Week twee van geen stysel en dit gaan sommer baie goed. Ek’s mal daaroor. Miskien omdat ek my in die laaste sewe dae vergryp het aan soesjie (erm, rys), ’n vark-en-vinkel burger (erm, brood), en ’n parmantige klein kreefpasta wat ek opgetower het met die laaste van my super geheime kreef ‘stash’ in die agterste hoek van my derde vrieskaslaai. Met die dat die pasta tuisgemaak in plaas van pakkie was, vertel ek myself dis automaties laer in koolhidrate. Na die tweede glas Chardonnay glo ek dit.

So hier’s ons nou, verleë en verwoed vasberade terug op die stysel-waterkar. Hopelik. Hierdie resep bevat vrugte. Vrugte bevat suiker. En suiker, sover ek weet, is ’n koolhidraat. Maar rêrig mense, Rome is nie in een dag gebou nie. Daar’s nie ’n korrel rys of krummel brood in sig hier nie, sekerlik gee dit vir my ekstra regmerkies?

Hierdie is een van daai resepte wat indrukwekkend ‘sjefferig’ lyk, maar eintlik bitter maklik is. Jy kan die nektariene in ’n riffelpan sit of op die braai gooi. Bedien hierdie as ’n ligte middagete of effe fênsie voorgereg.

Al wat jy nodig het is…

1 gewone chevin bokmelkkaas (Fairview se tradisionele chevin is perfek)
dukkah
2 ferm nektariene (oftewel kaalperskes – tog sou oulike Afrikaanse naam, al weet niemand waarvan jy praat nie)
halwe koppie braambessies
mikro slaaiblare
eetbare blommetjies (opsioneel)
rooiwynasyn
goeie olyfolie
seesout en growwe swartpeper

Verdeel die bokmelkkaas in ses. Gebruik jou hande om die kaas in perfekte ronde balletjies te rol. Sit bietjie dukkah in ’n piering en rol die kaasballetjies daarin tot eweredig bedek met die dukkah. Sit die kaas in die yskas.

Sny die nektariene in die helfte. Voorverhit ’n riffelpan tot goed warm, verf dit liggies met olie en plaas die nektariene met die gesnyde kant na onder in die pan. Braai net tot jy lieflike gekarameliseerde lyne het. Bedien die nektariene met die braambessies, slaaiblare en blommetjies. Gee die blare ’n titsel rooiwynasyn-vinaigrette. Dis eenvoudig een deel rooiwynasyn op drie dele olyfolie, ’n bietjie sout en ’n blerts peper. Gewoonlik sal ek ’n sopie iets wat pas hierby aanbeveel (dink borrels), maar hierdie week gaan ek probeer soet wees. Rêrig.

bedien

2

vooraf

10 min

kook

3-5 min

scroll-main

Ook beskikbaar in: English