Dis Pase mense, jenetjie heit waar gaan die tyd? Ek voel dieselfde oor Vader Tyd se snelle pas as oor my skaal die paar keer ’n jaar wat ek bodder om op hom te klim – verbaas. Verbaas of nie, April is dit nou en iets Pase-geïnspireer om aan te knabbel is gepas.

Kos moet altyd lekker wees, maar soms kan dit pret ook wees. Soos hierdie ‘hot cross’ plaatkoekies. As basis gebruik ek die plaatkoekie resep uit ouma se 1961 Kook en Geniet. Die bladsye is bekol en besmeer van 56 jaar en drie geslagte se ywerige gebruik. By hierdie staatmaker plaatkoekie resep voeg ek gemengde spesery en kaneel – pure ‘hot cross bun’ lekkerkry.’n Sjokolade-kruis op die koop toe en jy’t ’n wonderlike bederf vir Paas-ontbyt. Bedien hierdie plaatkoekies warm met ’n leksel botter en sommer baie goue stroop.

Al wat jy nodig het is…

2 eiers
4E suiker
1 koppie melk
1E gesmelte botter
2 koppies koekmeel
4t bakpoeier
½t sout
1t gemengde spesery (mixed spice)
1t kaneel
2t kakao

Klits die eiers en suiker saam. Voeg die botter en die helfte van die melk by die eiermengsel en roer deur. Sif volgende die meel, sout, bakpoeier, gemengde spesery en kaneel in en meng. Voeg die orige melk geleidelik by en roer/klits ligweg tot glad.

Skep ’n halwe koppie van die deeg uit en sif die kakao by die halwe koppie deeg. Voeg ’n eetlepel water by en roer tot gemeng. Gooi die sjokolade deeg in ’n drukbottel.

Skep lepelsvol van die deeg op ’n gesmeerde warm bakplaat of kleefvrye pan. Bak tot lugblasies op die oppervlak van die plaatkoekies vorm. Druk dan kruise op die plaatkoekies en draai hulle onmiddelik om sodat hulle ook aan die kruis-kant kan bak. (Maak jy die kruis vroeër kan die deeg begin loop en is jou kruis nie mooi nie.) Bedien die plaatkoekies warm met botter en goue stroop.

maak

15

vooraf

15 min

kook

30 min

scroll-main

Also available in: English