Hierdie Provensaalse tamatieslaai is nie ’n regte, egte Provensaalse dis nie. Nie op die manier wat pissaladière, aïoli en ratatouille is nie. Maar vir my is dit die wese van die suide van Frankryk. Ryprooi tamaties gepak met sonskyn, vet roos-knoffelbolle, ansjovis in olyfolie… Dit laat my dink aan laventelpers velde in die verte, sonbesie sang op die middaguur en ’n lang tafel gedek met wit linne in die skadu van ’n akkerboom reus.

Vir my is dit nie net ’n tamatieslaai nie. Eerder ’n maal in eie reg saam met hope bros baguette om die souterige, knoffelrige kruiesous mee op te vee. Ek sit Piaf op, maak ’n bottel droë rosé oop en vir ’n rukkie voel ek Frans. Non, je ne regrette rien.

Al wat jy nodig het is…

8E goeie olyfolie
4 ansjovis-filette
4 vet knoffelhuisies, ongeskil
¼t droë rissievlokkies
4E klein non pareilles kappertjies (Woolworths hou dit aan)
2E wit balsamiese asyn
1E gekapte vars oreganum
½ koppie Italiaanse pietersielie, rofweg gekap
350g klein tamaties, gesny soos jy verkies
1 rooi ui, met die lengte langs in fyn repies gesny
laventelblommetjies (opsioneel)

Gebruik die platkant van ’n groot mes en gee die knoffelhuisies ’n behoorlike klap om hulle effe oop te breek. Kap die ansjovis fyn. Braai die knoffelhuisies, rissie en ansjovis in die olyfolie vir ’n minuut of twee tot die ansjovis heeltemal opgelos is in die olie. Verwyder van die hitte en voeg die kappertjies, kruie en asyn by. Laat die slaaisous staan vir ten minste ’n halfuur sodat die geure kan kennis maak. Voeg die tamaties en uie by, tuimel die lot op ’n fraaie groot bord en versier met vars of droë laventelblommetjies indien jy hulle gebruik. Bon appétit mes amis!

bedien

2-4

vooraf

10 min

staan

30 min

scroll-main

goed om te weet

Nog idees met hierdie resep

1) Voeg vet swart olywe by.
2) Braai hoenderborsies, sny in dik skywe en stapel op die tamatieslaai.
3) Gebruik kappertjiebessies (caper berries) in plaas van die non pareilles kappertjies

scroll

Nog inspirasie uit die suide van Frankryk

Provensaalse skaapskenkel
Pissaladière

lekker saam met

My keuse hierby is DeMorgenzon se Garden Vineyards Rosé. Kultivars wat ons vereenselwig met die suide van Frankryk word gebruik om hierdie kraakvars rosé te maak. Dit bevat 54% Grenache, 36% Shiraz en 10% Mourvédre. Op die neus is daar die verwagte kersie en aarbei. Op die tong sappige somer vrugteslaai asook ’n delikate spesery en blom ondertoon.

Dis ’n lieflike somerwyn plus (en ja, ek weet dit maak nie verskil aan die smaak nie) ek’s eenvoudig dol oor die bottel! Teen tyd van publikasie aanlyn beskikbaar vir R75.

DeMorgenzon

scroll-main

Ook beskikbaar in: English