Wat maak ’n tamatiebredie die ware Jakob? Dis alles in die geurmiddels. Kyk, jy kan vleis en tamaties in ’n pot gooi en dit ’n bredie noem. Maar as jy dit tamatiebredie of tamatiekos wil noem het jy kruienaeltjies nodig! En kardamom. En pypkaneel, gemmer en lourier! Soos Dine van Zyl doen in haar tamatiekos resep in haar wonderlike kookboek, Die Groot Boerekos Boek.

Tamatiebredie of tamatiekos word tradisioneel natuurlik met skaap gemaak. Maar nou die dag sien ek spekvet stukke bees kortrib op spêsjil. En ek besluit net daar die knaap het meer as genoeg lyf aan hom om opgewasse te wees teen al daai tintelende tamatie. Ek het Dine se resep aangepas – vars tamatie in plaas van geblik, minder puree, in die oond in plaas van op die stoof. Maar die speserye het ek nie mee gepeuter nie. Dis Dine se geure en dis in die kol. Al wat ek bierby soek is ’n glas of twee Shiraz en die geselskap van goeie vriende.

Al wat jy nodig het is…

700g ryprooi tamaties
1kg bees kortrib
1E olyolie
1 groot ui, fyn gekap
1E koekmeel
1½t fyn gerasperde vars gemmer
1 groen rissie, ontpit en fyn gekap
1 koppie tamatiepuree (NIE tamatiepasta nie! Woolworths verkoop ’n handige 240g een wat net genoeg is)
½ koppie water
5 kardamompeule, oopgekraak met die plat kant van ’n groot mes
7 heel kruienaeltjies
½t varsgemaalde swartpeper
1½t suiker
1t sout
3 lourierblare (ek verkies vars, maar droog sal deug)
1 stuk pypkaneel

Om die tamaties te skil, plaas hulle in ’n groot bak en bedek met kookwater. Laat staan vir so 30 sekondes en dan sal die skilletjies sommer maklik afglip. Kap die tamaties in klein blokkies en sit eenkant. Verhit ’n dikbodempan met die olyfolie. Gee die kortrib ’n paar goeie draaie sout en braai hulle tot alkant mooi bruin. Verwyder en plaas kortrib in ’n groot oondvaste skottel met ’n deksel wat styf pas.

Braai uie in dieselfde pan oor lae hitte to sag maar nie bruin nie. Voeg die gemmer en rissie by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die meel by en roer tot dit heeltemal verdwyn. Voeg die tamatiepuree, gekapte tamaties en water by en roer goed. Voeg die res van die bestanddele by en prut vir vyf minute. Gooi die sous oor die kortrib, bedek met ’n deksel en bak lank en stadig in ’n 160 grade Celsius oond tot die vleis so sag is jy kan hom met ’n lepel eet! Dit vat so twee en ’n halwe ure. Proe vir sout en pas aan – dit sal heel waarskynlik nog nodig hê.

Bedien met kappokaartappels of eg Suid-Afrikaanse stampmielies. Ek vrek oor enige mielie-tipe koolhidraat by stowe beesvleis en besluit om hulde te bring aan my Italiaanse ouma. Ek roer ’n gesonde handvol parmesaan by slap polenta en skep my bord hoogvol.

bedien

4

vooraf

30 min

kook

2+ ure

scroll-main

goed om te weet

Beesstert in plaas van kortrib

As jy mal is oor beesstert gebruik dit gerus in plaas van die kortrib. Dis meer as geurig genoeg om sy man te staan teen die tamatie en speserye.

scroll

Met skaapsvleis of lamsvleis

As jy die meer tradisionele roete wil volg, gebruik skaap (kneukel, nek of rib) en sit vier groot geskilde aartappels in kwarte gesny ook by. Skep dit op saam met witrys. Rys, vleis en aartappels. Nou praat jy mos!

My wynkeuse hierby

As enigiemand weet wat hulle doen met Shiraz is dit die mense van Zandvliet in die Robertsonvallei. Hulle was immers een van die eerstes om Shiraz te bottel, met die eerste aanplantings reeds in die 1870s! Die Zandvliet Estate Shiraz is ’n 100% Shiraz. Op die neus is daar hope pruim, swartbessie, peper en ’n titsel gemengde spesery. Vat ’n slukkie en dis verloklik sappig, soepel en kompleks met ’n sweempie donker sjokolade te bespeur.

Vir 18-24 maande in Franse en Amerikaanse eikehout verouder en te koop hier teen die R130 per bottel merk, hierdie is by uitstek ’n koswyn vir ’n spesiale maaltyd. Perfek vir my kortrib tamatiebredie.

Zandvliet

scroll-main

Ook beskikbaar in: English