Ek vrek oor Kersfees. Watwou wag tot Desember – my Kerskoek is gebak en my huis is al van 1 November af in Kersgewaad getooi! Kersfees op die brein mense, wat kan ek sê. En dis hoe dinge soos hierdie resep gebeur. Terwyl ek vroegoggend lê en wonder of ek honger genoeg is om op te staan besluit ek feesgeure hoort in elke maal. Toe meng ek granola – en prop dit vol hemelse spesery. Ek sit die lotjie in die oond en binne minute ruik die hele huis na Kersfees.

Al wat jy nodig het is…

4 koppies outydse hawermout (loer in die gesondheidskosafdeling van jou supermark vir ‘rolled oats’)
knippie sout (’n agtste van ’n teelepel)
1½ koppies rou amandels (heel of baie rofweg gekap)
2t kaneel
2t gemengde spesery (mixed spice)
derde koppie sonneblomolie
10E Illovo Maple Flavoured Golden Syrup
1 koppie gedroogde bosbessies (cranberries)
½ koppie goue sultanas

Voorverhit jou oond tot 155 grade Celsius. Voer twee bakplate met bakpapier (dit maak die skoonmaak makliker). Plaas die hawermout, sout, amandels, kaneel en gemengde spesery in ’n groot bak. Gooi die olie en stroop oor en meng goed (dis miskien morserig, maar hande werk beste hiervoor!)

Verdeel die mengsel in twee en skep dit op die bakplate. Versprei in ’n eweredige lagie. Plaas in die oond vir 40 minute, maar roer dit goed na die eerste 20 minute. Verwyder die granola en laat dit heeltemal afkoel. Voeg die bosbessies en sultanas by en stoor die granola in ’n lugdigte houer.

Bedien hierdie granola saam met dubbel-room Griekse joghurt of vanielje joghurt. As jy vars vrugte ook daarby wil bedien is piesang of plompe somerryp appelkose ’n goeie kombinasie saam met die Kersgeure van hierdie granola.

maak

baie!

vooraf

10 min

bak

40 min

scroll-main

Ook beskikbaar in: English