Koek is ’n gevaarlike ding. Vra my, ek wéét.

Dis nie dat en nie van koek hou nie, maar vir elke tien sekondes wat ek na koek kyk, tel ek ’n halwe pond op. Ek oordryf nie hier nie mense. Party van julle kén van – soustannie gene is nie vir sissies nie.

Aangesien snoesig mollig nie meer sou oulik is as wat dit in my ouma se tyd was nie, sê ek dus meestal maar nee, behalwe… as dis sjokolade- of kaaskoek is. Ag jenetjie, dan kom peuter die duiwel. Soos hy laas Saterdag gedoen het.

Ek het roomkaas in die yskas gehad. Daar was seker baie ander dinge wat ek daarmee kon gemaak het as kaaskoek. Maar ek het toevallig ook ’n halwe kartonnetjie karringmelk gehad. ‘Wat as’ was die onvermydelike gevolg. Wat as ek kaaskoek maak, en die karringmelk bygooi? Toe maak ek dit, en dit werk. Die tekstuur is baie ligter as wat dit sal wees in ’n kaaskoek wat net roomkaas bevat. En jy kan beslis die karringmelk proe. Ek maak hom nie te soet nie, want ek bedien hom met soutkaramel-sous. Die diep, amper effe bitter smaak van donker karamel met net ’n titsel sout is die perfekte pasmaat vir die romerige karringmelk-roomkaas vulsel. Bedien dit vir tee of as nagereg. (Wenk: jy kan hierdie resep minder moeite maak deur ’n beskuitjie basis te gebruik in plaas van een wat jy bak. Loer na Goed Om Te Weet hieronder en vind uit hoe maklik dit is!)

Al wat jy nodig het is…

Vir die kors
300g koekmeel
175g sagte botter
60g strooisuiker
2 eiergele
¼t vanielje essens
2E water

Vir die vulsel
300ml karringmelk
2 x 230g bakkies gewone roomkaas
150g strooisuiker
¼t vanielje essens
knippie sout
4 ekstra groot eiers

Vir die soutkaramel
75g witsuiker
75g ligte bruinsuiker
50g ongesoute botter, in blokkies gesny
200ml room
halwe teelepel fleur de sel sout (ek het Maldon gebruik)

Blits al die korsbestanddele saam in jou voedselverwerker tot die bestanddele net, net bymekaarkom. Verwyder, druk dit in ’n bol, rol dit toe in kleefplastiek en sit in die yskas vir ’n uur.

Maak intussen die soutkaramel so: Sit die wit- en bruinsuiker in ’n dieperige pot op ’n warm plaat en laat dit smelt (moenie roer nie). As die suiker alles gesmelt is en ’n mooi goue karamel kleur is, verwyder van die hitte en klits die botter in. (Dit sal gevaarlik borrel. Moenie skrik nie, dis normaal – hou net aan klits.) Klits dan die room by asook die sout. Sit opsy.

Sproei ’n losbodem-pan met Spray ’n Cook. Gebruik jou vingers om die deeg eweredig op die bodem van die pan en al langs die kante te druk. Probeer die deeg so dun moontlik hou, veral op die bodem van die pan – mik vir 2-3mm. Bak teen 180 grade Celsius vir 15 minute tot lig goudbruin. Verwyder en laat afkoel in die pan. Meng die vulsel bestanddele – wees versigtig om dit nie te veel te meng nie, ’n handklitser doen die ding. Gooi in die kors en bak teen 170 grade Celsius vir 70 minute. Skakel die oond af hou koek in die oond vir nog ’n uur. Ek verkies gebakte kaaskoek teen kamertemperatuur, maar as jy dit koud verkies, koel dit af voor jy dit in die yskas sit.

bedien

10-12

vooraf

20 min

bak

70 min

scroll-main

goed om te weet

Beskuitjie basis

Blits eenvoudig 300g Nutty Crust beskuitjies in jou voedselverwerker tot dit soos fyn broodkrummels lyk. Meng die beskuitjies met 90g sagte kamertemperatuur botter (nie gesmelt nie) en voer die bodem en kante van jou pan daarmee. Gooi die kaaskoek vulsel in en bak.

lekker saam met

‘n Koppie koffie sal gaaf wees hierby. Maar as jy dit vir nagereg bedien en ‘n knertsie daarby will voorsit, is iets soets soos Pierre Jordan se Ratafia met sy wonderlike heuningeure net die ding.

Bedien dit yskoud in piepklein elegante glasies en wys jy’t styl.

Ratafia

scroll-main

Ook beskikbaar in: English