Ek weet nie van jou nie, maar ek is meer as gereed om 2020 vaarwel toe te roep. Ek’s reg vir Krismis, bietjie feestelikheid, en om weer ménse te sien. Ek het dit bitter nodig, dus begin ek vroeg hierdie jaar. Die stringe feëtjieliggies is reeds uit die kas gepluk en oor alles wat lank genoeg stilstaan gedrapeer. Die Kerskrans is reeds op die voordeur. In die oggend pluk ek spierwit rose vir die huis; as die son sak steek ek kerse aan. Wittes, natuurlik. My Kerstafel planne begin maal in my kop.

Prosciutto en spanspek is donkiejare al ’n ding, met goeie rede. Die sout aardse geur van die verouderde ham is die perfekte kontras vir die sonskyn soet. Ek voeg spanspek se verlangse neef, komkommer, by. Omdat ek gek is daaroor, en ek weet dit sal werk, rol ek balletjies bokmelk Chevin in pienk peperkorrels. En ek vorm die lot in ’n eetbare feestelike krans. Want dis nodig. En dis tyd. Totsiens 2020!

Al wat jy nodig het is…

prosciutto
spanspek en komkommer, gesny nes jy wil
bokmelk chevin (Fairview s’n is so te sê orals verkrygbaar)
pienk peperkorrels
radys
seldery
balsamiese reduksie (balsamic glaze) eetbare blomme vir die mooi
mikro blaartjies vir die mooi

Sny die seldery in lang linte so dun as moontlik (’n Shogun julienne skiller werk perfek hiervoor). Sit die seldery in koue water vir vyf minute, dreineer en druk saggies droog met ’n skoon vadoek. Gebruik die seldery om ’n sirkel te bou op ’n groot plat bord – dink daaraan as die ‘mos’ vir jou krans. Rol die bokmelk chevin in klein balletjies en doop hulle in gemaalde pienk peperkorrels – net ’n katspoegie peper want dis sterk! Bou jou krans op jou seldery basis. Bedruip met balsamiese reduksie. ’n Paar klein blaartjie goetertjies en eetbare blommetjies en jy’s klaar.

bedien

6

vooraf

20 min

kook

0 min

scroll-main

Goed om te weet

Kan jy nie Prosciutto kry nie?

Enige soortgelyke intense aardse ham soos Parma, Serrano, Iberico of Coppa werk ook.

scroll

En as ham nie jou ding is nie?

Vervang dit met gerookte salm. Hou die seldery, die radys, die komkommer en die chevin – hulle werk almal goed by salm. Maar genade mens spanspek hoort definitief nie op dieselfde bord as vis nie, so hou verby!

geniet saam met

My keuse by prosciutto en spanspek? ’n Yskoue pienk nommertjie natuurlik, iets soos Zandvliet se Shiraz Rosé. Sê Zandvliet en Shiraz is waaraan ek dadelik dink. Hierdie landgoed op die buitewyke van die Robertson Vallei Wynroete is immers een van die eerstes wat hierdie edelkultivar gebottel het.

Die kleigronde van Zandvliet se Shiraz wingerde verleen ’n elegante souterige minerale karakter aan hierdie wyn. Dis die mooiste ligte pienk danksy minimale kontak tussen sap en skil. Die wyn is vir 18-24 maande verouder in Franse en Amerikaanse houtvate. Dis ’n fees met roosblaar, aarbei, framboos en spanspek geure te bespeur. Op die tong is daar hope elegante rooi vrug. Ek’s nie die enigste een in vervoering nie.

Zandvliet se Shiraz Rosé het ’n dubbele goud verdien in die 2019 Rosé Rocks kompetisie. Dis landwyd verkrygbaar by uitgesoekte winkels asook aanlyn teen net R80 per bottel.

Zandvliet

scroll-main

Ook beskikbaar in: English