My ma was ’n tegemoedkomende kok. Sy’t ons altyd drié keuses vir ontbyt gegee. Krummelpap, stywepap of slappap.

Solank daar genoeg melk en suiker was, was ons min gepla. Behalwe een jaar, en ek praat nou van donkiejare terug. Want sien, daar het ’n groot droogte oor land gekom. Of ons’t vergeet om te plant. Of groot mieliemolle het alles gevreet. Wie weet, dis te lank terug en ek was te klein. Ek onthou net invoer moes ons, en geel krummel-, stywe- of slappap was ons voorland. Vir ’n hele jaar. Vir my is geel mieliepap soos wit hoëhakskoene – net nie reg nie.

En dis nou die snaakse ding met woorde. Want noem jy dit ’n ander naam, miskien iets eksoties soos polenta, is dit skielik nie net skaflik nie, maar sommer heel gaaf. Die tekstuur mag bietjie anders wees, dit mag effe vinniger kook, maar dis steeds mieliepap mense, in Italiaanse drag. Tog het dit ’n plekkie in my koskas.
Roer jy botter en parmesaan in, is dit vir my lekker genoeg om net so te eet. Maar vir die ekstra lekker, skep ek sampioene oor wat ek braai met knoffel, tiemie, suurlemoen en, natuurlik, botter. Ek dink hieraan as Italiaanse kitskos. Dis op jou bord in minder as ’n halfuur.

Al wat jy nodig het is…

½ koppie polenta (beskikbaar by alle groot supermarkte)
1 koppie melk
2 koppies water
1 sakkie vloeibare hoenderekstrak (Woolies of Ina Paarman s’n is gaaf)
1E botter
½ koppie gerasperde vars parmesaan of pecorino
¼t sout
400g sampioene (ek’t 250g portabellini en 150g shimeji gebruik)
1 knoffelhuisie, fyngekap
1 opgehoopte teelepel vars tiemie blaartjies
1E olyfolie
2 opgehoopte eetlepels gesoute botter
1E pietersielie, gekap
1½E vars suurlemoensap
½t suurlemoenskil
groot knip growwe swartpeper
sout na smaak
ekstra parmesaan vir bedien

Gooi die melk, water en hoenderaftreksel in ’n kastrol en verhit tot dit net-net begin kook. Klits die polenta by. (Jy sal aanvanklik dink dis hopeloos te veel vloeistof maar polenta is ’n spons, gee hom ’n paar minute en jy sal sien dis reg.) Bedek, draai die hitte baie laag en prut vir tien minute. Roer so af en toe.

Braai die sampioene terwyl die polenta prut. Voeg olie in ’n dikbodem pan en verhit. Voeg die botter, knoffel en tiemie by en braai vir 30 sekondes. Voeg dan die gekapte sampioene by en braai tot gaar. (Om dinge visueel bietjie interessant te maak, kap ek my sampioene oneweredig. Party in skywe, party in kwarte of die helfte. Die fynes, soos shimeji, hou ek heel.) As die pan te droog na jou smaak raak gedurende die braai, voeg nog ’n leksel botter by. Heel aan die einde, sodra die sampioene gaar is, voeg die pietersielie, suurlemoensap en skil by. Gee hom ’n stewige draai swart peper en proe vir sout – jy sal nodig hê.

Roer die botter en parmesaan in die polenta in. Ek het ’n kwart teelepel sout ook bygevoeg na die botter en kaas in is. Maar proe voor jy die lot ingooi, hoeveel jy nodig het, hang af van hoe sout jou botter en hoenderaftreksel was. Skep die sampioene oor die polenta, strooi ekstra vars pietersielie en ’n paar repies suurlemoenskil oor vir die vars en die mooi. Bedien dadelik met ekstra parmesaan vir almal om hulself te help.

bedien

2

vooraf

10 min

kook

15 min

scroll-main

goed om te weet

Polenta skyfies

Polenta skyfies is ‘n wonderlike stysel alternatief. Ek hou veral daarvan saam met skaaptjoppies. Vir polenta skyfies, kook dik polenta deur minder vloeistof by te voeg as die resep hierbo. Gooi die gekookte polenta op ‘n bakplaat terwyl dit nog warm is versprei eweredig. Laat dit afkoel en sny dit in skyfies. Braai die skyfies tot brosbruin in olyfolie gegeur met ‘n takkie of twee roosmaryn.

lekker saam met

Winter kom, en hierdie’s kos wat jy met ‘n lepel voor die kaggel eet. My keuse hierby is AA Badenhorst se Secateurs Red Blend 2012. Dis ‘n vermenging van 47% Shiraz, 10% Cinsaut, 8% Cabernet Sauvignon, 6% Grenache, 1% Carignan en 1% Mourvedre. Sy rokerige, peperige spesery geure met hope rooi bessies op die koop toe is te wonderlik.

Hierdie wyn is die produk van neefs Hein and Adi Badenhorst se woekery op hulle plaas Kalmoesfontein in die Swartland.

Hier maak hulle nog wyn op die outydse manier – met baie liefde en geduld – en dit wys. Die Platter 2015 gids gee hierdie wyn 4 sterre. Dis aanlyn beskikbaar vir onder R90.

Glenelly

scroll-main

Ook beskikbaar in: English