Ek bewonder mense wat weet presies wáár hulle oor vyf jaar gaan wees en hóé hulle lewens gaan lyk. Ons is nie almal so nie. Party van ons is soos agt maande-oue Labrador hondjies – ons leef in die oomblik. Ek’s een van daais. Langtermyn beplanning geval my nie en ’n ‘bucket list’ die het ek nie. Dis nou te sê tot so ’n paar dae terug, toe ek die jongste ‘foodie’ rolprent loop sien het.

The Hundred-Foot Journey, met die wonderlike Helen Mirren in die vroulike hoofrol, is ’n fees van ’n fliek oor vriendskap, liefde, kos en… die belangrikheid van ’n Michelin-ster (loer hier na die voorskou). Ek wonder al lank hoe behaaglik ’n bord kos met een Michelin-ster sal proe – en hoeveel meer vreugde een met drie sterre my sal gee. En nou wil ek weet. Michelin eet in Frankryk – uiteindelik ’n inskrywing vir my ‘bucket list’. As ek nou begin spaar, reken ek sit ek aan as ek tagtig is.

Intussen hou ek myself gemotiveer met alledaagse Franse nommertjies. Dinge soos pissaladière. Vertalings beskryf pissaladière as ’n Franse uietert, maar dis meer van ’n kaaslose broderige pizza tipe ding, gelaai met uie wat lank en stadig suikersoet gekook is, ansjovis vir die sout en olywe vir die bitter. Ek sit tiemie en knoffel ook by, net vir die lekker.

Al wat jy nodig het is…

Vir die deeg
350g broodmeel
10g kitsgis
½t sout
3E olyfolie
1 ekstra groot eier
160ml water

Vir bo-op
1.5kg uie, fyn gesny
8E olyfolie, vir braai
1½E vars tiemie
1 huisie knoffel, fyngekap (gebruik twee as jy gek is oor knoffel)
klein knippie sout en stewige knip growwe swartpeper
botteltjie ansjovis filette
Kalamata olywe, ontpit

Meng al die brood bestanddele en knie vir 10 minute. Sit deeg in ’n groot bak liggies gesmeer met olyfolie. Maak toe met kleefplastiek en sit in ’n warm hoekie erens vir een uur om te rys.

Maak die uievulsel terwyl die deeg rys. Braai die uie oor ’n baie lae hitte in olyfolie tot goudbruin en sag. Dit vat ten minste 25 minute. Voeg die knoffel en tiemie vir die laaste paar minute se braai by. Voeg die sout en peper by en meng. Sit die uie eenkant om af te koel.

As die deeg lekker gerys het, klap dit terug en knie vir nog ’n minuut. Rol dit uit in ’n reghoek so 1cm dik en sit op ’n gesmeerde bakplaat. Bedek met die uie, dan die ansjovis en die olywe. Tradisioneel word die ansjovis in ’n diamant-patroon op die uie gepak met ’n olyf in die middel van elke ‘diamant’.

Bak teen 220 grade Celsius vir 25-30 minute tot die broodbasis goudbruin en deurgebak is. Sny in kleinerige vierkante en bedien dadelik met ’n glas yskoue droeë rosé. As ’n knabbelding bedien dit 8-10. Of bedien ’n groen slaai daarby vir die perfekte ligte middag- of aandete. Dit voer vier as ’n ete.

Alternatiewe:

  1. As jy gelukkig genoeg is om ’n bakkery of winkel naby jou te hê wat brooddeeg verkoop, gebruik sommer dit in plaas van om jou eie deeg te maak.
  2. Gebruik blaardeeg (Woolworths se Butter Puff Pastry) in plaas van die brooddeeg. Dis vinniger, heerlik en ’n titsel meer elegant as jy klein happies wil bedien. As jy nou rêrig wil uithang, maak individuele kleintjies van 4 x 4cm.

bedien

8-10

vooraf

90 min

bak

25 min

scroll-main

goed om te weet

As ansjovis nie jou ding is nie…

Almal is nie mal oor ansjovis nie, so probeer hierdie pissaladière idee: Sny rooi soetpepers in dun skywe met die lengte langs, braai tot sag in olyfolie en gebruik dit in plaas van die ansjovis.

Jy kan die olywe hou of hulle vervang met skyfies chorizo-wors. Jy hoef nie die chorizo vooraf te braai nie, sit dit net so op en sit hom in die oond. Ek gooi ook rooirissie vlokkies oor.

lekker saam met

Pissaladière is Provensaals en rosé is dié wyn van Provence. As jy jou lyf Frans wil hou en ‘n Franse rosé wil drink, gaan loer by Woolies. Domaine Grier French Rosé verkoop vir R60 en is een van my gunstelinge. Ligpienk, soos hulle rosé in Frankryk maak, Ou-Wêreld subtiel en droog. Ek’s mal daaroor.

‘n Plaaslike gunsteling is De Grendel rosé. Hy’s ook droog met lieflike aarbei aromas. Teen net R50 aanlyn is dit ‘n sakpas nommertjie.

de Grendel

scroll-main

Ook beskikbaar in: English