Dis was nie maklik nie, maar iemand moes dit doen – dis nou die laaste krummel Kerskoek en koekstruif ‘polish’. Met die dat ek vreeslik omgee vir ander se gesondheid, steek ek toe maar my hand op. En met die dat ek nie dinge half doen nie, is die skade aansienlik. Hoe groot wil ek liefs nie weet nie, dit sal my net in ’n Nuwejaar ‘tailspin’ instuur. Maar ek vermoed die gevolge van twee weke se onbeheerste oordaad gaan twee maande neem om ongedaan te maak. Ouer word is nie vir sissies nie.

Ooghare vir ‘banting’ het ek nie juis nie, maar laas Januarie se marteling het my tog geleer as ek koolhidrate beperk tot net één keer per dag en dít in die oggend, dril my dye sommer vinnig minder. Genadiglik is dit nie die einde van die wêreld nie, sit genoeg geur in kos en die styselduiwel bly in sy boks. Met vars suurlemoen, hope pietersielie, knoffel én kappertjies het hierdie hoender resep uitklop geur. Die inspirasie daarvoor is Italiaanse ‘pollo al limone’. Meeste ‘limone’ resepte sluit meel en bietjie witwyn in. Ek kul en vat kortpad want ek soek binne 15 minute iets op my bord.

Tuisgemaakte pappardelle pasta of ryk parmesaan-kapokaartappels is natuurlik heerlik hierby. Maar as jy ook die styselduiwel hierdie Januarie vermy, bedien dit met kraakvars baba slaaikoppe vars uit jou tuin.

Al wat jy nodig het is…

3 groot hoenderborsies
2 groot knoffelhuisies, ongeskil
4E olyfolie
2E gesoute botter (laat dit uit as jy nou rerig moet!)
sout en growwe swartpeper
sap van een suurlemoen
groot handvol Italiaanse pietersielie, rofweg gekap
hoogvol eetlepel piepklein non pareilles kappertjies (capers), Woolies het
paar koppe baba slaaiblare, gewas en in die helfte gesny

Sny elke hoenderborsie in twee horisontaal sodat jy twee dunner stukke uit elke borsie kry. Verhit ’n dikbodempan tot goed warm en voeg dan die olyfolie by. Gee die knoffelhuisies ’n behoorlike klap met die plat kant van ’n mes sodat hulle platter en effe oop is. (Moenie die skil verwyder nie, dit keer dat die knoffel brand.) Gee die hoenderstukke alkant goed sout en sit hulle in die pan saam met die knoffelhuisies. Braai op hoë hitte tot goudbruin. (Hou hom dop, bors is die droogste deel van ’n hoender – jy soek hom net-net deurgaar, nie dor soos ’n kamp vir geheelonthouers in die Sahara nie.)

Verwyder die pan van die hitte en voeg dadelik die botter, pietersielie en kappertjies by. Die intense hitte van die pan sal die botter laat smelt. Sodra dit gesmelt is, voeg die suurlemoensap by en wikkel die pan om al daai lieflike bruin stukkies van die bodem van die pan te lig.

Gee dit ’n klap peper, proe vir sout en stapel die hoender op die slaai. Gooi al die pansous oor die hoender en bedien dadelik. Hy’t nie slaaisous nodig nie, die pansous is voldoende. Ek’s mal oor die kontras van sagte warm vleis en ’n sout-suur warm sousie op kraakvars slaai.

bedien

2

vooraf

5 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

Lief jou hart

Laat die botter uit en hou jou lyf Mediterreens deur ‘n paar gekapte ansjovis-filette in die olyfolie in te smelt. ‘n Handvol ontpitte calamata-olywe ook by en jy’s reg.

scroll

Nie mal oor hoender nie?

Volg die resep soos hierbo, maar vervang die hoender met dun bees ‘minute steaks’.

lekker saam met

Merwida Sauvigon Blanc is nou al jare lank ’n groot gunsteling van my en ek’s bly om te sien hierdie Breedekloof landgoed begin nou die aandag kry wat hulle geniet. Hulle 2015 Sauvignon Blanc is gekies as een van FNB se Top 10 Sauvignon Blancs. Platter gee hom ook vier sterre.

Hierdie wyn is kompleks met hope koejawel, lieflike aspersie en ’n verfrissende suurbalans. Dis ideaal saam met kos. Beste van als? Die prys. Ek’t een opgetel vir onder R65.

Merwida

scroll-main

Ook beskikbaar in: English