Nuwe Barista black – koel genoeg vir James Bond

Het hy werklik bestaan, was die wêreld se bekendste spioen nou al ’n honderd jaar oud. James Bond se skepper en menige akteur wat hom oor die jare gespeel het is weliswaar nie meer met ons nie, maar die gesofistikeerde koel-kalant Bond karakter gryp ons steeds aan. Pinotage is ook amper ’n eeu oud en die mense van Barista het besluit iets nuuts is nodig om hierdie eg Suid-Afrikaanse kultivar se groot verjaarsdag te vier. Iets sjarmant, gesofistikeerd en baie, baie ‘classy’. Iets wat James Bond sy martini voor opsy sou skuif. Die resultaat? Hulle pas vrygestelde Barista Black.

Die druiwe vir hierdie wyn kom van ’n 20-jaar-oue ‘bush vine’ wingerd in die Swartland. Dis in staal gefermenteer en die wyn is daarna vir 18 maande in Franse houtvate verouder. Op die neus is daar pruim, rooi aalbes en spesery. Op die tong is daar ’n sappige, vrug-intense kern met sagte tannien en hout subtiel deurgeweef. Die einde is droog en aangenaam lank. Die swart bottelontwerp skree arrogante, manlike grasie en sofistikasie. Pure James Bond. Dit maak Barista Black die perfekte geskenk vir daai wintie 007-tipe pêl. Dis landwyd beskikbaar en verhandel hier by die R150 merk.

scroll-main

Robertson maak ‘n verskil

Wil jy jou glas wyn saam met aandete geniet in die wete dat jy terselfdertyd ’n goeie daad verrig? Nou kan jy, met Robertson wyne! Al hulle gewildste kultivars vorm nou deel van hulle nuwe Really Good Wine reeks. Met Really Good gee Robertson terug aan die gemeenskap van Robertson. Een van hulle opwindendste en grootste gemeenskapsprojekte nog is onlangs geloods met die opening van die Really Good Library by Nkqubela Laerskool in Robertson.

Watter wyne vorm deel van die Really Good reeks? Hulle Sauvignon Blanc, Chenin Blanc, Chardonnay, Beaukett, Cabernet Sauvignon, Shiraz en Merlot. Beskikbaar in 750ml bottels asook 1L, 2L en 3L bokse, hou ’n ogie oop vir die Really Good Wine ontwerp op hulle verpakking en klink ’n glasie of twee op goed doen!

Splinternuut: Die Really Good biblioteek by Nkqubela Laerskool in Robertson.

scroll-main

FAT bastard Chardonnay – nou in ‘n 2L boks!

FAT bastard Chardonnay, die oorspronklike en mees bekroonde FAT bastard wyn en een van Suid-Afrika se gunsteling Chardonnays is nou beskikbaar in 2L boks formaat. Hoekom die opgewondenheid? Want jy kry die waarde wat grootmaat boksverpakking beloof én FAT bastard waarborg dat die gehalte van die wyn in die boks presies dieselfde is as die wyn in die bottel! Die boksontwerp is nou, wat beteken hy pas perfek in jou yskasdeur en die wyn bly vars vir langer – tot vier weke in die yskas! Dis natuurlik maklik om te gryp, te dra en te pak, so vir kampeer en buite kuiers is hierdie knaap ideaal. FAT bastard se 2L Chardonnay is landwyd beskikbaar teen R150-R170.

Oor hierdie artikel: Ek skryf net oor plekke en dinge waarvan ek rêrig hou. Sou iemand my komplimentêre etes/kaartjies/diamante aanbied, sal ek dit altyd verklaar. Ek’s nie hier om mense en dinge sleg te sê nie, dit los ek vir ander. As iets my nie geval nie, skryf ek eenvoudig nie daaroor nie. Dus is hierdie nie soseer ‘n resensie nie, maar eerder ‘n persoonlike aanbeveling.

scroll-main

Ook beskikbaar in: English