Maak nie saak hóé groot die Groot-Kersfees-Eet was nie, in my boek is daar aan die einde van enige feesmaal altyd plek vir koffie – al moet ek ’n knoop of twee losmaak en effe terugsit. As daar plek vir koffie is, is daar mos plek vir sjokolade by die koffie en wat is dan nou meer spesiaal as truffels? Om truffels te koop is belaglik duur, sommer simpel ook want truffels is maklik en pret om te maak.

Op sy eenvoudigste is truffels net ’n dik sjokolade-ganache wat in balletjies gevorm word en in kakao, versiersuiker, neute of selfs klapper gerol word vir die mooi. Maar eenvoudig is nie my woord vir Kersfees nie. Dít hou ek vir Januarie wanneer die bankbestuurder vir my frons. Vir die feesseisoen is my woorde oordaad en bling. En dís hoe dit is met hierdie truffels – pure uitspattigheid.

Gee my ’n boks sjokolade en ek snuffel heel eerste die een met die kersie en kirsch in uit. So hoekom dan nou nie die wonderlike kombinasie van kersie en sjokolade vir my truffels nie? Die ganache kry ’n stewige sopie kirsch en ’n maraschino-kersie word in elkeen weggesteek. Dan’s dit ’n rollery in amandels en uiteindelik ’n buitenste laag suiwer sjokolade. Genoeg? Natuurlik nie! Hulle vra vir ekstra bling en kry dit in die vorm van eetbare sterretjies en glitter.

Al wat jy nodig het is…

250ml vars room (hoe dikker die room – m.a.w. hoe hoer die vetinhoud – hoe beter)
200g 70%-kakao sjokolade (ek het Lindt gebruik) en 200g melksjokolade, gekap
1-2E kirsch (opsioneel)
20 maraschino-kersies
koppie gekapte amandels, in ’n droë pan gerooster tot goudbruin (ek het Woolworths se Almond Sprinkles gebruik, dis perfek gekap hiervoor)
kakao
groot blok melksjokolade
eetbare skittergoedjies

Sit die room in ’n groot glasbak en verhit in die mikro tot goed warm, maar moet dit nie laat kook nie. Gooi die gekapte 400g sjokolade by die room en roer goed tot alles gesmelt is. Bedek en plaas in die yskas vir ten minste 4 ure om te set. Dreineer die kersies en plaas op kombuispapier om droog te word. Skep eetlepels van die koue ganache en vorm balletjies. Druk ’n holte in elke balletjie en plaas ’n kersie in die middel. Vou die ganache toe oor die kersie en rol in die amandels. Die balletjie sal sy vorm effe verloor in die proses, so rol hom eenvoudig weer tot mooi rond. (As dinge bietjie te morsig raak met die rol, gee jou hande en werksoppervlak eenvoudig bietjie kakao, dit sal help dat dinge nie kleef nie.) Plaas balletjies in die vrieskas vir ’n goeie 30 minute tot baie ferm. (Dis sodat die balletjies die warm sjokolade wat volgende kom kan weerstaan.)

Smelt die blok melksjokolade. Doop elke balletjie in die sjokolade en skep dit uit met ’n vurk sodat die oortollige sjokolade kan afdrup. Plaas op ’n bakplaat gevoer met kleefplastiek of waspapier en hou in die yskas tot jy bedien. (Wenk: die skeppery met die vurk is die lui manier van doen en die truffel is nie winkelperfek nie met ’n effense plat sjokoladebodem. Dit pla my min, maar daar is ’n truuk vir absolute perfekte truffels as jy een van dáái mense is. Sien GOED OM TE WEET laer af vir hoe.☺)

maak

20

vooraf

40 min

verkoel

4+ ure

scroll-main

goed om te weet

Hoe gemaak vir perfekte truffels?

Vir perfek ronde truffels, maak seker die truffels is baie koud en ferm. Steek tandestokkies in ’n stuk polistireen en plaas versigtig ’n truffel op elke tandestokkie. Gooi die gesmelte sjokolade oor. Dit sal afloop sodat die truffels heeltemal bedek word.

Plaas in die yskas en hou op die stokkies todat die sjokolade geset is. Siedaar, perfekte ronde truffels sonder plat bodems! Onthou net dat jy veel meer gesmelte sjokolade met hierdie metode gebruik. Niemand sê perfeksie is goedkoop nie!

scroll

lekker saam met

My keuse by hierdie kersie-en-amandel truffels is gewis borrels, verkieslik pienk! Ons is besonder bederf met die groot verskeidenheid MCC vonkelwyne beskikbaar in SA. MCC verwys natuurlik na vonkelwyne waar die tweede fermentasie in die bottel gebeur, sjampanje-styl. Ek het my gunstelinge wat ek graag oopmaak, maar die reine waarheid is ek het nog nooit ‘n slegte MCC geproe nie. Boschendal se Brut Rosé is so ‘n gawe dame.

Daar is die Chardonnay (20%) en Pinot Noir (50%) wat mens gewoonlik in ‘n MCC verwag. Maar dan effe meer ongewoon bevat dit ook 30% van onse eie SA druif, Pinotage. Die wyn het 12 maande op sy moer gelê. Dis kompleks, droog soos jy uit die naam kan aflei, en het lieflike borrelende vrugte op die tong.

Boschendal

scroll-main

Also available in: English