As ek aan my ouma dink, dink ek skaapboud, lank en stadig gekook tot hy van die been afval. Ek dink hoenderpastei met ’n ryk skilferkors deeg en hope naeltjie-geur. En gestoomde gemmerpoeding met regte vla en Idealmelk-roomys.

Dis ryk kos. Winterkos. Gewoonlik slaan ek haar handgeskrewe resepteboek met sy vergeelde blasye en kriptiese notas eers hier middel Mei oop. (Kripties, want as uithalerkok het my ouma gemeen instruksies soos, “maak aan soos koek”, of “nie te slap nie, nie te styf nie” is meer as voldoende.)

Maar môre begin seisoen twee van Kokkedoor – my absolute gunsteling kook-TV. Met die uitsien na al die onthoukos, kry ek laas Sondag ’n skielike begeerte vir souskluitjies. En toe trek ek maar so effe vroeër as gewoonlik my ouma se boekie nader.

Al wat jy nodig het is…

Vir die kluitjies
125g koekmeel (in ouma terme: 4 hoogvol eetlepels)
1E botter
1 eier
¼t sout
1E suiker
1t bakpoeier
2½-3E melk
kaneelsuiker (Dis doodeenvoudig ‘n mengsel van suiker en kaneel. Proe maar hoeveel kaneel jy verkies. Ek hou van baie, so een deel kaneel op 3-4 dele suiker.)

Vir die stroop
2 koppies van die kookvloeistof
7E suiker
2E botter
1t kaneel

Daar’s hope verskillende souskluitjie resepte en metodes. Party mense bedien hom net met botter en kaneelsuiker. Party maak ’n stroop met kaneel, suiker en botter. Party sit vlapoeier by die sous. Of room oor die kluitjies. Hierdie is soos my ouma hom gemaak het – met stroop.

Kook vier koppies water met ’n kwart teelepel sout. Jy’t ’n medium pot nodig in plaas van groot, sodat die watervlak ten minste 5cm is. Verroom een eetlepel kamertemperatuur botter met een eetlepel suiker. Klits die eier by. Sif die meel, sout en bakpoeier by en meng. Maak deeg aan met 2-3E melk sodat die deeg net slap genoeg is om maklik met ’n lepel te skep (of soos my ouma beduie het “nie te slap nie, nie te styf nie”!). Gebruik ’n eetlepel om kluitjies in die borrelende kookwater te skep.  ’n Halwe eetlepel deeg per kluitjie is genoeg want hierdie outjies swel gevaarlik baie – amper soos ek as ’n by my steek.  MOENIE ongeduldig wees en te veel kluitjies op ’n slag inskep nie. So ses is perfek. Hy’t plek nodig vir die swel en die water moet aanhou kook.

Sit die deksel op en kook vir 10-12 minute. MOENIE (daar’s heelwat moenies hier) die deksel lig terwyl hy kook nie. Na tien minute kan jy die deksel lig ek loer of die kluitjies deurgaar is. Skep hulle in ’n opdienskottel en strooi kaneelsuiker oor. Hou hulle warm in jou louoond. Gooi die kluitjiewater in ’n beker en hou eenkant. Begin die proses oor met vars soutwater en die orige deeg. As al die kluitjies gekook is, gooi 2k van die kluitjiewater in ’n pot. Voeg die botter, kaneel en suiker vir die stroop by en kook vir so 3 minute. Roer ’n paar keer om seker te maak die suiker los op.  Bedien die warm kluitjies met die stroop en kaneelsuiker vir die gulsiges (soos ekke) wat ekstra wil hê. Dit klink miskien moeilik, maar dis só maklik. En waar anders kan jy nou poeding vir ses vir onder R20 kry? Dankie Ouma Saar!

bedien

6

vooraf

10 min

kook

30 min

scroll-main

goed om te weet

Nog kluitjie idees

Probeer ‘n knippie gemmer by die deeg. Of wat van ‘n skoot suurlemoensap by die stroop? Dis weliswaar nie tradisioneel nie, maar dit proe pure kerkbazaar pannekoek.

lekker saam met

‘n Poedingwyn is oor die algemeen ‘n soetwyn. Nee, dis nié ‘kommin’ nie, dis reg so. Vir ‘n baie spesiale geleentheid, kies ‘n Edel Laatoes (Noble Late Harvest). Maar hierdie is by uitstek onthoukos, so ek voel baie nostalgies. Dus is my keuse hierby ‘n muskadel.

Nuy is bekend vir sy uitstekende muskadel. Of probeer Orange River Cellars se 2012 rooi muskadel. Hy’t wonderlike suur om al die soet te balanseer.

Muskadel

scroll-main

Also available in: English