In die Knorhoekvallei aan die voet van die Simonsberg, net 10km buite Stellenbosch, lê Muratie, ’n wynplaas met ’n wonderlike geskiedenis.

Die storie van Muratie is ’n liefdesverhaal. ’n Verhaal wat ’n lang pad kom – al die pad van 1685 af toe die destydse goewerneur van die Kaap van Goeie Hoop, Simon van der Stel, ’n lap grond aan ene Laurens Campher bemaak het.

Laurens was verlief op ’n slavin, Ansela van de Caab. Haar status het trou onmoontlik gemaak, maar Laurens was ’n man wat nie opgegee het nie. Vir veertien lange jare het hy gereeld die pad Kaapstad toe gevat om vir Ansela te sien – drie dae se loop was niks. Toe Ansela uiteindelik haar vryheid bekom, het Laurens haar kom haal, en teruggevat na die lang, lae huisie wat hy vir haar gebou het – een slaapkamer, een stal en ’n kombuis.

Ansela se huisie staan steeds op Muratie. Vandag noem hulle dit MOK, ’n verkorting vir modern kontemporêr, en word dit gebruik vir kunsuitstallings. Stap deur MOK met sy dik wit mure en klein vensters en jy kan amper die eggo van vervloë dae hoor.

scroll-main

MOK kunsgalery: Laurens het hierdie huisie vir sy Ansela gebou in 1685.

Vir die huidige eienaars van Muratie, die Melck familie, is ’n diepe waardering vir die geskiedenis van die plaas en ’n begeerte om die ou manier van doen te bewaar ’n kernsaak. Die Melcks stap ’n lang pad saam met Muratie. Die eerste Melck op die plaas, Martin, het in 1763 oorgeneem. Die plaas was vir ver oor ’n honderd jaar in hulle hande. ’n Rits ander eienaars het gevolg, maar in 1987 het die Melck nasate die kans gekry om die plaas weer te bekom.

Muratie was altyd sinoniem met Port-styl wyne, maar oor die jare het hierdie wynplaas sy vlerke gesprei en vandag maak hulle spogwyne oor die hele spektrum. Ek was ’n goeie twee jaar laas daar, dus was ek bly om ’n wynmedia uitnodiging te ontvang om te kom inloer.

Die Melcks van Muratie: Rijk en Kim by hulle kosbare Saartjie.

Met die aankoms het ons ’n glas Lady Alice Pinot Noir Cap Classique buite MOK geniet terwyl eienaar, Rijk Melck, ons van Ansela en Laurens vertel. Daarna was dit tyd vir die Plaaskombuis terras, waar ons hulle wonderlike wit- en rooiwyne geproe het, insluitend hulle Bordeaux-styl rooiwyn vernoem na Ansela. (Die 2017 het so pas 5 sterre in die 2021 Platter-gids ontvang.)

Die Plaaskombuis terras, gebaai in die skadu van eeue oue bome, is die perfekte plek om ontbyt of middagete te geniet. My keuse val natuurlik altyd op middagete want dan is ’n bottel of twee van hulle wyn op die tafel heel gepas! Die verwagte kaasborde en charcuterie is beskikbaar asook vol maaltye. Daar’s disse met ’n meer internasionale aanslag – dink risotto, Noorweegse salm en Wagyu biefburgers – maar ook eg Suid-Afrikaanse kos soos Karoo skaapskenkel en kerrieafval.

Net langs die Plaaskombuis terras is die baie ongewone proelokaal. Dis in ’n horingoue skuur, waar houtvate, familiefoto’s en memorabilia nostalgies meng met die reuk van geslagte se wynmaak in die lug. Toe ek my ma donkiejare terug vir eerste keer aan Muratie bekendstel wou sy die horries kry, want saam met al vervloë dae se uitstalgoed is daar ook spinnerakke in die hoeke en vensters, gemaak deur regte, egte spinnekoppe – wat blykbaar almal name het. Gelukkig vir Muratie kon my ma nie haar hande op ’n stoffer lê nie, want dan was daai agtvoetige gediertes bokkeveld toe.

Muratie is nie net ’n wonderlike plek vir smul en teug nie. Dis ook ’n fantastiese plek vir trou en enige ander groot okkasie hou. Nie net is daar die 200 vierkante meter Plaaskombuis terras nie, daar’s ook ’n groot tuin omring deur ou kamferbome en hulle nuutste toevoeging, ’n 625 vierkante meter permanente markiestent wat in ’n feëtjieland omtower kan word nes jy wil. Die mooiste uitsigte oor die wingerde, die Simonsberg en, doer in die verte, Tafelberg, maak hierdie permanente markiestent die ideale keuse vir enige groot uithanggeleentheid.

Die permanente markiestent: Soveel as 350 mense kan hier kuier, met droom uitsigte oor die wingerde en Tafelberg in die verte.

Om by Muratie te kom is vinning en maklik. Vat die N1 uit Kaapstad uit, draai af by die R44 in die rigting van Stellenbosch en hou ’n oog oop vir die Muratie borde. In ’n wêreld van blinkgepoetste splinternuwe proelokale en restaurante bied Muratie ’n heel anderste ondervinding. Dis seker my verbeelding, maar ek dink half wyn proe net ’n tikkie ekstra spesiaal as mens hulle verken in ’n plek wat sy wortels het in ’n groot liefde meer as 300 jaar gelede.

scroll-main

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling.

scroll-main

Ook beskikbaar in: English