Ek’s altyd bitter beïndruk as ek ’n vierjarige kleinding teëkom wat kan lees. En deesdae kan hulle almal. Want sien my ma het nie met die alfabet gebodder nie. Die lees het sy vir die Graad-1 juffrou gelos.

Maar ma het nie teruggestaan met my dogtertjie opvoeding nie. Nee-a, sy’t haar bes probeer om die vierjarige ekke te leer hekel. Want – soos ouma se huis getuig het – was dít die kenmerk van ’n raakvat vrou. Nie ’n enkele ornament het nie ’n gehekelde lappie onder hom gehad nie. En dan was daar die doilies vir die melkbekers; die lappies vir arms op die bank en die lappies vir die kop op die bank… Want die mans met die Brylcream-hare kon tog só ’n gemors van ’n duur beblomde Sanderson sitplek maak.

Maar die kroon van die gehekel was die fyn wit tafeldoek – groot genoeg om ’n tafel vir ouma, oupa, 9 kjinners en ’n swetterjoel kleinkinders ordentlik te klee. Dié familieskat (beskore as trousseau vir die oudste dogter) is net op Sondae uitgehaal, spesiaal gedek om die skaapboud, die goudbruine aartappels, die sousbone en die soetpatats gul te ontvang. En dan, omdat mens obviously nog honger was, was daar die sagopoeding. Suikersoete pure plesier in die pens.

Ek besit nie meer ’n hekelnaald nie en gee jy my een vandag steek ek waarskynlik jou oog uit daarmee. Nie oor dat ek goor wil wees nie, oor dat ek nie eintlik meer sal weet wat anders om daarmee te maak nie. Maar sagopoeding, dié ken ek steeds.

Ek hou nie van peuter met perfeksie nie, maar my smaak is nie meer dieselfde as toe ek kind was nie. Ek soek al die sielsalige troos van toeka se ouma sagopoeding, maar ligter, nie so stroopsoet nie en met ’n effense moderner kinkel. Dus is die botter minder en die suiker minder, en die appelkooskonfyt is nie binne die sagopoeding nie, maar buite – as ’n aparte sousie met ’n pikante suurlemoen skop.

Al wat jy nodig het is…

1 koppie sago
4 koppies melk
¼t sout
¼t kaneel
¼t neutmuskaat
1/3 koppie suiker
4E gesoute botter
4 groot eiers, geskei
3E strooisuiker
8E fyn appelkooskonfyt
2E water
4E vars suurlemoensap (nié die ding uit ’n bottel nie)

Week die sago in koue water vir 30 minute en dreineer. Sit die sago, melk, sout, kaneel en neutmuskaat in ’n groot pot en verhit tot net onder kookpunt terwyl jy deurentyd roer. Sit die deksel op, draai die hitte so laag moontlik en kook totdat die sago heeltemal deurskynend is. Maak seker jy roer dit af en toe sodat die spulletjie nie aanbrand nie. Roer die botter in terwyl dit nog warm is. Laat dit effe afkoel en roer die geklopte eiergele blitsvinnig by. Skep die sago in ’n oondvaste bak.

Klits die eiers saam met die strooisuiker totdat dit donsig , wit en styf is. Skep lepels van die eierwit op die sago sodat die hele poeding bedek is met die eierwitte.

Plaas die bak met sagopoeding in ’n groter bak half gevul met warm water. Bak in ’n voorverhitte 160 grade Celsius oond tot goudbruin en geset. Dit vat so 40 minute. Sit die appelkooskonfyt, suurlemoen en water in ’n koppie en blits dit in die mikro vir so 30 sekondes totdat die konfyt gesmelt is. Bedien die sagopoeding warm met die warm soet-suur sousie in ’n klein bekertjie sodat almal self kan bygooi afhangend hoe soet hulle verkies.

bedien

8

week

30 min

bak

30-40 min

scroll-main

Ook beskikbaar in: English