Ek’s een van daai mense wat in ander se mandjies loer as ek in ’n supermark se tou staan. Ek doen dit nou nie openlik nie, dit sal ‘weird’ wees. Maar so onderlangs en skelmpies kyk ek nogal wat ander koop. Ek is seker ek’s nie die enigste een wat dit doen nie, en ek dink nie jy kan my blameer nie. Dis nie asof daar veel anders is om te doen nie. As ek eers klaar gewonder het hoeveel muise ek in die vrou voor my se geteasde hare sal kan wegsteek, kou die gestaan en gewag vir my beurt by die til aan my.

Wat in ’n mandjie lê vertel vir my nogal ’n storie. Soos die pop wat net komkommer, tofu en sojamelk het. Dit vertel vir my sy leef skoon en gaan waarskynlik nie veel pret wees by een van my uitbarstige ‘dinner parties’ nie. Of die outjie met twee steaks, ’n bottel goedkoop soet vonkelwyn en sjokolade mousse. Dit sê my hy onthaal ’n pop, en hy leef in hoop. Of my mandjie – met twee of drie bottels wyn hier in die middel van die week… Jip, mens se mandjie vertel ’n storie.

Ek kan nou nie bekostig om te oordeel nie, maar dis vir my half jammer hoeveel kitskos en gemakskos in ons mandjies beland. Lasagne, hoenderpastei, kerrie… Ek weet dis vet pret om die boks oop te maak, dit in die oond te gooi en weg te loop. Maar hier’s die ding – ek’s byna altyd bitter teleurgesteld.  Niks kan kers vashou by tuisgemaak nie.

Vandaar my schnitzel uitdaging… Ja, jy kan die reeds-gemaakte een koop wat jy net in die oond gooi vir 25 minute. Of jy kan hom op die properse manier maak in net… 25 minute! My parmesaan-en-roosmaryn varkschnitzel is ’n wenner as ek moeg en haastig is. Dis so ’n maklike schnitzel resep en wraggieswaar tonne beter as die winkel een. Probeeer hom maar self,  jy sal sien.

Al wat jy nodig het is…

roosmaryn soutbeskuitjies (ek het die een van Woolies, gebruik, maar daar is baie ander)
halwe koppie vars-gerasperde parmesaan (of pecorino)
takkie vars roosmaryn
500g vark filet (hoenderborsies werk ook)
6E koekmeel
1 eier, geklits
knippie sout (jy’t nie veel nodig nie want die kaas en beskuitjies is souterig)
stewige knip growwe swart peper
gewone sonneblomolie vir braai
seesout, vir bedien

Maak die beskuitjies fyn in ’n voedselverwerker tot dit krummels is. (Jy’t so twee derdes van ’n koppie nodig.) Meng die krummels en die kaas op ’n groot plat bord. Meng die meel, sout en peper op nog ’n bord. Sny die vleis in vier gelyke stukke.  Sit ’n blokkie kleefplastiek op jou broodbord en sit een stuk vleis bo-op. Bedek met nog ’n blokkie kleefplastiek. Gryp jou koekroller en slaan die vleis tot dit dun is. (Dis wonderlike terapie hierdie. Dink maar aan jou eks, jou bankbestuurder of jou goor baas en slat.) Ek verkies myne so 1,5cm dik. Herhaal met die ander stukke vleis.

Doop elke stuk vleis in die meel en skud oortollige meel liggies af. Doop dan in die eier en uiteindelik in die krummels. Maak seker die vleis is bedek met ’n lekker lagie reg rondom.  Verhit die olie (so vier eetlepels is genoeg, maar sit nog by as die pan droog raak) en braai die roosmaryn takkie vir ’n paar sekondes daarin tot die roosmaryn bros is. Verwyder en sit eenkant vir later.

Braai die vark in dieselfde olie tot deurgaar en brosbruin. Dis dun, so dit vat net ’n paar minute per kant. Krummel van die bros roosmaryn oor die schnitzels en bedien met ’n wiggie suurlemoen en knippie growwe seesout. Ek hou van ’n ligte roket-slaai daarby, natgemaak met ’n basiese vinaigrette van Dijon-mosterd, seesout, olyfolie en suurlemoen. Jy kan dit bedien met romerige kapokaartappels maar, aangesien ek wil bewys dat jy ’n ordentlike warm ete in net 25 minute kán maak, probeer my kits kapok botterbone. (Sien GOED OM TE WEET hieronder.) Geniet!

bedien

4

vooraf

15 min

kook

10 min

scroll-main

goed om te weet

My 3-minute kapok botterbone

Braai een fyngekapte huisie knoffel en ‘n knippie rissievlokkies in twee eetlepels goeie olyfolie. (‘n Minuut sal die ding doen. Moenie die knoffel brand nie!)

Voeg ‘n blik botterbone by en druk fyn (asof jy kapokaartappels maak). As dit te droog is, voeg nog bietjie olyfolie by, of ‘n eetlepel of wat hoenderaftreksel of kookwater. Proe vir sout en hy’s reg. Belangrik: Bone in ‘n blik moet altyd eers afgespoel word voor jy met dit werk. Dis om van daai aaklike slymerige souserige bedekking onstlae te raak.

lekker saam met

Vark is so veelsydig dit kan wit, pienk en sommige rooi wyne hanteer. ‘n Pinot Grigio, ‘n Chenin, ‘n Grüner Veltliner, Sauvignon Blanc en selfs Riesling sal werk. Maar my keuse hierby is ‘n droë pienke.

Cederberg se Sustainable Rosé is baie skaflik en, baie belangrik vir my, sakpas.

Cederberg

scroll-main

Ook beskikbaar in: English