Verandering is ’n goeie ding. Dis wat al die self-help goeroes en entrepreneurs konstant koer, en ek glo hulle. Maar ai dit ‘stress’ my uit. Dit laat my nou seker vreeslik sleg lyk, maar hier’s die ding: ek hóú van dieselfde. My bank se webwerf dieselfde maand na maand, sodat ek net een keer hoef uit te ‘figure’ hoe die ding werk. Die koffie en kerse op dieselfde rak in die supermark elke maandeinde. Jy kry die idee. Ongelukkig stem die wêreld nie met my saam nie. Behalwe die ouens by Lyle’s.

Dieselfde leeu lê nou al vir meer as honderd jaar plat op hulle blikke gouestroop. En elke keer wat ek daai groen blik optel, is ek onmiddelik terug in my ouma se kombuis, waar die reuk van plaatkoekies my mond laat water. Dís die wonderlike ding van dieselfde.

Baie plaatkoekie resepte gebruik bakpoeier. Ouma het ’n meer indrukwekkende chemiese reaksie in haar kombuis verkies, en hare met koeksoda en kremetart gemaak. Met die gevolg dat haar plaatkoekies ligter was. Wat beteken het ek kon dubbel soveel eet.

Al wat jy nodig het is…

1½k koekmeel
‘n stewige knip sout
½t koeksoda
1t kremetart
2t strooisuiker
2t gouestroop
1 ekstragroot eier, geklits
1k melk
botter of sonneblomolie vir braai

Sif die droeë bestanddele saam. Voeg die nat bestanddele by en meng tot glad. Verhit ’n kleefvrye pan en voeg ’n klontjie botter of olie by. Skep eetlepels vol van die deeg in die pan – nie te na aan mekaar nie, soos ’n 6-voet man op ’n vliegtuig soek hy spasie om sy bene te strek.

Braai oor ’n medium-lae hitte tot borrels verskyn en begin bars. Draai om en braai aan die ander kant vir nog ’n minuut of wat tot goudbruin en deurgaar. Bedien dadelik terwyl warm. (Sien GOED OM TE WEET hieronder vir dinge om hierby te bedien).

bedien

12-14

vooraf

3 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

By jou plaatkoekies…

My gunsteling, gunsteling is plaasbotter en Lyle’s se gouestroop. En ek sal my ouma se ‘topaz’ oorbelle gee vir ‘n bietjie nastergal-konfyt en room. Of probeer:

  1. ‘n Smeersel karamel, skywe piesang, en natuurlik ‘n blerts geklopte room.
  2. Heuning, volroom Griekse joghurt, geroosterde neute en vrugte – wonderlik vir ontbyt.
  3. Spek, gebraai tot dit stokstyf staan, en ‘n skoot esdoringstroop (maple syrup).

‘n bietjie oor lyle’s

Die leeu-en-bye prentjie op Lyle’s se blikke is reeds in 1904 as handelsmerk geregistreer. Guinness World Records meen dis die oudste handelsmerk in die wêreld. Die prentjie het Bybelse inspirasie want Abram Lyle was ‘n gelowige man.

Ek hou nogal daarvan. Ek hou ook daarvan dat hulle die Britse koningshuis al sedert 1922 verskaf. Laat my nogal fênsie voel so eerste ding in die oggend, met my roosterbrood en koppie Earl Grey.

Lyle's

scroll-main

Ook beskikbaar in: English