Osstert is vir my pure fees, min dinge klou so goed aan die ribbe op ’n koue wintersaand. As kind op die plaas was dit gereeld op die tafel. Ons het koeie gehad so osstert was daar baie, maar ek het steeds gewens elke dier het agt gehad. Deesdae moet ek ongelukkig soos meeste ander maak en die pad winkel toe vat vir my stert.

Dis peperduur en met al die bene in strek dit nie ver nie. Maar as die lus my eers pak soek ek hom op my bord. Ek besluit om my osstert te rek en maak ’n verleidelike ryk ragu vir pasta daarmee. Omdat osstert vir my opsluit okkasie-kos is maak ek my eie pasta ook, en verryk dit met lieflike diepgeel saffraan. So bek soek jêm, dus bedien ek die affêre met ’n besonderse Shiraz in my beste kristal.

Al wat jy nodig het is…

1 kg osstert
3E koekmeel, gemeng met ’n stewige knip sout en swartpeper
1 groot uit, fyn gesny
1 stingel seldery, fyn gesny
1 koppie gerasperde wortel
2 huisies knoffel, fyn gesny
1E tamatiepasta
½ koppie Shiraz
1 groot tamatie, geskil en in blokkies gesny
2 koppies water
1 beesaftreksel-blokkie
½t growwe swartpeper
1 stiggie vars roosmaryn
2 vars lourierblare
olyfolie vir braai
pasta van jou keuse
saffraan

Bestrooi die osstert mildelik met die meel en skud liggies om te verseker alles is bedek in meel. Verhit ’n dikbodempan goed en voeg ’n paar eetlepels olyfolie by sodra dit goed warm is. Braai die osstert tot dit begin bruin word en karameliseer. Verwyder en sit vleis eenkant. Voeg die ui, seldery en wortels by dieselfde pan en braai al roerend vir 5 minute om al daai wonderlike bruin stukkies van die bodem van die pan te lig. Voeg die knoffel en tamatiepasta by en braai vir ’n verdere twee minute. Voeg die rooiwyn by en kook vir ’n minuut of wat. Voeg dan die vars tamatie, water, beesaftreksel, roosmaryn en lourierblare by. Sit die deksel op, draai die hitte so laag moontlik en prut vir ’n goeie 3-4 ure totdat die vleis van die bene afval. (Loer af en toe en voeg water by indien nodig, maar nie meer as ’n halwe koppie op ’n slag nie.)

Gebruik twee vurke om die vleis te pluis en plaas terug in die pot. Kook met die deksel af tot die sous dik is – jy soek iets verleideliks hier, nie ’n flou waterige gemors nie. Proe vir sout en voeg by indien nodig. NB: JY KAN HIERDIE RESEP VEEL VINNIGER IN JOU DRUKKOKER MAAK. DIE TEGNIEK VERANDER NET EFFE, SO LOER NA GOED OM TE WEET HIERONDER VIR HOE.

Om die saffraan-pasta te maak, voeg eenvoudig ’n gesonde knip saffraan by jou gesoute pasta-water en kook jou droë pasta soos gewoonlik. (As jy vars pasta maak, week die saffraan in 2E kookwater vir ’n goeie 30 minute om maksimum saffraankleur te kry. Voeg die lot by jou pastadeeg. Omdat jy meer vloeistof gebruik sal dit waarskynlik nodig wees om ’n lepel of wat meer meel te gebruik as wat jy gewoonlik doen.)

bedien

4

vooraf

30 min

kook

3+ ure

scroll-main

goed om te weet

Osstert in jou drukkoker

Ek weet lank en stadig is die ideaal as dit by osstert kom. Maar ek het ook ’n lewe, dus gebruik ek gereeld my drukkoker om osstert bietjie aan te jaag. Ek hou nie daarvan om kruie so aggressief te kook nie.

Laat dus die kruie uit aanvanklik en kook die vleis onder druk vir 90 minute. Voeg dan die kruie by en kook verder (maar gewoon, nie onder druk nie) tot dit super sag is.

scroll

lekker saam met

Beste bees verdien beste wyn. My keuse by hierdie osstert-pasta is Van Loveren se Christina Shiraz. Sê Van Loveren, en baie dink dadelik aan hulle sakpas treffers soos die Four Cousins, Tangled Tree en Pappilon reekse. Maar Van Loveren maak ook boonste-rak wyne. Hulle Christina-reeks van keurdruiwe gemaak in klein hoeveelhede bestaan uit ’n MCC, Sauvignon Blanc, Cabernet Sauvignon, Edel Laatoes, Chardonnay en natuurlik die Shiraz.

Die Christina Shiraz bestaan 91% Shiraz met (tipies Suid-Frans) 9% Viognier by vir ekstra kompleksiteit.

Peper en spesery op die neus maak plek vir diep ryp bessie op die tong. Dis ’n absolute fees en ander dink ook so. Die 2016 kry 4 sterre by Platter. Die Christina-reeks is beskikbaar op Van Loveren se webwerf en by hulle kelderdeur.

Christina

scroll-main

Also available in: English