Die sielkunde van bemarking is redelik eenvoudig. Gee my ’n ‘deal’ en ek’s daar soos ’n brommer by ’n piekniek. Meeste van ons is seker maar so. ‘Spaar’ is goed, ‘halfprys’ beter en ‘gratis’ fantasties. Maar my gunsteling is sekerlik ‘NUUT’. Slat ’n stickertjie met dié woord op ’n bottel of ’n boks en dat ek hom gaan koop is ’n feit soos ’n koei.

So toe ek onlangs in Woolies rondsnuffel vir inspirasie en ’n bottel suurlemoensmeer (lemon curd) sien met sy groen plakkertjie wat ‘nuut’ uitbasuin, wel, jy weet wat volgende gebeur het.

Suurlemoensmeer is half ’n Engelse ding as jy my vra. My kinderdae was nie juis daarmee gevul nie. En wat ’n jammerte, want maak jy jou oë toe proe dit vir my nes kondensmelk met ’n parmantige skeut suurlemoen. Suur-soete sitrus verleiding. Ek skep dit op plaatkoekies, op botterbroodjies met ’n leksel room, gebruik dit as vulsel vir sponskoek en eet dit sommer net so op sy eie uit die bottel, sonder om skuldig te voel. Tuisgemaak is beter, dis mos altyd. Maar wie’t nou die tyd? Ek doen die winkel ding en ek moet sê die een van Woolies is die beste winkel ene wat ek nog teëgekom het (en hulle betaal my NIE om dit te sê nie).

En soos ek nou maar is, wonder ek wat ek nog daarmee kan doen. Hoekom nie roomys nie? Drie bestandele, drie minute se werk, drie ure in die vrieskas. Kannie makliker nie en dis liplek lekker.

Al wat jy nodig het is…

250ml vars room
250ml volroom melk
325g suurlemoensmeer (lemon curd)

Gooi alles in ’n groot mengbak en klits tot dit goed gemeng is. Gooi in ’n bak wat gepas is vir die vrieskas. (Ek’t myne in my ouma se antieke silwer vergulde bak gevries, tog te fraai vir gaste.) Haal uit na 30 minute en roer en doen weer so na 60 minute om enige yskristalle op te breek. Die roomys behoort kliphard te vries binne 3 ure. Bedien roomys met ekstra suurlemoensmeer en skuimpies (hemels) of met vrugteslaai. Sien GOED OM TE WEET hieronder vir ’n paar vrugteslaai idees.

bedien

6-8

vooraf

3 min

vries

3 ure

scroll-main

goed om te weet

Vrugteslaai

Jy kan die outydse roete volg en enige vrug fyn sny en, sommer vir die lekker, ‘n kan perskes of koejawels met al die stroop ook bysit. ‘n Skeppie vla, roomys en die wêreld is heel gaaf. Maar as jy bietjie fênsier wil wees, beperk jou kleurskema. Kies twee kleure en hou daarby vir ‘n vrugteslaai wat elegant genoeg is vir jou baas en jou skoonma.

Blou en rooi vrugteslaai: Bloubessies en aarbeie
Rooi en geel vrugteslaai: Frambose en geel perskes
Geel en groen vrugteslaai: Kiwi, pynappel en grenadella

lekker saam met

Dis nie asof ek elke dag poeding eet nie en, as ek doen, is dit nie asof ek gewoonlik iets daarby drink nie. Maar kom ons neem aan jy het hierdie roomys in jou ouma se silwer erfstuk gemaak en kom ons neem aan jy probeer die baas beïndruk. Dan’t jy borrels nodig.

Die Bruwers van Robertson wat nou al vir drie geslagte op die Bon Courage landgoed woeker se reeks Jacques Bruére MCC vonkelwyne is sommer heel gaaf en effe ongewoon.

Jacques

scroll-main

Ook beskikbaar in: English