Daar’s min goed so veelsydig as ’n ordentlike varkworsie. Nie net bedoel vir ontbyt saam met eier en spek nie, hulle’s eintlik my gunsteling vir aandete. Dink broodrolletjies met varkworsies, uie-marmelade en hope outydse soet mosterd. Dink kapokaartappels met uie-sous en ertjies. Dink worsies in ’n slap-deeg kombers.

En dan’s daar natuurlik eindelose moontlikhede vir wors verander in ’n heeltemalle ander ding… Soos my Frans-geïnspireerde Kers-patee met haselneute, salie en ’n goeie skoot brandewyn. Nou praat jy mos.
Ek bedien dit met ’n kits rooibosbessie-blatjang.

Al wat jy nodig het is…

Vir die patee
2 pakkies strepiespek (‘streaky bacon’)
2 vars lourierblare
vleis van 6 varkworsies (Ek het Woolies se ‘herbed pork sausages’ gebruik, hulle’s héérlik.)
1 koppie vark maalvleis (jy kan dit vervang met nog varkworsie vleis, maar die patee sal digter en swaarder wees, jy sal ook die sout moet verminder aangesien die wors klaar sout bevat – sien GOED OM TE WEET hieronder)
1 koppie hoenderlewers, fyngekap
½t knoffel, fyngekap
1E vars salie, fyngekap
¼t vars roosmaryn, fyngekap
1E Italiaanse pietersielie, fyngekap
derde teelepel growwe swartpeper
derde teelepel sout
½ koppie heel haselneute
¼ koppie goeie brandewyn

Vir die rooibosbessie-blatjang
1 klein bottel rooibosbessie jellie (‘cranberry’)
¾ koppie gevriesde rooibosbessies
sap van ‘n halwe suurlemoen (plus ekstra na smaak)
2E water

Trek die agterkant van ’n mes met die lengte langs van elke stuk spek om die spek dunner en langer te maak. Sit die lourierblare op die bodem van ’n oondvaste terrien-bak. Voer die bak met die spekrepe – maak seker dat die repe oorvleuel. Meng die patee bestanddele en skep dit in die terrien-bak. Vou die ente van die spek oor die patee vulsel sodat jy met ’n netjiese ‘pakkie’ opeindig. Bedek met foelie en plaas die terrien-bak in ’n groter oondvaste bak. Gooi 4cm water in die groter bak en plaas dit in ’n 140 grade Celsius oond vir 2 ure. Verwyder en laat dit tot kamertemperatuur afkoel en plaas dan in die yskas. Maak hierdie patee twee dae voor die tyd. Dit gee die geure kans om te ontwikkel, haal die angs uit Kersonthaal én vermy enige Eskom beurtkrag paniek/ergenis op die dag!

Om te bedien, verwyder die patee uit die terrien bak, vee enige jellie of vet aan die buitekant af sodat die patee mooi netjies is.

Om die rooibosbessie-blatjang te maak, plaas die jellie, suurlemoensap en water in ’n klein pot en verhit om die jellie te smelt. Voeg die gevriesde rooibosbessies by en kook vir ’n minuut of twee. Proe en voeg nog suurlemoensap by indien nodig – sommige jellies is baie soet en jy wil gewis ’n pikante suurigheid hê om die soet te balanseer. Sit voor met bros baguette en kraakvars goente soos seldery en komkommer.

bedien

10-12

vooraf

20 min

kook

2 ure

scroll-main

goed om te weet

Hoeveel sout?

Enige patee moet perfek gegeur wees voor jy dit in die oond gooi. Ek weet nie van jou nie, maar rou vark en lewer is nie ‘n ding wat ek in my mond wil sit nie.

Hoe gemaak? Skep eenvoudig ‘n teelepel van die mengsel in ‘n warm pan en braai dit tot gaar. Proe en sit meer sout en peper by soos nodig. Hierdie truuk werk ook as jy wonder of jou burger mengsel reg gegeur is.

lekker saam met

Jy kan so te sê enigiets hierby bedien, ‘n ligte rooi, ‘n rosé of ‘n wit. My keuse hierby is Beaumont se 2014 Chenin Blanc. Die kelderprys van hierdie ongehoute Chenin is R75. Met 4 Platter sterre is hierdie ‘n uitstekende Kerskopie.
As jou Kersbonus aan die uitspattige kant was, haal uit en wys met Beaumont se Hope Marguerite Chenin Blanc.

Hierdie elegante, wonderlik komplekse wyn word in hout gefermenteer en verouder. Wenner van vier 5-ster Platter toekennings oor die jare, Hope Marguerite is ‘n regte Kerstyd bederf. Die kelderprys is R185.

Beaumont

scroll-main

Ook beskikbaar in: English