Daar’s ’n snaakse ding wat elke jaar met my gebeur hier in die laaste week van Oktober. Soos die blink Kersgoeters in winkels begin verskyn, word ek oornag ’n paar dekades jonger. Want kom dit by my en Kersfees, is dit nie ’n geval van hou-van nie. Dis meer kopaf-dol-oor. Soos ’n sesjarige.

Ek weet Kersfees gaan oor ander dinge as die liggies en die blink. Maar dis die een tyd van die jaar wat my natuurlike liefde vir oordaad nie wenkbroue lig nie. Ek poets my silwer en kristal, pluk armsvol wit krismisrose douvoordag en, as die son sak, glim en glinster my wêreld in kerslig.

Uit my kombuis onstnap die geure van Kersfees. Kaneel, naeltjies, neutmuskaat en lemoen – ek maak Heksie Hartley se Krismis vrugtekoek. Heksie was natuurlik ’n bynaam. Sy was alles behalwe. Hierdie sou haar 98ste Kersfees gewees het. Dis die ‘magic’ van resepte, hulle leef voort.

Heksie se Krismiskoek het ’n effe ligter, krummelriger tekstuur as baie ander Kerskoeke. Ek versier hom nie en bedien hom beslis nie saam met tee nie. Nee wat, ek maak eerder een van my bottels lemoene of koemwkat wat al van Junie af knus in stroop lê daarby oop. En ek bedien dit met geklopte room en vonkelwyn in kerslig.

Al wat jy nodig het is…

2 koppies pitlose rosyne
2 koppies goue sultanas
2 koppies korente
¼k brandewyn
2E bruinsuiker
¼k water
1½k botter, teen kamertemperatuur
1½k bruinsuiker (ek’t Selati muscovado gebruik)
6 eiers
1 x 100g houertjie gemengde sitrusskil (Moir’s s’n is net reg)
2 x 75g houertjies glacé-kersies, heel of in die helfte gesny
¾k amandels, rofweg gekap
3k koekmeel
½k brandewyn (ek het KWV se 3-jaar een gebruik)
¼t sout
1½t gemengde spesery (mixed spice)
1t fyn kaneel
2t bakpoeier
bottel lemoen of koemkwat in stroop, vir bedien
versoete geklopte room of vanielje-roomys, vir bedien

Baie vrugtekoek resepte vra dat jy die vrugte oornag in brandewyn week. ‘Never mind’ laaste in die tou, ek was glad nie in die kamer toe geduld uitgedeel is nie. Dus help ek die spulletjie aan deur die rosyne, sultanas en korente vir vyf minute te kook saam met ’n kwart koppie brandewyn, kwart koppie water en 2E suiker. Laat die vrugte in die vloeistof afkoel en dreineer daarna.

Drink ’n koppie tee, bel jou ma en berei jou pan terwyl jy wag dat die vrugte afkoel. Smeer die pan met botter en bedek die bodem met twee sirkels bakpapier. Voer die kante van die pan met ’n dubbele laag bakpapier wat 4cm bo die rand van die pan uitsteek.

Verroom die botter en die suiker goed. Voeg die eiers een op ’n slag by en klits. Voeg die gedreineerde vrugte, sitrusskil en neute by en roer deur. Sif die meel, bakpapier, sout en speserye oor en meng deur. Gooi laaste die brandewyn in en meng goed.

Hierdie vrugtekoek deeg is hopeloos te dik vir gooi, jy sal die mengsel met ’n groot lepel in die voorbereide koekpan moet skep. Bak teen 160 grade Celsius vir 90-120 minute. Toets na 90 minute deur ’n dun mes of sosatiestokkie in die middel van die koek te steek. As dit skoon uitkom, is die vrugtekoek gaar. Verwyder en gooi twee eetlepels brandewyn oor terwyl nog warm.

Laat die vrugtekoek afkoel en draai dit dan stewig toe in foelie en laat dit ryp word vir twee weke. Gee hom nog twee eetlepels brandewyn halfpad deur.

maak

1 groot

bak

90-120 min

rus

2 weke

scroll-main

goed om te weet

Speel bietjie

Gebruik hierdie resep as basis en speel met die vrugte en neute. Vervang die amandels met haselneute of pekanneute, of vervang die kersies met gedroogde bosbessies (week hulle eers saam met die rosyne in die brandewyn).

scroll

lekker saam met

Ons is gelukkig om ’n groot verskeidenheid betroubaar goeie MCC vonkelwyne in SA te hê. Daar’s wonderlike keuses in die R100-R130 prysklas. Een van hulle is Leopard’s Leap se Culinaria MCC. Anders as soveel ander MCCs, bevat hierdie een al drie druifsoorte in Franse sjampanje – Chardonnay (59%), Pinot Noir (29%) en Pinot Meunier (12%).

Dit het lieflike rooibosbessie op die tong en ’n verfrissende vrugte/suur balans. Dis beskikbaar op hulle webwerf teen R125.

Leopard's Leap

scroll-main

Also available in: English