Kyk ek gaan nie jok nie – winter is nie my gunsteling seisoen nie. Weke van bewolkte Kaapse weer en reën maak my skoon beduiweld en dinge soos pasta, brood en enigiets vetterig raak onweerstaanbaar. Aan die einde van drie maande se vraatsigheid pas die skinny jeans nie meer nie en as ek my kop verkeerd draai lyk dit of daar ’n tweede ken aan die ontwikkel is.

Ek’s vasbeslote, híerdie jaar gebeur dit nie! Dus speel ek deesdae met lae vet, gesonder vegetariese resepte in die kombuis. Merlot is nie juis beïndruk nie want daar’s minder vleis vir haar om te bedel. Maar sy kan ook doen met bietjie van ’n ‘trim’ want sy raak nogal pokkelrig. Hierdie oranje soetpatat en wortelsop is een van my nuwe gunstelinge. Diepe winter sielsbevrediging sónder die sonde.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie rooi uie, fyn gekap
2E olyfolie
2 vet knoffeltone, fyn gekap
1 rooi rissie, pitte verwyder en fyn gekap
1kg oranje soetpatats, geskil en in blokkies gesny
6 ekstragroot wortels (600g), geskil en gesny
2 blokkies Knorrox hoenderaftreksel
1t fyn gemmer (nie vars gemmer nie)
¼t swartpeper
5 koppies water (1,25L)
sap van een lemoen

Braai die uie in die olie oor lae hitte tot sag. Voeg die rissie en knoffel by en braai vir nog ’n minuut. Voeg die soetpatats, wortels, gemmer, swartpeper en water by en krummel die hoenderaftreksel blokkies in. Sit die deksel op en prut oor lae hitte tot die groente sag is. Gebruik ’n staafmenger of voedselverwerker om die sop fluweelglad te puree. Roer die lemoensap by. As die sop te dik vir jou is, roer ’n klein bietjie water by. Proe vir sout en pas aan indien nodig.

Vir bedien skep ’n blertsie klappermelk oor vir die mooi asook ’n paar koljanderblare. En as jy sommer hope ekstra geur wil hê, maak my maklike lemoen gremolata daarby. Sien Goed Om Te Weet laer af vir hoe.

bedien

4

vooraf

20 min

kook

30 min

scroll-main

Goed om te Weet

Maklike lemoen gremolata

Min dinge verhef ’n dis net voor bedien soos gremolata doen. Tradisioneel bestaan gremolata uit gekapte pietersielie gemeng met knoffel en suurlemoenskil. Skep dit oor sop, bredies of ’n sappige biefstuk en die aroma as die gremolata met die hitte kennis maak laat jou mond water. Ek dink ’n lemoen weergawe sal briljant wees vir skep oor my soetpatat en wortelsop. Hier’s hoe om te maak:

Kap ’n handvol pietersielie, ’n handvol kojander en ’n handvol ment fyn. Rasper die skil van een lemoen fyn en meng die hele lot met ’n halwe teelepel fyn knoffel.

scroll

geniet met

Die spesery van hierdie soetpatat en wortelsop sal wonderlik werk met hoogs aromatiese wyne soos Riesling of Viognier. Nie veel wynplase plant dit nie en Viognier en veral Riesling is oor die algemeen aan die duur kant. Hierdie is ’n sakpas goedkoop sop, so duur wyn daarby is dom. My keuse hierby? Bon Courage se intens aromatiese Gewürtztraminer.

Op die neus van hierdie wyn is daar hope spesery en roos te bespeur. Op die tong is dit droog en kompleks. Platter gee hierdie knaap drie en ’n halwe sterre. Sy sakpas prys? Teen tyd van publikasie is dit aanlyn beskikbaar teen slegs R70 per bottel.

altTexthere

scroll-main

Ook beskikbaar in: English