“Hoender is ’n vegetable.” Dís hoe meeste mans wat ek ken voel. Sit ’n hoender voor en skielik is hulle steeks. Soos ’n driejarige wat hoesgoed moet drink. Ek dink dis ’n Afrikaanse ding. In Meksiko is die mans tawwer. Daar verorber hulle Pollo Asado op straathoeke by die tonvol. Nee, ek vloek nie. Dis wat hulle plathoender op die braai noem.

Daar’s hope resepte vir Meksikaanse Pollo Asado, maar almal het twee dinge in gemeen: 1) die hoender is plat en heel, nie stukke nie en 2) hy word goed gemarineer vir ’n hele paar uur vooraf. Die marinade bevat sitrus in die vorm van lemoen of lemmetjie. Oreganum, olyfolie en koljanderblare is daar ook, en soms paprika of komyn. Ek het ’n hele paar resepte gelees en toe loop doen wat ek altyd doen – my eie ding. Hierdie plathoender op die braai is sensueel rokerig met ’n parmantige rissiebyt en ’n klein tequilaskop. Amper half voorbarig, nes plathoender op die braai behoort te wees.

Al wat jy nodig het is…

MARINADE
1t knoffel
4 takkies oreganum (of 2t droog)
¼ koppie olyfolie
sap van een lemoen
gerasperde skil van een lemmetjie
BRAAISOUS
1t knoffel
½ koppie tamatiesous
4E tequila
3E sagte bruinsuiker
1½t gerookte paprika (Woolies hou dit aan)
sap van een lemmetjie
1-3 rooi rissies, grof gekap
1½t sout
bossie koljander, fyngekap

Sit die plathoender in ’n sterk toerits-tipe plastieksakkie. (Loer na GOED OM TE WEET laer af en vind uit hoe om ’n hoender in ’n plathoender te verander in onder 20 sekondes! Ernstig, dis so maklik ek’s seker Merlot sal dit kan doen.) Voeg die marinade bestanddele by. Druk die lug uit, rits toe en masseer die hoender liggies. Plaas in die yskas vir ten minste twee ure. Gee die plathoender so elke halfuur nog ’n ligte massering.

Maak intussen die Pollo Asado sous. Voeg eenvoudig al die sous bestanddele bymekaar, bedek en plaas in die yskas sodat die geure kan kennis maak. Jy kan hierdie plathoender op twee maniere braai:

METODE 1: INDIREK
Ek’s lui, dus is my gunsteling manier van braai indirek. Want ek kan die vleis op die braai gooi en ander meer belangrike dinge loop doen. Soos wyn drink. Vir die indirekte metode het jy natuurlik ’n ketelbraai nodig. Maak eenvoudig vuur in daai handige Weber mandjies en plaas hulle oorkant mekaar langs die kant van jou Weber. Die hoender sit jy in die middel waar daar nie kole is nie. Sit die deksel op (die luggate moet oop weess anders versmoor jy jou vuur) en braai vir twintig minute. Daarna kan jy dit mildelik met die Pollo Asado braaisous begin verf. Die sous bevat suiker, so doen jy dit te vroeg kan die lotjie dalk brand op ’n manier wat jy nie van gaan hou nie.

Dis NIE nodig om die hoender te draai met die indirekte metode nie. Meer tyd vir wyn. Hoe lank die hoender braai, hang af van hoe groot hy is en hoe warm jou vuur is. Begin hom hier na 35 minute te toets deur ’n dun mes in die dikste deel van die hoender te steek. As die vloeistof wat uitloop helder is in plaas van pienk is hy reg en moet hy dadelik afkom sodat hy nie uitdroog nie.

METODE 2: DIREK
Die meer tradisionele manier van braai, versprei die kole eenvoudig eweredig oor die braai sodra hulle reg is. Sit die hoender op en laat dit weereens braai vir 20 minute voor jy begin sous smeer. Anders as met die indirekte metode MOET jy die hoender draai as jy hierdie metode gebruik. Wenk: Ek gebruik nie ’n braaitang as ek ’n plathoender draai nie. Die tang skeur onvermydelik die vel en soms sommer die vleis ook. Ek gebruik twee lang plat burger spane (een bo, een onder die hoender) om die knaap versigtig te lig en draai.

Sit voor met warm sagte tortillas, suurroom, wiggies lemmetjie, koljanderblare en ’n eenvoudige salsa gemaak van mielies, gekapte sprietuie en tamatie gekus met ’n gesonde blerts olyfolie en teug lemmetjiesap.

bedien

4

marineer

2 ure

braai

35-50 min

scroll-main

goed om te weet

Hoe om ‘n heel hoender ‘n plat een te maak…

Super maklik mense. Draai die hoender eenvoudig op sy rug. As jy nie weet wat die rug van ’n hoender is nie is dit oukei, by Melkkos & Merlot oordeel ons nie. Die rug is die plat kant van die hoender. Hy moet op die bord wees. Die ronde kant moet na jou loer. Vat eenvoudig ’n skerp kombuisskêr of baie skerp sjef mes. Voel afwaarts met die bors langs. Jy sal ’n been voel. Dis die borsbeen.
Steek die skêr onder in (ja daar waar die eiers uitkom) en sny al met die borsbeen langs tot bo by die nekholte. Herhaal die proses aan die ander kant van die been. Trek die borsbeen uit.

scroll

Keer die hoender om sodat sy rug na jou wys. Plaas jou palms op die rug en gee dit ’n stewige druk. Jy sal miskien bene hoor kraak. Wees tough, moenie gil soos Merlot as sy ’n muis sien nie. Daar het jy dit, een platte hoender. Doen dit ’n paar keer en jy sal hom tjoef-tjaf in onder tien sekondes baasraak. Belowe.

lekker saam met

My keuse hierby is DeMorgenzon se Chenin Blanc 2016. DeMorgenzon is ’n gunsteling om vele redes. Goeie wyn is een. DeMorgenzon is deel van die Stellenbosch wynstreek. As jy al ooit in die mooie Stellies in die somer gekuier sal hy weet, dit kan hel warm raak. En hel warm en druiwe is nie noodwendig virende nie. DeMorgenzon se wingerdhellings is van 200m to 400m bo seevlak wat sommer baie help. Die gevolg? DeMorgenzon maak kwaliteit wyne wat die parmantige vrugte tipies van die Nuwe Wêreld kombineer met die teruggetrokke elegansie van die Ou Wêreld. Dis ‘klaasie’ sonder om neus in die lug te wees.

Die DMZ Chenin Blanc 2016 spog met hope appel, appelkoos en perske geure, asook ’n titsel heuning en ’n bietjie blom. Op die tong is dit ryk en vol met ’n lang nasmaak, die soort wyn wat kos goed aanvul. Teen die tyd van publikasie was dit aanlyn te koop vir R98 per bottel. Nou ek weet ons het hope Chenin in SA en baie daarvan is te koop teen die R35-R45 merk. Daar’s niks fout daarmee nie, meeste van hulle is goeie keuses vir tuur in die vuur.

Maar as jy iets meer kompleks soek, ’n wyn wat wys wat Chenin kan wees as hy bietjie meer aandag kry, is die DMZ Chenin Blanc 2016 die een om te verken. Dis ’n bietjie spesiaal. Wat anders kan jy verwag van wingerde wat 24/7 barok-musiek luister?

DeMorgenzon

scroll-main

Ook beskikbaar in: English