Kook jy hom reg is ’n hamburger ’n wonderbare ding. Dis goedkoop, maklik en vinnig. Beste van als? Dis gesond. Nou voor julle almal frons en strenge kitskos vingers in my rigting wys, laat ek vinnig byvoeg ’n hamburger is gesond MITS jy hom self maak en weet wat’s in hom.

Gebruik goeie gehalte laevet bees-maalvleis en jy het nie veel meer as ’n leksel sout en swartpeper nodig nie. Maar vir hierdie hamburger loop sit ek my amperse vulgêre groot goue hoepeloorbelle aan en hou my lyf Señorita.

Want sien ek’t baba tamaties en ’n baie ryp avokado oor in die #MyHealthyPromise boks wat ZZ2 ’n ruk terug kom aflewer het. Guacamole klink na ’n plan. Ek gooi hope geurige koljanderblare en lemmetjiesap by om deur die romerige avokado wonderlikheid te sny. Ek kap gebottelde jalapeno-rissies fyn en stop my maalvleis met die rissie en ’n klein handjie mozzarella. In die pan in, ’n teugie of wat wyn terwyl hy braai en minute later lê ek weg. Hierdie hamburger lyk of hy jou are gaan laat toeklap. Maar dis net lyk. Want sien, gesond eet kán lekker en mooi wees.

WEN WENK: ZZ2 het ’n R2 000 prys vir een gelukkige wenner in hulle #MyHealthyPromise veldtog. Vind uit hoe hier.

Al wat jy nodig het is…

Vir die guacamole
1 groot ryp avokado
2E fyngekapte rooiui
4E fyngekapte ryprooi baba tamaties
⅛t fyn knoffel
⅛t sout
⅛t growwe swartpeper
2E koljanderblare
2E vars lemmetjiesap (2 klein lemmetjies)
paar druppels Tabasco (na smaak)
Vir die hamburger
Halwe rooiui, fyn gekap
600g goeie laevet bees-maalvleis
1 sny witbrood, in water geweek
2E fyngekapte koljanderblare
2E fyngekapte pietersielie
1 klein eier, geklits
½t sout
3E fyngekapte gebottelde jalapeno-rissies (Woolworths hou dit aan)
mozzarella-kaas
bottel braaisous (ek gebruik Pick n Pay se bekostigbare Steakhouse Sauce)
olyfolie, vir braai
broodrolletjies, vir bedien
baba botterslaai en mikro-blare, vir bedien

Druk die avokado fyn met ’n vurk. Hoe fyn jy hom maak is jou keuse, ek verkies hom romerig met ’n paar groter stukke avokado vir tekstuur kontras. Voeg die res van die guacamole bestanddele by, meng goed en bedek die oppervlak met kleefplastiek om lug uit te hou. Hou koud in die yskas tot jy dit gebruik.

Om die hamburgers te maak, braai die rooui in bietjie olyfolie tot sag. Voeg die ui by die maalvleis saam met die sout, brood, eier, jalapeno-rissie en kruie en meng deur. Vorm vier burgers. Braai in 2E olyfolie in ’n kleefvrye pan tot gaar na smaak. Verf die burgers met die braaisous vir die laaste paar minute se braai. Doen jy dit vroër brand die suiker in die sous.

As hulle gaar is, bedek elke burger met ’n sny mozzarella en sit die deksel op vir ’n paar sekondes om die kaas te smelt. (Ek het aanvanklik die kaas in die middel van die burger gestop. Teoreties ’n gawe idee, maar tensy jy jou burger behoorlik deurkook smelt die kaas nie. Ek verkies myne medium, so dus verander ek die resep met die kaas liefs bo-op.) Bedien dadelik met ’n vris skep guacamole.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

10 min

scroll-main

Ook beskikbaar in: English