Laas Vrydag het ek aangesit vir die soort geleentheid waaroor elke smulpaap droom – ’n sesgang maal toegewy aan die glorie van truffels. Hulle lyk miskien soos ’n kruising tussen ’n brein en ’n reuse vrat, maar hulle is nie verniet die wêreld oor bekend as ‘swart goud’ nie. Anders as in Europa was truffels nooit eintlik in SA beskikbaar nie, maar nou is hulle danksy die mense van Anthonij Rupert Wyne. So paar jaar terug het hulle besluit om eikebome in te ent met truffelspore en nou oes hulle vir twee maande elke winter vars truffels.

Oes is nie eintlik die regte woord nie, ek dink jag is. Want sien die truffels kruip in die grond weg en die enigste manier om hulle te kry is deur hulle uit te ruik. Hiervoor het hulle in die ou dae varke gebruik, maar nie meer nie. Honde doen die ding net so goed, en hulle voel nie die begeerte om die truffels te vreet nie. Op die hoogliggende plaas Altima buite Villiersdorp is die truffel jagter Hanene van Dyk en haar spesiaal opgeleide Lagotto Romagnolo honde sommer vroegdag besig met snuffel en grawe. Daar’s ’n truuk om te weet of ’n truffel reg is vir opgrawe, een van vele truffel truuks wat Hanene moes baasraak die weke wat sy in Italië deurgebring het om alles oor truffels, truffels jag en truffeljag se vierbeen wolbolle te leer. (En ja, as die werkdag klaar is kom soek die honde drukkies en hulle verwag op die bed te slaap, nes enige gewone bedorwe hondekind!)

scroll-main

Truffel jagters: Hanene van Dyk en haar spesiale Lagotto Romagnolo honde.

scroll-main

Ek was bevoorreg om langs Hanene te sit vir die ete. Sy en haar sjarmante man, Coenie (die plaas se wingerdkundige) is ’n skatkis van kennis oor hierdie besonderse lekkerny. Ete het begin met vars brood en truffelbotter. Volgende was dit ’n kolossale garnaal bedien met aspersies, ’n lemoen en dragon beurre blanc en truffelkaviaar. Eenvoudig hemels. Vir die hoofgang was daar ’n keuse. Óf die Black Angus beesbors met polenta, gekarameliseerde uie, Perigaux­-sous en truffels, óf die truffel tagliatelle met ’n Parmesaan roomsous. Ek het die tagliatelle gekies want ek kan nie nee sê vir pasta nie, maar Anthonij Rupert se lieflike skakelbeampte, Pippa Pringle, het vir my haar bees laat proe. Albei liplekker.

scroll-main

Ag die fees van lekker eet: Brood en truffel-botter, garnale met ‘n lemoen en dragon beurre blanc en truffel-kaviaar. Toe was dit Black Angus beesbors met polenta en truffels of ‘n truffel tagliatelle met Parmesan room. Hmmmm.

scroll-main

Daarna was dit ’n framboos-sorbet verposing gevolg deur ’n Valrhona sjokolade gedoente met Amaretti krummels en appelliefies. Die effe suur skerp van die appelliefies was ’n fantastiese kontras teen die diep donker ryk sjokolade. Steeds was ons nie klaar nie! Vir die laaste bederf lê ons weg aan ’n choux poffertjie (gekleur en gevorm om soos ’n truffel te lyk) en gevul met ’n sjokolade-heuning room. Wat kan ek sê, ek het spasie vir hom gemáák.

Soete verleiding: ‘n Valrhona sjokolade storie met Amaretti krummels, neute en lieflike suurskerp appelliefies.

scroll-main

So hoekom maak enige van hierdie saak vir jou? Want JY kan ook hierdie ongelooflike truffel bederf beleef aangesien Anthonij Rupert dit tot die einde van Julie aanbied. Die Terra del Capo restaurant op die Anthonij Rupert landgoed is waar die truffel ete bedien word en dis een van my absolute gunsteling wynland spasies. Dis klein en intiem en pragtig gedoen sonder om intimiderend te wees. Sit daar aan en jy kan nie help om bietjie ‘glamorous’ te voel nie.

Die truffel ondervinding kos R1200 per persoon en natuurlik moet jy bespreek. As dit bietjie ryk vir jou bloed is, gaan sit steeds aan en bestel eerder van hulle wonderlike antipasti spyskaart af wat jou laat smul teen baie sakpas pryse. Ek beveel hulle antipasti bordjies regtig hoog aan! Na die tyd kan jy inpop by hulle deli waar jy ’n swetterjoel truffel geïnspireerde goeters kan koop – van truffelbotter, truffelsout en truffelpasta, tot salami met truffels en selfs truffelwors. En ja, jy kan ook vars truffels hier koop vir so lank as wat hulle in seisoen is. Vat een huis toe en doen jou Masterchef ding!

Vir besprekings kontak ‘tasting@rupertwines.com’ of bespreek via www.rupertwines.com

Vir meer inligting of navrae oor truffelbestellings, stuur ’n e-pos na tasting@rupertwines.com.

scroll-main

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ’n resensie nie, maar eerder ’n persoonlike aanbeveling.

scroll-main

Ook beskikbaar in: English