Uitdagings in die kombuis is vir my soos ’n vet biefstuk met ’n glas Cabernet – ek’s mal daaroor. Soos die keer toe ek paella in die Okavango gemaak het – alles uit blikkies. Of die keer toe ek ’n fênsie driegangmaal vir ses opgetower het, ‘puff pastry’ powwertjies en al – op die tweeplaat-stoof van ’n vyftig-jaar-oue Jurgens. Jip, mal oor ’n uitdaging.

So toe die mense van SABC3 se Expresso oggendprogram my e-pos en vra ek moet seblief ’n slaai kom maak, sê ek natuurlik ja. Slaai… So waar’s die uitdaging dan nou eintlik?

Wel, vir ‘starters’ beteken dit ek moet douvoordag opstaan sodat die grimeerpop my ergste groewe en blertse kan toepleister – en ek’s nie wat jy ’n oggendmens sal noem nie.

Sy’s nogal goed daarmee, die grimeer-engel. Die eindresultaat verbaas my elke keer – veral as ek so twee meter van die spieël af staan, en selfs meer as ek eers my kontaklense uitpop.

Maar die eintlike uitdaging hier was ek moes vrugtesap gebruik. Nou vrugtesap in ’n slaaisous is nie ’n ongehoorde ding nie. Dink vinkel-en-lemoenslaai met ’n lemoen-vinaigrette. Of eendslaai met ’n sweem framboos in die slaaisous.

Om die sap sommer net so in ’n slaaisous te loop gooi het nie vir my na genoeg moeite geklink vir al daai grimering nie. Toe doen ek maar effe meer. Ek gryp appelsap en gooi vars gemmer en rissie by vir bietjie houding. En ek kook dit tot dit dik en stroperig is. En ek verf die hoender daarmee. En ek doop die hoender in sesam-sade. Hier’s hy – hoenderslaai met ’n stewige Oosterse klap. Dis woes gesond. Gelukkig is dit ook lekker.

Al wat jy nodig het is…

Vir die slaai
125g hoender sonder vel, in dun skywe gesny
halwe koppie sesam-sade
1½ koppies appelsap
2cm stuk vars gemmer, geskil
¼ rooi rissie, ontpit
slaaiblare (ek het Asian Mix van P ‘n P gebruik)
rooikool, baie fyn gesny
wortels, gerasper of in linte gesny met jou groenteskiller
komkommer, dun skywe of in linte gesny met jou groenteskiller
sprietuie
kasjoeneute, in ’n droeë pan gerooster tot goudkleurig
gewone kookolie, vir panbraai

Vir die slaaisous
2E appelsap
1E appelsap-reduksie
1E gewone olie (sonneblom is piekfyn)
½t vars gemmer, fyn gerasper
⅛t rooi rissie sonder pitte, fyngekap (ek hou van brand, so ek maak dit ‘n kwart teelepel!)
1E donker sojasous
½t sesam-olie
1E witwyn-asyn
¼t knoffel, fyngekap
1E koljanderblare, fyngekap
knip sout

Gooi die appelsap in ’n klein pot en voeg die gemmerstuk en rissie by. Kook, sonder ’n deksel, tot daar net 3 eetlepels oorbly – dit moet dik en stroperig wees! (Hou 1E van die appelsap-reduksie eenkant vir die slaaisous.) Gooi die res oor die hoender. Lig die hoender uit, sprinkel bietjie sout oor en doop dit alkant in sesam-sade.

Braai die hoender in olie tot goudkleurig en gaar. (Moenie met die hoender peuter nie want te veel van die sade sal afkom.) Braai dit liewer aan een kant tot goudkleurig en draai dit dan versigtig om. Voeg enige oorblywende appelsap-reduksie waarin die hoender gedoop is by die pan hier teen die einde van die kookproses. Meng die slaaisous bestanddele. Meng die groente, skep die hoender en kasjoeneute oor en bedien met die slaaisous.

bedien

2

vooraf

15 min

kook

15 min

scroll-main

goed om te weet

Nog slaai opsies…

In plaas van hoender kan jy bees, kalkoen of garnale gebruik. Of laat die vleis heeltemal uit! Om hierdie ‘n maaltyd met meer lyf te maak, draai die slaai toe in rys ‘wrappers’. Meeste groot supermarkte hou dit aan. Dit lyk soos glas, maar week jy dit vir net ‘n paar sekondes in water is hulle skielike sag, spierwit en heerlik.

lekker saam met

Omdat hierdie slaai ‘n branderigheid het, sal ek ‘n wit bedien wat hope vrugte het. My keuse hierby is ‘n vrolike, goedkoop Chenin Blanc.

Ek’t Perdeberg se 2014 Chenin die naweek by ‘n supermark raakgeloop vir hier by die R35 merk.

Ek was nie teleurgesteld nie, dis definitief is een van die beter bekostigbare 2014 Chenins op die mark. Koop sommer meer as een.

Perdeberg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English