe waaruit die muile gevreet het is ook steeds daar, so ook die houtbalke. Dis die perfekte warm agtergrond vir die vars wit mure en minimale dékor.

Ek het die varkmaag bestel en laat ek dit nou maar prontuit sê – dit was by verre die beste varkpensie wat ek nog ooit mond aan gesit het, en ek kén van ’n vark.

Groot Phesantekraal se spyskaart is seisoenaal, maar die gunstelinge soos hierdie vark is altyd daar. Die restaurant is oop vir ontbyt (08:00-11:00) en vir middagete (12:00-15:00) van Dinsdag tot Vrydag. Saterdae is anders, met ’n ‘brunch’ spyskaart vanaf 09:00 tot 14:30. Moenie vergeet om te bespreek nie! (As jy vir die somervakansie in die Kaap gaan wees, let daarop dat hulle gesluit gaan wees vanaf 21 Desember 2019 tot 14 Januarie 2020. Boere moet ook rus.)

Groot Phesantekraal is oop vir wynproe en wynverkope Dinsdag tot Vrydag vanaf 08:30 tot 16:30 en op Saterdae vanaf 09:00 tot 14:30.

Dankie vir die uitnodiging Andre en Ronelle. Ek kom terug – vir die wyn, vir die besonderse mooi en gewis vir daai vark.

Die restaurant span: Egpaar Juan en Maret van Deventer.

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling.

scroll-main

Also available in: English